
Eenheid vir Gelykwaardigheid vier n dekade-lange venootskap met MIV NPO
Sonder 'n gevoel van omgee kan daar ook geen gevoel van gemeenskap wees nie. Hierdie woorde deur Anthony D'Angelo het goed gepas by die vieringe van Donderdag, 5 Oktober toe die Universiteit Stellenbosch se Eenheid vir Gelykwaardigheid saam met Be Part Yoluntu Sentrum hul 10de bestaansjaar in Mbekweni, Paarl gevier het.
Die sentrum, 'n NPO werksaam binne die Mbekweni gemeenskap, het hul 10de bestaansjaar gevier deur die aanbied van 'n mini-simposium met die tema, Moeilike Gesprekke: Breek die Stilte.
Een van die stigterslede van die sentrum, Dr Lize Hellstrom, het 'n terugblik gelewer oor die afgelope tien jaar en al die struikelblokke en suksesse bespreek. Sy het genoem dat hulle besluit het om die dag anders te vier (met 'n simposium) aangesien daar nog so baie werk is wat gedoen moet word om gemeenskappe in te lig oor MIV-verwante stigma en die mites en onwaarhede rakende MIV en Vigs.
Tydens die symposium was die boodskap baie duidelik dat die huidige dominante mediese respons tot die pandemie hersien moet word. Die sprekers het almal klem daarop gelê dat hierdie response vergesel moet word deur kreatiewe programme en strategieë wat die jeug aanspreek in 'n taal wat hulle verstaan.
Dr James Lees, 'n senior lektor aan die Universiteit van Wes Kaap se Opvoedkunde Fakulteit, het klem daarop gelê dat die “M" in MIV staan vir menslike en dat die epidemie dus net soveel gaan oor elkeen van ons as oor die virus.
Die reis…
Alhoewel Be Part primêr 'n kliniese navorsingssentrum is met die visie om die gemeenskap te bemagtig met kennis oor gesondheid en welwees, deel dit ook 'n visie met die Eenheid vir Gelykwaardigheid rakende die bekamping van MIV en Vigs.
Volgens mnr Jaco Brink, Hoof van die Eenheid vir Gelykwaardigheid, is hierdie gedeelde visie juis die hoeksteen van hul dekade-lange venootskap met Be Part. Hy noem verder dat dit een van die Eenheid se langste vennootskappe is. Die vennootskap het klein begin in 2007, en van daar gegroei tot 'n sterk vennootskap wat ook 'n toekenning deur Mail & Guardian ontvang het in die kategorie publieke-private vennootskap inisiatiewe, vir die Na-ure instapkliniekdiens in Victoriastraat, Stellenbosch.
Die Eenheid stuur elke semester 'n groep internasionale studente na Be Part om te help met die ontwikkeling en implementering van 'n gesondheidskommunikasie projek wat bydrae tot hul semesterpunt in die IPSU MIV module.
“Alhoewel ons as die Eenheid vir Gelykwaardigheid die kampusgemeenskap dien besef ons die waarde wat venootskappe kan bied in die lewering van ons kern aktiwiteite en strategiese doelwitte". Volgens Jaco, is hierdie 'n voorbeeld van so 'n vennootskap. Hy het afgesluit deur te sê dat die universiteit 'n gevestigde tradisie van vennootskappe (plaaslik en internasionaal) het sodat die missie bereik kan word en die behoeftes van die gemeenskap wie dit dien bevredig kan word.
Vir meer inligting oor die Eenheid vir Gelykwaardigheid en spesifiek die MIV en gender portefeulje binne die Eenheid klik hier.