
Chemie-studente presteer by APA internasionale konferensie
Drie chemie-studente van die Universiteit Stellenbosch het goed gevaar tydens die Asiese Vereniging vir Polimere (Asian Polymer Association) se jaarlikse konferensie wat van 5 tot 7 September in Mauritius gehou is.
Inge Weideman, 'n MSc student onder prof. Rueben Pfukwa, het die tweede plek behaal vir haar navorsingsplakkaat getiteld: "Organocatalytic anionic polymerisation of o-phthaladehyde: effect of catalyst on polymer microstructure", terwyl Phd-studente Welmarie van Schalkwyk en Ingrid Heyns die derde plek gedeel het in die mondelinge voordragkompetisie wat deur Springer georganiseer is.
Die konferensie het hoofsaaklik gehandel oor gevorderde polimere, biomateriale, bio-ingenieurswese en die gebruik van nanotegnologie in die aflewering van geneesmiddels
Die studente is almal lid van prof. Bert Klumperman se navorsingsgroep in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap. Prof. Klumperman is ook die houer van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel (SARChI) in Gevorderde Makromolekulêre Argitekture.
Prof. Klumperman het 'n navorsingsartikel voorgedra wat handel oor nuwe ontwikkelings op die gebied van navorsing op poli(stireen-ko-maleïen anhidried), terwyl prof. Albert van Reenen se navorsingsartikel gefokus het op die inwerkingstelling van kommersieel vergkrygbare polimere vir biomediese toepassings.
Op die foto van links na regs: Prof. Bert Klumperman, Welmarie van Schalkwyk, Inge Weideman en Ingrid Heyns. Foto: Divann Robertson