Skip to main content
Atlete beïndruk met goeie prestasies in Stellenbosch

Atlete beïndruk met goeie prestasies in Stellenbosch

Maties Sport / Varsity Sports
08 April 2016

​Donderdag se Varsity Atletiek-finaal in Stellenbosch het as ’n voorsmakie gedien vir wat die skare volgende week by die SA Senior Baan- en Veldkampioenskap kan verwag.

Die land se topatlete sal mik vir nasionale titels en Olimpiese kwalifiserende tye en afstande by die nasionale kampioenskap wat van 15-16 April op Coetzenburg plaasvind.

As daar ooit enige twyfel was dat die mans se verspringkompetisie een van die sterkste atletiekitems in Suid-Afrika is, het Ruswahl Samaai van UJ dit bevestig met sy sprong van 8,20 m by die Varsity Atletiek-byeenkoms op 7 April. Samaai en sy mede-verspringers van UJ, Dylan Cotter (7.76m) en Peter Makgato (7.48m), het die podium oorheers en gewys dat daar 'n groot stryd sal wees vir beskikbare Olimpiese plekke.

Nog 'n atleet wat vir groot opwinding gesorg het, was die NWU-Pukke-atleet Caster Semenya, wat die 400m in 'n tyd van 53.16s gewen het. Semenya het haar oog op vinnige tye in die 400m en 800m by die nasionale kampioenskap.

Maties se Justine Palframan, wat die 200m gewen het by die vorige Varsity Atletiek-kompetisie in Johannesburg, moes uit die 400m onttrek weens 'n besering. Maties se Shaun de Jager het die 400m vir mans egter teen sterk kompetisie in 'n tyd van 46.35s gewen.

Die "wraakstryd" tussen Gezelle Magerman (Tuks) en Jean-Maré Senekal (Maties) in die 400m hekkies het vir groot opwinding gesorg met skaars 'n halwe sekonde tussen die twee atlete. By die kompetisie in Johannesburg op 18 Maart, het Magerman voor die laaste hekkie effe gestruikel, maar hierdie keer het sy as oorwinnaar uit die stryd getree en die wedloop in 58.52s gewen teenoor Senekal se 58.86s.

Ander podiumhoogtepunte vir Maties sluit in: Karla Bronn (silwer – hoogspring), Cameron Donkin (silwer – diskus), Janke van Wyk (silwer – 100m hekkies), Kwezi Mtoba (silwer – driesprong), Marcel Maree (brons – hoogspring), Nienka du Toit (brons – gewigstoot) en Samantha Pretorius (brons – verspring).

Die vroue-aflosspan van Senekal, Van Wyk, Shannon Arendse en Pretorius het tweede gekom in die 4x100m-aflos.

Die Universiteit van Pretoria het die Varsity Atletiek-kompetisie sedert die begin oorheers. In 2015 het hulle die titel met Pukke gedeel. Vanjaar was UJ egter tops met 'n totaal van 15510 punte. Tuks het 15298 punte behaal en Pukke 15173 punte.

Fotokrediet: Stefan Els