
Aanpassings verseker gelykwaardige vergoeding vir vroue
Die Afdeling Menslike Hulpbronne van die Universiteit Stellenbosch (US) sal die besluit van die Rektor se Bestuurspan (RBS) implementeer om die laaste oorblywende gevalle van ongelyke vergoeding tussen mans en vroue op vergelykbare vlakke uit te skakel. Die RBS het die Afdeling se aanbeveling aanvaar dat elk van hierdie vroue terugwerkend vanaf 1 Januarie 2016 pariteitsaanpassings sal ontvang om gelyke vergoedingsvlakke met vergelykbare manlike eweknieë te verseker.
Die Menslike Hulpbronne Komitee van die Universiteitsraad het die Afdeling Menslike Hulpbronne versoek om vanuit ʼn pariteitsoogpunt te bepaal of mans en vroue ten opsigte van vergoeding gelykwaardig behandel word. Ná deeglike ondersoek is bevind dat, as ʼn instelling, die US werknemers gelykwaardig behandel, ongeag geslag of ras.
Die Afdeling Menslike Hulpbronne het egter ʼn beperkte aantal gevalle geïdentifiseer waar vroue nog op ʼn laer vlak as vergelykbare mans op dieselfde posvlak vergoed word. Die Afdeling sal nou die RBS-besluit implementeer – in oorleg met die onderskeie dekane en die hoofde van die Professionele, Administratiewe, Steun- en Diensafdelings.
Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het opnuut die Universiteit se onwrikbare verbintenis tot die gelyke behandeling van alle personeellede beklemtoon. "In die US se voortgesette strewe om die werkgewer van keuse in die Suid-Afrikaanse hoëronderwyssektor te wees, is dít nie onderhandelbaar nie," het hy gesê.