
Advokaat Thuli Madonsela aanvaar leerstoel in sosiale geregtigheid in US Fakulteit Regsgeleerdheid
Die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch kondig met groot genoeë aan dat advokaat Thuli Madonsela, die onlangs uitgetrede Openbare Beskermer van die Republiek van Suid-Afrika, ʼn aanbod aanvaar het om ʼn leerstoel in sosiale geregtigheid in die Fakulteit te beklee.
Advokaat Madonsela het haar betrokkenheid in die Fakulteit bevestig en gesê*: "Dit is werklik ʼn groot eer om hierdie leerstoel in sosiale geregtigheid deur die Universiteit Stellenbosch aangebied te word. Ek hoop om saam met my kollegas in die Regsfakulteit te werk om die tempo ter bereiking van die grondwetlike belofte van ʼn inklusiewe samelewing gegrond op maatskaplike geregtigheid, gedeelde voorspoed, vriendskap en vrede, ter versnel. Ek sien ook daarna uit om saam met jongmense by die Universiteit en verder oor hierdie kwessies te werk."
Prof Sonia Human, Dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, beskryf adv Madonsela se besluit om by die Fakulteit aan te sluit as ʼn geweldige eer vir die Fakulteit. Volgens haar sal die aanstelling ʼn betekenisvolle bydrae maak tot die Fakulteit se voortgesette verbintenis tot die realisering van die grondwetlike visie vir die Suid-Afrikaanse samelewing.
Adv Madonsela sal die leerstoel in 2018 na afloop van ʼn jaar sabbatsverlof opneem. Die leerstoel sal in die breë op kwessies van sosiale geregtigheid, insluitend administratiewe geregtigheid, fokus. Adv Madonsela sal, as bekleër van die leerstoel, steeds krities omgaan met die tematiek wat sinoniem geword het met haar ampstermyn as Suid-Afrika se derde Openbare Beskermer. Dit sluit in etiese bestuur in openbare instellings asook die realisering van die grondwetlike visie vir openbare administrasie gerig op mense se behoeftes, wat verantwoordbaar en deursigtig is en wat die voordelige, ekonomiese en doeltreffende aanwending van hulpbronne bevorder, soos uiteengesit in artikel 195. Benewens haar onderrig- en navorsingstake sal adv Madonsela ook voortgaan met haar betrokkenheid by inisiatiewe vanuit die burgerlike samelewing as deel van die leerstoel se aktiwiteite.
Oor Thuli Madonsela
Thulisile Nomkhosi "Thuli" Madonsela is in Soweto gebore en het die grade BA (Regsgeleerdheid) en LLB onderskeidelik aan die universiteite van Swaziland en die Witwatersrand verwerf. Nadat sy ʼn aantal jaar by hoërskoolonderwys betrokke was, het sy vanaf die middel tot laat 1980's verskeie posisies in die vakbondbeweging beklee. In die 1990's was sy aktief in hoër onderwys, spesifiek aan die Universiteit van die Witwatersrand, waar sy gefokus het op toegepaste regstudies. Sy het gedien as tegniese deskundige in die skryf van die Grondwet en het daarna by die Departement van Justisie aangesluit waar sy onder meer gedien het as Hoofdirekteur Transformasie en Diensbillikheid. Sy was vanaf 2007 ʼn voltydse lid van die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie. Sy is in 2009 aangestel as Suid-Afrika se derde Openbare Beskermer en haar termyn het op 14 Oktober 2016 tot ʼn einde gekom.
Adv Madonsela het eredoktersgrade in die regte ontvang van die universiteite van Stellenbosch, Kaapstad, Fort Hare en die Rhodes Universiteit. Sy is ook die ontvanger van ʼn aantal gesogte toekennings. So was sy byvoorbeeld die eerste ontvanger van die Wetsgenootskap van Suid-Afrika se Waarheid- en Geregtigheidstoekenning; die German Africa Foundation se jaarlikse toekenning en Transparency International se gesogte Integriteitstoekenning in 2014. Hierbenewens was sy ook in 2014 aangewys as een van die tydskrif Time se top 100 mees invloedryke persone ter wêreld.
* In Engels soos van adv Madonsela ontvang: "I am supremely honoured by the offer of the chair in social justice by Stellenbosch University. I hope to work with my colleagues at the Law Faculty to play our part in accelerating the pace of achieving the constitutional promise of an inclusive society based in social justice, shared prosperity, friendship and peace. I am also looking forward to working with young people at the university and beyond on these matters."