Skip to main content
Die Universiteit Stellenbosch verwelkom nuwe Maties

Die Universiteit Stellenbosch verwelkom nuwe Maties

Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
19 Januarie 2017

​Nuwe Maties het op Donderdag (19 Januarie) na Stellenbosch gestroom, om by hul nuwe koshuise en PSO's verwelkom te word. Dwarsoor kampus kon mens sien hoe ouers swaar meubels help dra, of nuwe Maties in helder t-hemde wat die dorp saam met senior studente verken. Die verwelkomingstydperk sal volgende Vrydag eindig met Vensters, waar die nuwelinge die dorp sal vermaak met 'n verskeidenheid kort, opwindende opvoerings.

Sommige van die nuwe studente het van ver gekom om by die Universiteit Stellenbosch (US) aan te sluit.

Dan-Angelus Zembere het al die pad van Zimbabwe gekom om Aktuariële Wetenskap te studeer. Sy ma, Monicah, is ook 'n student by die US – sy is besig om haar PhD in Onderwysbeleid te voltooi.

"Toe ek hier begin studeer het, het ek geweet dit is 'n goeie universiteit vir my seun," sê sy. "In Zimbabwe het ons slegs een universiteit wat Aktuariële Wetenskap aanbied, en hy het nie 'n plek daar gekry nie, al het hy baie goed geslaag met drie onderskeidings. Daarom het ons uiteindelik Stellenbosch gekies." 

"Ek is baie bly om hier te wees, en verwag om gelukkig te wees gedurende my hele kursus," sê Dan-Angelus.

Gherda en Dean Thomson het van Mpumalanga gereis om hul dogter in Minerva-vrouekoshuis te help intrek. Sy begin eersdaags BSc Wiskundige Wetenskap studeer.

Oor hoekom sy Stellenbosch gekies het, sê Monique: “Ek het gehoor hierdie is die beste universiteit vir die kursus wat ek wil studeer. En die kampus lyk baie mooi en veilig.Die amptelike verwelkoming vir nuwe Maties en hul ouers sal vanaand (Donderdag 19 Januarie) om 17:00 by die Danie Craven-stadium met ‘n voorprogram afskop. Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, sal nuweling Maties by die geleentheid toespreek en verwelkom. Dr Birgit Schreiber, Senior Direkteur: Studentesake, sê: “Die Universiteit Stellenbosch streef daarna om ‘n inklusiewe, verwelkomende tuiste vir almal te wees en ons sien daarna uit om nuwe Maties hartlik op kampus te verwelkom. “Ons wens studente ‘n vreugdevolle jaar toe en hoop dat, tesame met die hardwerkende en toegewyde US personeel, ons die jaar met sukses sal voltooi,” het sy bygevoeg.  

Om die verwelkomingsprogram te sien, kliek hier.