
Chirurg hardloop vir pasiënte se waardigheid
"Ek help al vir baie jare lank borskankerpasiënte met my hande,"sê dr Karin Baatjes, 'n chirurg aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). "Maar hierdie jaar gaan ek dit met my voete doen!"
Baatjies is 'n kranige hardloper en het onlangs haar 42ste verjaarsdag gevier. Sy het besluit om 'n volle maraton (42,2km) aan te durf om R42 000 in te samel vir Reach for Recovery se Ditto-projek wat eksterne borsprosteses verskaf aan vroue wat hulle borste weens kanker moes laat verwyder.
"Ek wil die twee passies in my lewe - chirurgie en hardloop - kombineer vir 'n goeie doel," sê Baatjes wat die afgelope 11 jaar ook 'n borskanker-chirurg by die Tygerberg-hospitaal is. Sy gaan op 23 April 2016 die Weskus-maraton aandurf.
"Die Ditto-projek gee vroue die geleentheid om hulle vroulikheid te herwin na 'n mastektomie deur vir hulle eksterne bors-prosteses van silikon te gee - want alle vroue kan dit nie bekostig nie."
Reach for Recover is 'n internasionale borskanker-ondersteuningsgroep, wat deur mense wat borskanker oorleef het bestuur word. Dit bestaan uit vrywilligers wat hulle tyd gee om emosionele en praktiese ondersteuning te bied aan pasiënte in beide die privaat- en openbaregesondheidstelsels regoor die land.
Die projek het reeds al meer as R20 000 ingesamel van plaaslike en internasionale skenkers. "Dit word als moontlik gemaak deur die welwillendheid en goedhartigheid van skenkers," sê Baatjes.
Verlede jaar het sy R54 000 ingesamel om reënbaatjies en sokkies te koop vir 1200 leerders by die Rosendal Primêreskool in Delft, Kaapstad.
Volg Baatjes op Faceboek, Instagram en Twitter of skenk hier.