Skip to main content

Huidige studente

Algemene inligting


'n Stelsel van klasverteenwoordigers word binne die Skool as kommunikasiekanaal tussen studente en die dosent/skool gebruik. Jaarliks, aan die begin van die jaar, word twee klasverteenwoordigers vir elke jaargang aangewys.

Die klasverteenwoordigers het die verantwoordelikheid om, in oorleg met die klas, alle aangeleenthede rakende die kursus tydig met òf die betrokke dosent òf met 'n aangewese onverbonde dosent te bespreek. Die klasverteenwoordigers vergader voorts op 'n gereelde grondslag (ten minste ná afhandeling van elke toetsreeks) met die onverbonde dosent om die vordering met die onderskeie vakkursusse en/of enige moontlike knelpunte te bespreek.​


​Tensy 'n aangeleentheid eers binne die Skool vir Rekeningkunde aanhangig gemaak is (deur dit aan die klasverteenwoordigers te rapporteer), dien dit geen doel om die Dekaan of Viserektor (Onderrig) te nader nie, aangesien genoemde persone sodanige aangeleentheid in alle gevalle eers sal terugverwys na die Skool.

Studente word versoek om sonder versuim van die bostaande kanale binne die Skool gebruik te maak.​

Die Skool vir Rekeningkunde identifiseer jaarliks sakrekenaars wat toelaatbaar is vir eksamendoeleindes en oor die nodige funksies beskik om, inagnemende die leerplan soos op dié tydstip, aan die geïdentifiseerde behoeftes van studente tot aan die einde van hul honneursjaar te voldoen.

Studente moet daarop let dat slegs nie-programmeerbare sakrekenaars toelaatbaar is in toets- en eksamenlokale.​

Die voltooiing van vrae tuis deur studente vorm 'n integrale deel van die onderrig van studente. In dié verband vervul werkopdragte 'n belangrike funksie. Studente word vriendelik versoek om, ook in hul eie belang, te alle tye te poog om die optelkamer vir werkopdragte so netjies moontlik te hou. ​

Siektebriewe is slegs van toepassing op Nagraadse studente 
​​​​​​

Siektesertifikate moet so gou doenlik na die betrokke toetsdatum by die Van der Sterr Gebou, Kamer 2091 ingehandig word. Die Skool moet toesien dat siektesertifikate aan die bestaande riglyne betreffende siektesertifikate (soos hieronder uiteengesit), soos bepaal deur die Uitvoerende Komitee van die Universiteit, voldoen.

Indien 'n onaanvaarbare siektesertifikaat ingelewer is, sal die betrokke student van 'n standaard siektesertifikaat van die Universiteit voorsien word, met die versoek om dit deur 'n geneesheer of geregistreerde kliniese sielkundige te laat voltooi. Die standaard siektesertifikaat kan hier afgelaai word in MSWord formaat deur op die volgende skakel te kliek: Siektebrief.

 

Riglyne van die uitvoerende komitee i.v.m. siektesertifisering van student
 

'n Aanvaarbare sertifikaat moet minstens die volgende bevat:

Die juiste datum(s) van ondersoek deur/raadpleging met die geneesheer/geregistreerde sielkundige.

Die naam van die student.

'n Duidelike diagnose van die siekte (hoofpyn, diarree, maagkrampe word as simptome en nie as siekte beskou nie).

'n Aanduiding van die duur van die siekte met juiste datums van ongeskiktheid vir klasse/eksamens.

In die geval van probleme wat dui op 'n emosionele aandoening of spanning, geld die volgende as riglyne:

Daar moet minstens 'n sertifikaat van 'n geneesheer of van 'n kliniese sielkundige, wat by die SAGTR geregistreer is, verkry word met bovermelde inligting en 'n spesifieke diagnose wat dui op een van die aanvaarbare psigiese stoornisse soos 'n angsneurose of depressiwiteit.

As daar volgens die oordeel van die Uitvoerende Komitee genoegsame faktore buite die eksamenomstandighede is wat aanleiding kan gee tot spanning/emosionele ontwrigting (byvoorbeeld sterfte by die huis, ernstige siekte by die huis, of ontwrigting tuis wat veroorsaak word deur alkohol of skei-aangeleenthede) is 'n verklaring deur 'n geneesheer en/of predikant, na gelang van die geval, noodsaaklik, en behoort 'n vergunning van een week rondom die kritieke insident normaalweg voldoende te wees.​

Universiteitsreëls vereis dat studente wat vakke herhaal wat reeds vantevore geslaag is ten einde prestasiepunte te verbeter, vir al sodanige vakke as spesiale student moet registreer.

Die Skool word vereis om te verseker dat alle studente hieraan voldoen. ​

Kontak asseblief vir Munsoor Arnolds ([email protected]) of Denver Loggenberg ([email protected]) vir vermiste goedere in die Van der Sterr gebou.

Denver Anthony ([email protected]) kan gekontak word vir vermiste goedere in die Schumann Anneks en Schumann gebou.

Laai die vorm hier ​​af, druk, voltooi en neem u voltooide vorm na Me. Daniels by Kantoor 2109, Van der Sterr Gebou, voor of op 20 ​Feb. 2026