
Eerlike, oop gesprekke nodig om US vorentoe te neem
Kom ons neem die tyd om na mekaar te luister, om eerlik en openlik met mekaar te praat, en om saam te werk om die Universiteit Stellenbosch (US) vorentoe te vat. Dit was die boodskap aan meer as 'n duisend voormalige Maties wat die jaarlikse vergadering van die US se Konvokasie op Dinsdag (26 Januarie) bygewoon het.

Sprekers by die vergadering was die bekende digter en skrywer, Breyten Breytenbach, US-alumna, Lovelyn Nwadeyi en Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers.
Nwadeyi het die Konvokasie toegespreek oor die beskerming van taal en die gepaardgaande rassedebat en gesê dié gesprekke moet oop en eerlik wees en die deelnemers moet werklik na mekaar luister.
Sy het gesê as Afrikaners veg om die behoud van die taal, moet hulle in gedagte hou dat Afrikaans vele gesigte en sprekers het en dat elke gesig van Afrikaans dus beskerm moet word. Sy het ook verduidelik dat dit nie die funksie van 'n universiteit is om een spesifieke taal of kultuur te beskerm nie. "'n Universiteit moet onderrig verskaf."
Sy het beklemtoon om vorentoe te kan beweeg vir die land is dit belangrik dat alle Suid-Afrikaners moet erken dat die geskiedenis onregverdig was. "In Suid-Afrika, anders as met Duitsers en die Nazi geskiedenis, het ons nie daai konsensus dat 400 jaar van kolonialisme onregverdig was nie. Apartheid was 'n vorm van regstellende aksie waarby baie wit Suid-Afrikaners gebaat het." (Video)
Breytenbach het sy toespraak, Die Koei in die Bosch: die raamwerk waarbinne oor taal besin word, aan Jan Rabie, Ingrid Jonker, Neville Alexander, Sheila Cussons en Piet Philander, opgedra. Hy het gesê maskers moet afgehaal word en daar moet opgehou word om "die verfoeilike Suid-Afrikaanse kuns van dubbelpraat en dubbeldink te beoefen. As ons nie 'n helderheid bevorder omtrent wie ons is en waarnatoe ons wil beweeg nie, word ons gedwing tot onaanvaarbare en beskamende kompromieë wat almal onbevredig laat". (Video)
Prof De Villiers, het gesê die US het ongetwyfeld belangrike kwessies wat dringende aandag nodig het, maar hy is oortuig dat die US 'n sterk fondament het om op voort te bou.
"Ons doen goed wanneer dit kom by die nastrewing van uitnemendheid, ons maak goeie vordering na 'n meer inklusiewe instelling, en ons spreek maatskaplike uitdagings aan," het hy gesê.
Hy het gesê dat die US sal voortgaan om plaaslik relevant en internasionaal mededingend te wees. "Ons reis is onvolledig en onvolmaak, maar ons bly sterk in ons vasberadenheid om vorentoe te gaan. Want dit is die enigste manier om 'n gemeenskap van sosiale geregtigheid en gelyke geleenthede vir almal te skep," het hy gesê.

Hy het gesê die hoëronderwyssektor ondergaan tans vinnige veranderinge, en alle universiteite moet aanpas by nuwe omstandighede, "of anders sal ons stagneer. John F Kennedy het gesê:" Verandering is die wet van die lewe. En die toekoms gaan verby die wat net na die verlede of die hede kyk'".
Prof De Villiers het ook oor die kwessie van taal by Maties gepraat. "Ons taalbeleid kry baie aandag. Sommige vrees dat ons gebruik van Afrikaans kan diegene wat verkies om in Engels te studeer uitsluit en ander vrees weer dat ons gebruik van Engels tot nadeel van Afrikaans is. Die Universiteit is verbind tot veeltaligheid sonder enige uitsluiting. Taal moet nooit 'n struikelblok vir enige student wees nie," het hy gesê. (Video)
In sy toespraak aan die Konvokasie, het die uitgaande president, prof Christo Viljoen, gesê die fokus moet op gelyke taalregte geplaas word en die taaldebat moet nou tot ruste kom. "Ek kry die indruk dat ons meestal bymekaar verbypraat, dat daar meer dinge is waaroor ons saamstem as waaroor ons verskil," het hy gesê.
"Ek hoop dat ons voortaan koöperatiewe en 'n wen-wen benadering sal volg waarin alle belanghebbende partye as wenners uit die gesprekke sal tree. Dat die Universiteit Stellenbosch sal wen, dat sy studente sal wen en dat die twee onderrigtale sal wen. Kom ons gun mekaar die reg om te bestaan en kom ons weerhou ons van 'n "wenner-neem-alles" beheptheid."
Prof Viljoen het voorgestel dat die Universiteitsraad 'n verteenwoordigende paneel van onafhanklike deskundiges aanstel om die kwessie van taal te ondersoek. "Ek glo 'n KODESA-tipe taalberaad moet insluit dat alle belangegroepe verteenwoordig sal wees, om prakties uiting te gee aan die beginsels van gelyke taalregte."
Dinsdagaand se vergadering het ook die verkiesing van die Uitvoerende Komitee van die Konvokasie ingesluit. Die nuwe komitee is Jan Heunis as president, Jacques du Preez as vise-president, dr Nadia Marais is herkies as sekretaris en Sonja Loots en dr Michael Le Cordeur as die nuwe addisionele lede.
- Klik hier vir 'n transkripsie van die Rektor se toespraak, soos gelewer (in Afrikaans en Engels), en klik hier vir 'n Afrikaanse vertaling.
- SR verklaring oor die Konvokasie.
(Fotograaf: Hennie Rudman, SSFD)