
Familielede vang saam graad by US-gradeplegtighede
Om graad te vang was vanjaar vir 'n paar graduandi van die Universiteit Stellenbosch (US) 'n familie-geleentheid aangesien hulle dié mylpaal saam met gesinslede bereik het.
Anita Jonker en haar seun, Johannes, het nie net hul tesisse op dieselfde dag vroeër die jaar ingehandig nie, maar het nou ook saam graad gevang. Sy het haar PhD in Algemene Taalwetenskap op Woensdag 7 Desember verwerf, en hy het weggestap met sy meestersgraad, cum laude, in Sosio-Informatika, op Donderdag 8 Desember.
Dit het eers gelyk of Johannes sy graad in absentia sou verwerf - hy is tans besig om sy studies voort te sit aan die University College London (UCL) vir 'n verdere MSc-graad in entrepreneurskap.
Maar Johannes het besluit om sy ma te verras deur terug te vlieg Suid-Afrika toe vir die gradeplegtighede, nadat hy haar vertel het hy kan nie die geleentheid bywoon nie.
"Dit was die grootste geskenk wat ek kon kry," sê Anita. "Dit is so spesiaal, omdat ons mekaar vir jare gehelp het en idees uitgeruil het oor ontwikkeling - ons stel albei belang daarin om minder bevoorregte mense te help." Johannes beplan om uiteindelik terug te keer Suid-Afrika toe.
Hoewel my ervaringe in London sover fantasties was, dink ek nie ek sal enige plek anders as Suid-Afrika kan bly in die langtermyn nie. Dis hier waar ek 'n verskil wil maak," sê hy.
Nóg 'n ma en kind wat saam graad gevang het is Dr Pumla Mhlaba en haar dogter Vuyelwa, wat van die Oos-Kaap afkomstig is.
Dr Pumla het haar nagraadse diploma in Huisartskunde op Dinsdag 6 Desember ontvang, terwyl Vuyelwa haar honneursgraad in Rekeningkunde (HonsBRek) op Woensdag 7 Desember verwerf het.
"Dit was 'n lieflike ervaring om saam graad te vang en ek kan nie meer trots op my ma wees nie - sy is ook baie trots op my," sê Vuyelwa. "Ons is nou beide Stellenbosch alumni van 2016, en dit is 'n spesiale band wat ons altyd sal deel."
Vuyelwa gaan in Januarie aanstaande jaar haar praktiese opleiding by PricewaterhouseCoopers (PwC) in Kaapstad begin. Sy beoog om 'n entrepreneur te word en haar eie groep van multinasionale maatskappye te bestuur. Dr Pumla, wat by die Huisartskunde-departement van Dora Nginza-hospitaal werk, beplan om verder te studeer en stel belang in geregtelike geneeskunde. Sy hoop ook om eendag klas te gee in die mediese gebied.
Laastens het die tweelingsusters Francis en Christine Prins gegradueer met honneursgrade in onderskeidelik chemie en onderwys. Hulle is die derde geslag in hul familie om hul grade by die US te verwerf.
Die tweeling sê hoewel hulle verskillende kursusse gevolg en in verskillende koshuise gebly het, het hulle gereeld bymekaar uitgekom om te hoor hoe dit met mekaar gaan, te oefen of te kuier.Hul toekomsplanne is ook reeds in plek. Francis oorweeg tans ’n loopbaan as farmaseutiese verkoopsverteenwordiger in die Wes-Kaap, en Christine sal in 2017 haar onderwysloopbaan by die Laerskool Worcester-Noord begin.Foto (banier): Francis (links) en Christine Prins. Fotograaf: Anton Jordaan
Foto 1: Anita Jonker (links) en Johannes Jonker. Fotograaf: Stefan Els.Foto2: Vuyelwa Mhlaba (links) langs haar ma Dr Pumla Mhlaba (middel) en ouma Barbara Mhlaba, asook haar broers Bandile (onder links) en Nile.