Skip to main content
Fanie sien uit na nuwe uitdagings

Fanie sien uit na nuwe uitdagings

Pia Nänny
11 September 2016

​​* Die Maties Parasport-atleet Fanie van der Merwe het Sondag brons gewen in die 100m (T37) by die Paralimpiese Spele in Rio. Hierdie profiel is geskryf as deel van ’n reeks oor Stellenbosch-sportambassadeurs.

Die Paralimpiese Spele gaan nie net oor helder kleure, juigende skares, oorwinnings en medaljes nie.

Iewers op die baan tussen die wegspring en die wenstreep, net buite die kalklig wat op die wennerspodium gefokus word, in die hart van 'n atleet alleen in sy kamer, is daar dikwels 'n stryd teen vrees, die swaar dra aan verwagtinge en bloot die versugting om goed genoeg te wees – met of sonder 'n medalje.

Wanneer Fanie van der Merwe aantree vir die T37 100m-naelloop in Rio, die laaste keer in sy Paralimpiese loopbaan, doen hy dit as iemand wat die vreugde van oorwinning én die bitter smaak van verloor ervaar het.

Hy doen dit as 'n atleet wat teen vrees en teleurstelling moes veg en wie se atletiekloopbaan, wat drie Paralimpiese goue medaljes insluit, hom as mens en sy verhouding met God op 'n baie besonderse manier gevorm het.

Fanie, wat serebraal gestrem is, het nooit gedink sport vir gestremdes sou sy loopbaan word nie.

"Ek was altyd baie geaffronteer as mense sê ek is gestrem. Ek was mal oor sport en het gevoel my gestremdheid hou my terug – dit was amper soos 'n vloek.

"Maar toe wys die Here vir my dat die ding wat ek gedink het my verhinder om my volle potensiaal te bereik, inderwaarheid die ding is wat deure oopgemaak het. Die vloek was eintlik 'n seën."

In 2006, as eerstejaarstudent in Sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, het Fanie deel geword van 'n kerngroep atlete wat vir die Paralimpiese Spele in Beijing in 2008 voorberei het. Hy het sy Paralimpiese loopbaan met 'n knal begin deur die 100m en 200m in die T37-klas te wen.

Hy het plaaslike gunsteling Ma Yuxi  geklop om die 100m-kroon te verower en kon daarin slaag om die opponente in die 200m agter te laat, hoewel hy die laaste 50 meter van die resies baie spasties geword het en sy ritme begin verloor het.

"Op daardie dag het 'n vriend vir my 'n boodskap gestuur dat God my voete sal oplig," onthou hy.

Spastisiteit is een van die grootste struikelblokke vir 'n atleet wat serebraal gestrem is – wanneer die spiere styf word, saamtrek of onwillekeurig in spasma gaan. Spanning vererger die situasie.

Fanie het dit op die ergste moontlike tydstip ervaar.

Hy was die eerste Suid-Afrikaanse atleet wat by die Paralimpiese Spele in Londen in 2012 op die baan sou verskyn. Hy was die verdedigende kampioen, die wêreldrekordhouer in die 200m en die gunsteling om te wen. Vir die eerste 150 meter van die wedren was hy voor.

In die laaste 50m het vyf atlete hom verbygesteek.

"Dit was waarskynlik een van die moeilikste dinge wat ek ooit moes verwerk. Daar was soveel verwagtinge en ek het gevoel ek het mense teleurgestel."

Daardie aand het die resies deur sy kop gemaal – oor en oor en oor.

"My hele lewe smag ek daarna dat mense my aanvaar vir wie ek is. Ek het gedink ek moet presteer om aanvaarding te verdien. En toe besef ek: Ek hoef nie te presteer om God se liefde te verdien nie – Hy het my in elk geval lief. Hy het my heelgemaak en my vrede gegee."

Toe Fanie vir die 100m aantree, het hy dit gedoen met die wete dat hy met vryheid kon hardloop, sonder druk.

In die laaste 10 meter was hy en Liang Yongbin van China sy aan sy. Hy het besef dat 'n vooroorbuig by die eindstreep nie genoeg gaan wees nie. Toe duik hy … en wen goud.

"Ek was so dankbaar vir die hele ervaring. Ek sou dit nie enige ander manier wou hê nie. Dit was vir my 'n groot deurbraak."

Sy droom vir Rio is om sy alles te gee en sy beste te doen.

"Hierdie jaar was vir my 'n bonus en ek is baie dankbaar vir alles wat ek bereik en ervaar het. Ek wil hierdie laaste geleentheid aangryp. Die uitslag is nie belangrik nie. As ek nie suksesvol is volgens wêreldstandaarde nie, is dit ook goed. Ek het vir die Here gesê: Mag my atletiek wees wat u wil hê dit moet wees."

Fanie sal ná die Paralimpiese Spele uittree.

"Ek het 'n goeie loopbaan gehad, maar dit is tyd om aan te beweeg. Ek rig sedert 2010 af en wil meer tyd daarin belê. Die behoefte is groot en die mense min. Ek wil ander mense help om hul droom te verwesentlik."

Hy sien uit daarna om die geleenthede vir sportbediening te ondersoek. Hy en sy broer Chris het Inspired2Become (I2B), 'n NRO wat hom op jeugontwikkeling toespits, in 2010 begin. Fanie rig af en tree as mentor op terwyl Chris, 'n professionele inlyn-lemskaatser, kinders leer rolskaats, skaatsplank en branderplank ry. Die I2B-skaatspark is in Somerset-Wes.

Fanie is ook 'n lid van die Stellenbosch Sportambassadeurs-inisiatief.

"Om met jong mense te werk, is my passie. Ek wil die ondervinding wat ek oor die jare opgedoen het en hoe dit my verhouding met God gevorm het, deel."

Foto: Fanie van der Merwe wil nou meer tyd daaraan bestee om ander atlete af te rig.