
Departement Sportwetenskap vier 80ste verjaardag
Die Departement Sportwetenskap vier op 1 Julie 2016 sy 80ste verjaardag. Prof Floris van der Merwe, buitegewone professor in dié department, vertel meer oor sy ontstaansgeskiedenis:
Nadat Maties Suid-Afrikaanse universiteite-atletiek (Dalrymple-beker) vir vyf jaar oorheers het, moes hulle in 1935 die knie voor die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) gebuig. Die rede agter Wits se sukses daardie jaar was hul deelnemer/afrigter Ernst Jokl.
Paul Roos en prof Ebbie Stegmann het dadelik aan die werk gespring en Jokl oorreed om na Stellenbosch te kom en die eerste departement vir liggaamsopvoeding in Suid-Afrika te kom stig.
Ernst Franz Jokl is op 3 Augustus 1907 in Breslau (Duitsland) gebore en het hom as liggaamsopvoeding-onderwyser en daarna as mediese dokter bekwaam voordat hy en sy vrou in Mei 1933 as Jode die Nazi's ontvlug het en na Suid-Afrika immigreer het. Hy moes 'n addisionele drie jaar se mediese studies ondergaan voordat hy in Suid-Afrika kon praktiseer. Dit was aan die einde van hierdie tydperk dat hy oorreed is om hom by die Universiteit Stellenbosch aan te sluit.
Onderwysdepartemente het op hierdie tydstip uiteindelik die regmatige plek van "liggaamsopvoeding" erken en die term "sport" het teen hierdie tyd ook 'n breër betekenis gekry. Dit het gelei tot die behoefte aan 'n meer wetenskaplike benadering en Jokl se kwalifikasies het aan die vereistes voldoen. Prof Stegmann en die rektor, prof RW Wilcocks, het daarin geslaag om die geld vir Jokl se aanstelling by die Carnegie Corporation te kry en hy het op 1 Julie 1936 by die Universiteit Stellenbosch aangesluit.
Jokl sou aanvanklik 'n drie jaar lange diplomakursus aangebied, maar universiteitsowerhede het bevind dat die kursus nie haalbaar was nie. Jokl het toe in 1937 begin met 'n een jaar lange sertifikaatkursus. 'n Erkende onderwyssertifikaat was 'n voorvereiste vir die kursus, maar dit was ook moontlik vir voorgraadse studente om die kursus deeltyds te doen terwyl hulle besig was met hul graad.
Afgesien van die opleiding van LO-onderwysers, het Jokl smiddae op Coetzenburg fiksheidsklasse vir groepe van 200 tot 300 studente aangebied. Personeel, selfs die rektor, het ook hieraan deelgeneem en hierdie aktiwiteite is "jokkel" gedoop.
Hoewel Jokl die universiteit aan die einde van April 1937 verlaat het, het die naam vasgesteek totdat dit in die laat 1970's of vroeë 1980's deur "MBK" (afkorting vir die nuwe naam "Menslike Bewegingskunde") vervang is.
- Die Departement Sportwetenskap het tans 338 voorgraadse, 79 nagraadse en 11 PhD-studente.