Skip to main content
Dekaan vereer vir sy bydrae tot bewysgebaseerde gesondheidsorg

Dekaan vereer vir sy bydrae tot bewysgebaseerde gesondheidsorg

FMHS Marketing & Communications
19 Oktober 2016

​Die Afrika-streek se "vader van bewysgebaseerde gesondheidsorg" is wat die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (MNR) vir Prof Jimmy Volmink, Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, genoem het toe hulle hom onlangs bekroon het met  'n toekenning vir "Uitstekende Prestasies met Bydraes tot Bewysgebaseerde Gesondheidsorg in Afrika".

"Volmink is 'n internasionaal-erkende navorser, leier, mentor, kritikus en onderwyser in kliniese epidemiologie en bewysgebaseerde gesondheidsorg," het die MNR in hul aanbevelingsverklaring gesê. Volmink is die stigtingshoof van die eerste Cochrane-sentrum in Afrika. (Cochrane is 'n groep wat inligting versamel en opsom oor die beste navorsingsbewyse in gesondheid om gesondheidsberoepslui te help om ingeligte besluite te maak oor behandeling.)

"Volmink was nooit bang om die aanvaarde norme en doktrines uit te daag nie. Byvoorbeeld, sy sistemiese oorsig van die bewyse oor Direk-geobserveerde Terapie vir Tuberkulose en die Voorkoming van Moeder tot Kind Oordrag van MIV was in direkte teenstelling met Suid-Afrikaanse gesondheidsbeleide van die tyd, en het die kompleksiteit van beleidmaking ten spyte van die beste bewyse uitgelig," het die verklaring gelui.

"Sy werk is onderskryf deur die missie van Cochrane Suid-Afrika wat lui dat besluitneming oor gesondheidsorg in Afrika ingelig moet wees met die beste beskikbare bewyse. Hy het ook baie navorsers ondersteun om navorsing van 'n hoë gehalte te doen en het beleidmakers in Suid-Afrika en die streek bygestaan om die nodige vaardighede te ontwikkel om navorsingsbewyse doeltreffend aan te wend."

Foto: Stefan Els