Skip to main content
Boodskap van die Dekaan - 12/10/2016 (FGGW)

Boodskap van die Dekaan - 12/10/2016 (FGGW)

Prof Jimmy Volmink
13 Oktober 2016

Beste Kollegas en Studente

Ek is bewus daarvan dat die situasie op kampusse landwyd vir baie van ons studente en personeel kommerwekkend is. Die Bestuur van die Fakulteit en die Universiteit is gemeenskaplik daartoe verbind om die probleme in die hoëronderwyssektor aan te spreek en is dus in voortdurende gesprekvoering met ʼn verskeidenheid rolspelers betrokke.

Ons wil ons opregte dankbaarheid uitspreek teenoor personeel en studente vir u begrip en ondersteuning in hierdie moeilike tyd. Weens die nasionale situasie is daar ʼn groter sekerheidsteenwoordigheid en bykomende sekerheidsmaatreëls op ons kampus, soos ook op ander kampusse. Ons het begrip daarvoor dat dit ontstellend mag wees, maar dit is noodsaaklik om te help verseker dat ons kliniese dienste, onderrig en navorsing kan voortgaan en dat alle studente in staat gestel kan word om hulle akademiese programme in 2016 te voltooi.

Ons ondersteun die strewe na gelyke toegang tot relevante hoëronderrig van ʼn hoë gehalte ten volle en bly verbind tot die ideaal om ʼn inklusiewe, mensgesentreerde kampusomgewing te skep waar alle menseregte gerespekteer word. Ons ondersteun die reg tot vreedsame protes wat nie inbreuk maak op die regte van ander en nie lei tot leed of skade nie.

Ek wil u ook graag herinner aan die volgende dienste wat beskikbaar is en relevante en beleide:

  • U kan enige voorvalle van diskriminasie, intimidasie, misbruike of viktimisering aan die US se Eenheid vir Gelykwaardigheid aanmeld deur ʼn e-pos te stuur na [email protected].
  • Ons Fakulteit se Gelykheidskampioene is beskikbaar om met studente en personeel te gesels indien hulle bekommerd is oor moontlike onregverdige behandeling. Ons Gelykheidskampioene kan ook leiding bied aan lede van die Tygerberg-gemeenskap oor waar hulle verdere hulp kan kry. Meer inligting is hier beskikbaar.
  • Die Universiteitsraad het onlangs ʼn nuwe Beleid oor Onbillike Diskriminasie en Teistering aanvaar wat op personeel en studente van toepassing is. Die nuwe beleid vervat beide die vorige beleid oor seksuele teistering sowel as nuwe riglyne om diskriminasie te bekamp en is gemik daarop om ʼn beter kampuskultuur te vestig. U kan hier meer oor die beleid en ander verwante dokumentasie lees.

Ek wil ook graag u aandag vestig op twee onlangse mediaverklarings oor die opleiding van gesondheidsorgwerkers en die verskaffing van gesondheidsorgdienste, wat onderskeidelik deur die Raad vir Gesondheidsberoepe en die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging uitgereik is. Hierdie verklarings handel spesifiek oor die implikasies van die huidige toestand van onsekerheid vir gesondheidsorg in Suid-Afrika.

Weereens baie dankie vir u ondersteuning. Ek en my span sien uit na verdere geleenthede om met u te skakel en te gesels.

Vriendelike groete

Prof Jimmy Volmink Dekaan