
Fakulteit verwelkom nuwelingstudente
Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe verwelkom vanjaar sowat 1 500 nuwelingstudente by die fakulteit.
Die gewildste van die Fakulteit se 14 voorgraadse programme is die rekeningkundeprogramme – BRekeningkunde, BCom (Bestuursrekeningkunde) en BCom (Finansiёle Rekeningkunde) – en die 4-jaar BCom-graad in Internasionale Besigheid. Laasgenoemde is 'n baanbreker in voorgraadse besigheidsopleiding en sluit 'n uitruiltydperk van ses maande by 'n universiteit in die buiteland in. Dit is 'n unieke program in Suid-Afrika en net 30 studente per jaar word toegelaat.
Die Fakulteit se verwelkomingsprogram het op Donderdag, 24 Januarie afgeskop toe studente se ouers die geleentheid gehad het om die dekaan, prof Ingrid Woolard, te ontmoet. Daar was verder 'n inligtingsessie vir al die Fakulteit se eerstejaars, terwyl oriёnteringsessies by die JS Gericke Biblioteek, akademiese en rekenaarregistrasie ook op die program is. Dit verseker dat nuwelinge die fakulteitsomgewing leer ken.
- Foto: Die Fakulteit se eerstejaarstudente het Vrydagoggend, 25 Januarie 2019, 'n inligtingsessie in die Kruiskerk bygewoon.