
Aktuele kwessies by tweede Schroders-beleggingsimposium bespreek
'n Aanbieding oor die baie aktuele onderwerp van "Die integrering van politieke risiko in batetoewysing" het die tweede beleggingsimposium deur gasheer Schroders, 'n wêreldwye batebestuurfirma, in samewerking met die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap by die Universiteit Stellenbosch (US) afgeskop.
Ná die sukses van die eerste beleggingsimposium wat verlede jaar aangebied is, het verteenwoordigers van die batebestuurbedryf in Suid-Afrika in Stellenbosch byeengekom vir Schroders se 2017 Institusionele Beleggingsimposium.
Hierdie simposium is een van die inisiatiewe wat voortspruit uit 'n ooreenkoms tussen die US en Schroders se afdeling vir Multi-batebeleggings en portefeulje-oplossings (MAPS). Die ooreenkoms sluit ook nagraadse beurse en navorsingsamewerking in.
Internasionale kundiges het die ontwikkelings en uitdagings waardeur batebestuurders in 'n vinnig veranderende bedryf in die gesig gestaar word op Dinsdag 28 Maart met bedryfsverteenwoordigers en op Woensdag 29 Maart met nagraadse studente bespreek.
Tydens haar aanbieding oor die impak van politieke risiko het Remi Olu-Pitan, fondsbestuurder by Schroders, verduidelik dat die uitwerking van politieke skokke groot is wanneer globale groei laag is.
"Ons kan nie politieke risiko ontduik nie – ons moet dit by ons beplanning insluit," het sy gesê.
Prof Willie Conradie van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap, wat verantwoordelik was vir die koördinering van die ooreenkoms aan die US se kant, het gesê dit was besonder waardevol vir akademici sowel as batebestuurders in die bedryf om na die verskillende sprekers te luister en by hul kennis en ondervinding te baat.
"Dit was ook vir ons nagraadse studente in Finansiële Risikobestuur, Aktuariële Wetenskap en Finansiële Ontleding 'n groot voorreg om by hierdie internasionale kundiges kers op te steek en met hulle skouers te skuur," het hy bygevoeg.
Prof Wim de Villiers, Rektor en Vise-kanselier van die US, het die seminaar geopen en gesê die vlak van belangstelling in hierdie inisiatief dui daarop dat daar 'n duidelike behoefte is aan samewerking van hierdie aard wat die akademiese wêreld en die privaatsektor in openbare belang bymekaarbring.
Hy het spesiale melding gemaak van die finansiële bystand in die vorm van 40 nagraadse beurse.
"Twee weke gelede het die US die 2016 akademiese jaar afgesluit met die toekenning van 'n rekordgetal van 8 339 kwalifikasies. Mense is geneig om te dink dat die US 'n ryk universiteit is, maar 'n derde van ons mees onlangse graduandi het een of ander vorm van finansiële hulp ontvang."
Prof De Villiers het die wedersydse voordelige vennootskapmodel tussen Schroders en US geloof omdat dit die bedryf en akademiese kundiges verenig om saam te werk aan navorsing wat sowel akademiese kennis uitbrei as die lewering van beleggingsuitkomste deur professionele beleggers verbeter.
"Dit is inspirerend om deel te wees van so 'n toekomsgerigte inisiatief," het hy gesê.
Gavin Ralston van Schroders het gesê hulle is baie trots op hul verbintenis met die US.
"Ons waardeer terdeë die belangrikheid van die verbreding van toegang tot onderwys. Ons is baie trots op wat ons tot dusver bereik het."
Foto: Nagraadse beurshouers saam met van die belangrikste rolspelers wat deel vorm van die ooreenkoms tussen Schroders en die US.
Fotograaf: Anton Jordaan