
'Jy kan dit doen!'
Toe Kristin Trout by een van die Universiteit Stellenbosch (US) se Maart-gradeplegtighede oor die verhoog stap om haar BA-graad in Sportwetenskap te ontvang, het sy dit vir haar hele familie gedoen. “Dit het gevoel of ek vir hulle gradueer," sê sy.
Dié 21-jarige van Ottery in Kaapstad, die eerste lid van haar familie wat 'n graad aan 'n universiteit verwerf, sê sy is ongelooflik trots.
Kristin, wat haar graad met die US sowel as die Andreas en Susan Strüngmann-stigting se finansiële bystand voltooi het, sê dit was finansieel moeilik om uit 'n enkelouergesin te kom, maar die beurse het die geldelike druk op haar ma verlig. “Toe ek om toelating aansoek gedoen het, het die US my op grond van my akademie 'n werwingsbeurs aangebied, en ek was ook bevoorreg genoeg om 'n gedeeltelike beurs van die stigting Students for a Better Future (SBF) te ontvang."
Sy sê haar verhouding met SBF het reeds op hoërskool begin toe die stigting vir haar hele hoërskoolloopbaan betaal het. Die SBF-beursprogram is 'n inisiatief van die Andreas en Susan Strüngmann-stigting, wat in 2008 tot stand gebring is om opvoedkundige inisiatiewe te finansier en wat tans op die Wes-Kaap konsentreer. Die stigting se SBF-program bied akademies begaafde studente in finansiële nood die geleentheid om na van die beste hoërskole in die Kaapstad-omgewing te gaan om hulle talente te help ontwikkel.
Juliet Glover, hoof van die SBF-stigting, verduidelik: “Ons ondersteun ongeveer 500 hoërskoolleerders en universiteitstudente in die Wes-Kaap. Die stigting identifiseer en werf beursontvangers in hulle graad 7-jaar en finansier dan die studente deur hulle hele hoërskoolloopbaan. Wanneer die studente op universiteit kom, ken ons hulle reeds ses jaar. En teen die tyd wat die studente gradueer, het ons al 'n pad van tussen nege en tien jaar saamgestap. Ons is ontsettend trots om te sien hoe ons jong volwassenes gradueer en hulle plek in die arbeidswêreld begin vol staan."
Volgens Glover is die stigting se visie dat elke beursbegunstigde hulle plek in die wêreld sal vind, hulle eie families sal kan onderhou en aan hulle gemeenskappe en die samelewing sal teruggee. “En met elke student wat gradueer, kom ons nader daaraan om hierdie visie te verwesenlik."
SBF ondersteun tans 16 Matiestudente en wil graag dié getal verder uitbrei. “Ons is ingenome met ons vennootskap met die Universiteit Stellenbosch en is beïndruk met die steun wat ons studente ontvang. Ons het vanjaar méér studente as in 2017 geplaas en ons sien daarna uit om elke jaar ons getalle aan die US te verhoog," voeg Glover by.
Vir Kristin het die finansiële en emosionele ondersteuning wat sy van die SBF ontvang het haar daardie ekstra hupstoot gegee wat sy nodig gehad het om sukses te behaal. “SBF se betrokkenheid by my hoërskoolonderrig sowel as my tersiêre studie het my geweldig baie gehelp, want dit was asof ek 'n tweede familie se ondersteuning gehad het."
Met haar eerste graad agter haar naam, pak Kristin vanjaar nóg 'n graad aan, en die SBF staan weer gereed om haar te ondersteun. “Ek werk tans aan 'n BSc-graad in Rekenaarwetenskap. My planne vir die toekoms is om hierdie nuwe graad te voltooi en dan iewers te gaan werk waar ek programmering met die sportwetenskaplike gebied kan kombineer. Ek sal graag 'n loopbaan wil volg waar ek my kennis op albei hierdie terreine kan toepas. Ek was weer bevoorreg om gedeeltelike finansiering van die SBF te ontvang en ek's baie dankbaar om te weet hulle ondersteun my vir nóg 'n graad," voeg sy by.
Kristin sê die belangrikste ding wat sy geleer het, is om nooit moed te verloor nie. “Ek het soveel keer gedurende my studie gedink ek sal nooit die mas opkom nie, maar met deursettingsvermoë en harde werk kon ek my doelwit behaal. Ek is ewig dankbaar teenoor my fantastiese familie en almal in my lewe wat in my bly glo het."
Haar raad aan ander jongmense is om daarna te streef om jou bes te doen. “Die lewe kan moeilik wees en jy sal voor baie uitdagings te staan kom, maar as jy jou met mense omring wat jou bemoedig, kan niks jou keer nie. Moenie ophou om in jouself te glo nie, en moenie toelaat dat enigiemand jou geesdrif blus nie. Bly positief, jy kan dit doen!"
- Foto: Vera Schaupp, program-beampte by die Andreas en Susan Strüngmann-stigting, het vir Kristin by haar gradeplegtigheid kom ondersteun. (Fotograaf: Anton Jordaan)