Skip to main content
Epidurale aanbod neem binne twee jaar viervoudig toe

Epidurale aanbod neem binne twee jaar viervoudig toe

Mandi Barnard
09 September 2016

​Epidurale verdowing het gedurende die afgelope dekade ʼn gewilde en doeltreffende vorm van pynverligting tydens bevallings geword. Hierdie diens is egter nie geredelik beskikbaar by staatshospitale in Suid-Afrika nie, waar natuurlike bevallings met die minimum ingrypings aan die orde van die dag is.

Spesialiste by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) en Tygerberg-hospitaal (TBH) het die behoefte raakgesien om die verloskundige epidurale diens wat by die TBH aangebied word, uit te brei tot voordeel van die pasiënte en om spesialiste beter te kan oplei.

ʼn Nuwe epidurale diens is in Junie 2014 by die hospitaal in werking gestel en sedertdien is meer as 700 epidurale verdowings aan pasiënte toegedien.  Die nuwe diensleweringsmodel het ontstaan onder leiding van Dr Jonathan Burke, ʼn mediese spesialis by die Departement Anestesiologie by die TBH.

In die verlede is daar jaarliks sowat 150 epidurale prosedures aan pasiënte by die TBH toegedien, wat hoofsaaklik toe te skryf was aan ʼn gebrek aan hulpbronne. Die diens was net beskikbaar aan pasiënte wat as gevolg van sekere mediese toestande nie daartoe in staat was om sonder ʼn epidurale verdowing geboorte te skenk nie.

"Ons kan vandag meer pasiënte met ʼn groter verskeidenheid indikasies vir epidurale analgesie (omstandighede waardeur die spesifieke behandeling vir ongevoeligheid vir pyn bepaal word) insluit," sê dr Adele de Goede, ʼn mediese spesialis by die TBH. Pasiënte wat tydens die geboorteproses ʼn epiduraal benodig – en wat nie ingevolge die vorige riglyne gekwalifiseer het nie – het nou ʼn goeie kans om ʼn normale vaginale bevalling te hê as gevolg van die beskikbaarheid van die prosedure. "Dit hou baie voordele vir beide die ma en baba in en verminder ook die aantal keisersneë by die hospitaal."

Die kliniese aanbod in nagraadse opleiding in Anestesiologie is aansienlik uitgebrei met die nuwe diens. Kliniese assistente in die Departement Anestesiologie word tydens die maandlange rotasie by die epidurale diens blootgestel aan ʼn verskeidenheid verloskundige toestande, onder toesig van mediese spesialiste by die departement. "Dit dra by tot omvattende ervaring in hierdie veld," sê De Goede.

Foto: Dr Lauren Joseph, die pasiënt, dr Karen Strauss, sr Elna de Goede, dr Jonathan Burke en dr Justin Kling tydens die toediening van 'n epiduraal.