
Boekbekendstelling: Bernard Lategan
Die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie binne die Fakulteit Teologie, US het onlangs 'n bundel opstelle, Hermeneutics and Social Transformation deur Prof Bernard Lategan bekendgestel.
Suid-Afrika is 'n goeie voorbeeld waar sosiale transformasie op groot skaal plaasvind. Bestaande waardesisteme disintegreer of is onder ernstige bedreiging. 'n Nuwe openbare etos tree na vore, hoewel die kontoere van so 'n etos nie duidelik omskryf is nie.
Teologie het baie om te leer, maar ook baie om te gee tot die ontwikkeling van 'n funksionele openbare etos en 'n gesonde burgerlike samelewing. As die pragmatiese bedoeling van Nuwe-Testamentiese tekste ernstig beskou word in die moderne konteks, lewer die studie van hierdie dokumente inderdaad 'n belangrike bydrae tot die proses van sosiale transformasie.
Bernard Lategan bly een van die mees gerespekteerde openbare intellektuele in SA. Hy het sy doktorale studie in Nederland voltooi, het gedien as professor in Nuwe Testament by UWK (1969-1977), en lesings gelewer by verskeie Suid-Afrikaanse en Europese universiteite in antieke tale, linguistiek, literatuur en teologie. Lategan was professor in Bybelkunde aan die US van 1978 -1991.
Voor sy aftrede in 2009, was hy die stigter en eerste direkteur van STIAS. Hy is bekroon met 'n eredoktorsgraad in Filosofie aan die US in 2009.
Die publikasie is deur Sun Press uitgegee en beskikbaar teen R275 by Marita Snyman, E-pos: [email protected].