
US wen by jaarlikse MACE-toekennings
Die Universiteit Stellenbosch (US) het verskeie toekennings by die prestigeryke jaarlikse Marketing, Advancement and Communication in Education (MACE) prysuitdeling, wat Donderdagaand (24 November 2016) by die D'Aria-wynlandgoed gehou is, opgeraap.
MACE, n lidmaatskap-gebaseerde organisasie, vervul ʼn leierskapsrol in die hoëronderwys-, TVET en privaat-onderrigsektore in Suider-Afrika. Dit bevorder die rol wat praktisyns in bemarking, ontwikkeling en kommunikasie speel en bied hoë-kwaliteit ontwikkelingsprogramme aan en fasiliteer netwerkgeleentheide en bevorder transformasie en beste praktyk by lid-instansies.
Die prysuitdeling vorm deel van die jaarlikse MACE-kongres, wat vanjaar van 23-25 November gehou is en deur die MACE-Raad en die Pearson Instituut vir Hoëronderwys (Durbanville-kampus) aangebied is.
Met die tema "Hoër Onderwys en Opleiding in 'n Krisis? Lei van die voorpunt af – die nuwe uitdaging vir bemarking, ontwikkeling en kommunikasie: Uitsonderlike praktyk, professionele passie, en toegevoegde waarde", het die MACE-konferensie bemarkings-, ontwikkelings-, en kommunikasiepraktisyns vanuit die hoër onderwyssektor in Suid-Afrika bymekaar gebring vir professionele ontwikkeling.
Die Universiteit Stellenbosch het twee merietetoekennings, twee toekennings vir uitnemendheid (bekend as Excellence Awards), ʼn goue toekenning, ʼn platinum toekenning en ʼn Spesiale Toekenning – die Carl and Emily Fuchs Sake-toekenning ontvang. . Dié toekenning word gemaak aan ʼn hoër onderwysinstelling wat ʼn krities-belangrikebesigheidsuitdaging die hoof gebied het, strategiese deelname toon, en ook ʼn effektiewe, innoverende oplossing met meetbare resultate bied. Dié toekenning is vanjaar aan Stefan Els van die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie gemaak vir fotografie in 2015 en 2016.
Die toekennings is:
- Carl and Emily Fuchs Sake-toekenning – Toegeken aan die US vir Fotografie 2015/2016 (Stefan Els, Afdeling Korporatiewe Kommunikasie)
- Platinum Toekenning vir Uitnemendheid – Toegeken in Afdeling 3: Vaardigheid in die Kategorie: Fotografie: In diepte-artikels en dokumentering – vir fotografie in 2015/2016 vir die alumni-tydskrif, Matieland (ingeskryf deur Stefan Els, Afdeling Korporatiewe Kommunikasie)
- Goue Toekenning van Uitnemendheid – Toegeken in Afdeling 2L Media in die Kategorie: Digitaal: Interne Nuusbriewe – vir die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se VIVUS Digital-nuusbrief (ingeskryf deur deur die Fakulteit se Bemarking en Kommunikasie-kantoor)
- Toekenning van Uitnemendheid – Toegeken in Afdeling 3: Vaardighede in die Kategorie Ontwerp: Gedruk – aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se Jaarlikse Publikasie 2015 (ingeskryf deur deur die Fakulteit se Bemarking en Kommunikasie-kantoor)
- Toekenning van Uitnemendheid – Toegeken in Afdeling 2: Media in die Kategorie Gedrukte Jaarlikse Verslae - vir Research at Stellenbosch University 2015 (ingeskryf deur Maryke Hunter-Hüsselmann, Afdeling Navorsingsontwikkeling)
- Merietetoekenning – toegeken in Afdeling 2: Media in die Kategorie Gedrukte Jaarlikse Verslae – vir die Universiteit Stellenbosch Jaarverslag 2015 (ingeskryf deur Mattie van der Merwe, Afdeling Korporatiewe Kommunikasie.
- Merietetoekenning – toegeken in Afdeling 2: Media in die Kategorie Gedrukte Interne Nuusbriewe en ander Gedrukte media – vir SU Chairs / Centres of Excellence Pamphlet (ingeskryf deur Maryke Hunter- Hüsselmann, Afdeling Navorsingsontwikkeling)
Els het kommentaar gelewer op die toekennings en gesê dat dit ʼn groot eer is om erkenning vir fotografie te ontvang. "Dit was egter ʼn spanpoging om foto's te skeduleer, te organiseer en met idees daarvoor vorendag te kom. Ek wil graag elke persoon bedank wat betrokke was by die skep van hierdie foto's, asook die US se ongelooflike personeel en studente, wat die gesigte van die foto's is. Hulle is die ware helde van die US en ek is net bly dat ek die geleentheid het om dié baanbrekers vas te vang."
Foto verskaf deur Pixel Place.