Skip to main content
Dissiplinêre stappe oorweeg teen studente na werkersprotes

Dissiplinêre stappe oorweeg teen studente na werkersprotes

Korporatiewe Bemarking / Corporate Marketing
02 Maart 2016

Volgens die sosiale media vind die optog na die Admin B-gebou van die Universiteit Stellenbosch op 3 Maart plaas uit protes teen die beweerde "viktimisering en kriminalisering van swart studente".

Die Universteit Stellenbosch het verlede week briewe aan sewe studente uitgereik in verband met die beskadiging van eiendom en een poging om 'n eksamen te ontwrig gedurende die werkersprotesaksie op 17 November 2015. Die studente is versoek om voor die Sentrale Dissiplinêre Komitee te verskyn, maar hulle het 10 dae om te motiveer waarom hulle nie voor die komitee behoort te verskyn nie.

Die klagte hou nie verband met die #FeesMustFall-veldtog nie. Studente wat aan hierdie veldtog deelgeneem het, het amnestie ontvang. Die beskadiging van eiendom en die poging om 'n eksamen te ontwrig tydens die werkersprotes is ondersoek en gevolglik is die sewe studente versoek om voor die SDK te verskyn.

Die Universiteit Stellenbosch het verlede jaar by verskillende geleenthede die reg van studente en personeel om aan protesaksie deel te neem, erken mits dit nie akademiese en administratiewe aktiwiteite op kampusse ontwrig nie; dat dit nie 'n risiko inhou vir die universiteitsgemeenskap of eiendom nie; en dat dit nie inbreuk maak op die regte van studente om hul klasse by te woon of te studeer nie. ​