Skip to main content
Afgetrede Direkteur van US Taalsentrum met Festschrift vereer

Afgetrede Direkteur van US Taalsentrum met Festschrift vereer

Susan Lotz
14 Februarie 2018

Op Donderdagaand, 8 Februarie 2018, het die US Taalsentrum ʼn harde kopie van die Festschrift waarmee prof Leon de Stadler vir sy professionele bydrae tot sy vakgebied vereer word, aan hom oorhandig. Die voorblad van die Festschrift is ʼn jaar vantevore al met sy afskeidsfunksie oorhandig, maar die inhoud daarvan het tot dusver vir hom ʼn verrassing gebly. Die US se Botaniese Tuin het gasheer gespeel vir ʼn intieme funksie waar hy saam met sy gesin, die outeurs wat bydraes vir die Festschrift gelewer het en ʼn paar ander spesiale gaste kon bestek neem van nog ʼn dimensie van sy lewe en die waardering wat mense in die vakgebied daarvoor het.

Die Festschrift se inleiding neem ʼn mens ver terug: “In 1972 begin Leon de Stadler se verbintenis met die Universiteit Stellenbosch toe hy as eerstejaarstudent op die kampus aanmeld. Dié verbintenis sou vir meer as vier dekades ononderbroke voortduur – tot en met sy uittrede in Januarie 2017. As student, maar nog meer as dosent en veral as Direkteur van die Taalsentrum het Leon 'n wesenlike bydrae gelewer en 'n onuitwisbare nalatenskap daargestel. Hy het hom onderskei as dosent, navorser, akademiese bestuurder en gewaardeerde kollega. 'n Huldiging deur middel van 'n tydskrif kan nie werklik reg laat geskied aan sy bydrae of aan die rol wat hy gespeel het nie – die studente wat hy opgelei het, die kollegas wat hy geïnspireer het, die navorsing wat hy gepubliseer het en die werk wat hy gedoen het en wat nog voortleef en floreer, is die eintlike huldiging.

Tog wil kollegas in Suid-Afrika en elders met hierdie Festschrift-uitgawe erkenning gee aan dit wat Leon gedoen het en aan die ingrypende invloed wat hy op sy vakgebied, op sy studente, op sy kollegas en medewerkers, op sy departement, op die Taalsentrum en op die Universiteit gehad het. Dié invloed kan min mense hom nadoen."

Twee-en-twintig outeurs, plaaslik en internasionaal, het bydraes in die vorm van artikels of navorsingsnotas gelewer vir die Festschrift. Die dertien artikels wat opgeneem is, is gekeur deur ewekniebeoordeling, terwyl die vier navorsingsnotas ʼn persoonliker aanslag het.

In pas met die bundel se tema, 'Die wisselwerking tussen teorie en praktyk in toegepaste taalkunde', kom nege subtemas na vore. Taalbeplanning kom onder die loep in drie bydraes, naamlik dié van prof Theodorus du Plessis, dr Sabina Schaffner en prof Anton Van Niekerk. Oor opvoedkundige tolking is daar ook drie bydraes, al drie gelewer deur tolke aan die US: een deur Carmen Brewis, een deur Lenelle Foster en Adriaan Cupido, en een deur Jackie Van Wyk en Juanli Theron. Verder word skryfsentrumteorie en -praktyk in Suid-Afrika ook in drie bydraes verteenwoordig – een deur dr Arlene Archer, ʼn tweede deur Sharifa Daniels en dr Rose Richards, en ʼn derde deur dr Pamela Nichols. Prof Adelia Carstens en Ydalene Coetsee besin in twee afsonderlike bydraes oor akademiese geletterdhede aan universiteite, en navorsing oor lees- en verstaanbaarheid kom aan die bod in twee bydraes – een deur prof Carel Jansen, dr Rose Richards en Liezl van Zyl, en ʼn ander deur Susan Lotz. Dan ondersoek prof Ilse Feinauer en dr Amanda Lourens die lojaliteit van die literêre reviseur terwyl prof Rufus Gouws insig bied in die leksikografiese ordening van woordeboeke. Prof Hans Hoeken illustreer narratiewe impak in sy bydrae en ten slotte vestig Alta van Rensburg die aandag op kwaliteitbestuur in die vertaalbedryf.

Die Festschrift het knap voor die afgelope Kersfees verskyn. Die bundel is aanlyn uitgegee as volume 53 (2017) van Stellenbosch Papers in Linguistics Plus (SPiL Plus), ʼn publikasie van die US se Departement Algemene Taalwetenskap. Kyk gerus by http://spilplus.journals.ac.za/pub/issue/view/90 – dit is ʼn geakkrediteerde ooptoegangvaktydskrif sodat enigiemand wat belangstel, daartoe toegang kan hê.