
FeesMustFall-veldtog kan transformerend wees - regter Sisi Khampepe
Die FeesMustFall-veldtog kan transformerend wees mits studente, die regering en universiteite bereid is om sinvolle wyse met mekaar in gesprek te tree ten einde blywende oplossings te vind.
Só het Regter Sisi Khampepe van die Konstitutionele Hof op Donderdag (6 Oktober 2016) gesê. Sy het die 12de jaarlikse Menseregte-lesing van die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch (US) gelewer.
Khampepe het gesê studente, die regering en universiteite moet ten spyte van onderlinge verskille met mekaar praat omdat sinvolle interaksie as ʼn transformerende proses dit vereis. Sy het bygevoeg dat transformasie sonder sinvolle interaksie slegs leë retoriek is.
"Sinvolle interaksie bemagtig individue om op konstruktiewe wyse oplossings te vind waarby almal baat."
"Studente se eise vir ʼn verandering in die onderwysbeleid kan slegs transformerend wees as ons sinvolle interaksie toelaat en indien ons bereid is om na ʼn pluraliteit van stemme te luister en ʼn poging aan te wend om aan dié stemme reg te laat geskied."

"Alle betrokkenes moet aan noodsaaklike gesprekke deelneem met die voorneme om blywende oplossings te vind, nie oplossings wat môre se probleem mag wees nie. Ons moet ʼn intense vasberadenheid hê om tot ʼn besluit te kom wat alle belangegroepe tevrede sal stel."
Khampepe het gesê die FeesMustFall-beweging word te dikwels met óf konfronterende retoriek óf leë politieke aanstellerigheid begroet.
Sy het byvoeg dat ons meestal ʼn fout begaan wanneer ons burgerlike misnoeë konfronteer sonder om diegene wat daaraan uiting gee te hoor.
"Die behoefte aan interaktiewe en opregte dialoog is belangrik omdat dit studentebewegings in staat stel om polities te ontwikkel, en omdat studente se griewe nie eenvoudig ongegrond is nie."
Khampepe meen studente se griewe oor fooie moet ernstig opgeneem word, veral in die lig van wat die Grondwet oor opvoeding te sê het.
"Gesien in die konteks van ons Grondwet is opvoeding die lewensaar van ons demokrasie. Die lewenskwaliteit van ons kinders kan slegs verryk word deur ʼn omgewing waarin alle studente opvoeding ontvang."
"Geen student behoort as gevolg van finansiële redes toelating tot ʼn universiteit geweier word nie. Ons sal nie die potensiaal van elke studente kan ontgin as die huidige situasie nie spoedig aangespreek word nie."
Khampepe het die Department van Hoër Onderwys aangeraai om na alle studente te luister en universiteite gemaan om net nie besorgd te wees oor die persentasie waarmee fooie verhoog moet word nie.
Sy het gesê studente moet bereid wees om die praktiese oorwegings van bestuur en die department ernstig op te neem.
"Ons kan vir geen oomblik die verantwoordelikheid op iemand anders afskuif of ons hande in onskuld was nie," het Khampepe gesê.
- Foto 1: Regter Sisi Khampepe lewer die Menseregte-lesing.
- Foto 2: Regter Khampepe saam met prof Sandy Liebenberg van die US se Fakulteit Regsgeleerheid, Albie Sachs, voormalige regter van die Konstitusionele Hof, prof Sonia Human, Dekaan van die US se Fakulteit Regsgeleerheid, en prof Geo Quinot van die US se Fakulteit Regsgeleerdheid by die lesing.
- Fotograaf: Anton Jordaan