
Akademikus Lis Lange aangestel as spesiale adviseur: leer en onderrig by die US
Die hoogaangeskrewe akademikus prof Lis Lange is as spesiale adviseur vir die Universiteit Stellenbosch (US) se Viserektor: Leer en Onderrig, prof Deresh Ramjugernath, aangestel.
Die pos is geskep om akademiese vernuwing by die Universiteit te lei. “Professor Lange, 'n bekwame akademikus en 'n voormalige viserektor in leer en onderrig, beskik oor 'n skat van kennis en kundigheid op hierdie gebied," het Ramjugernath gesê.
Lange was Viserektor: Akademie by die Universiteit van die Vrystaat voordat sy in 2018 as Viserektor: Leer en Onderrig by die Universiteit van Kaapstad aangestel is.
Sy het 'n honneursgraad in geskiedenis aan die Universiteit van Buenos Aires, 'n MA in Afrikastudies by El Colegio de Mexico en 'n PhD in geskiedenis aan die Universiteit van die Witwatersrand behaal. Haar navorsing het grootliks op transformasie in die hoër onderwys, veral op 'n kurrikulêre vlak, gefokus.
Lange het in reaksie op haar aanstelling gesê sy is besig om haarself van die ingewikkeldheid van die leer-en-onderrig-portefeulje, asook van die US se strategie vir leer en onderrig te vergewis. “Ten opsigte van prioriteite is akademiese vernuwing die belangrikste en dringendste taak op hande. Ek is dus baie bly dat ek genooi is om deel te wees van die US se reaksie op die Khampepe-verslag, aangesien hierdie werk met die algehele projek van akademiese vernuwing en kurrikulumontwikkeling oorvleuel."
Lange is deur 'n strategiese werwingsagentskap vir hierdie gespesialiseerde pos aanbeveel. “Ek is vol vertroue dat prof Lange ons baie sal help om die transformasie van leer, onderrig en assessering as deel van die US se akademiese vernuwingsinisiatief te onderneem," het Ramjugernath bygevoeg.
Foto: Stefan Els