Die wêreld het die waarheid nodig om te kan verbeter.
As ek eerlik moet wees, het ek nooit geweet wat die regte manier is om Menseregtedag te vier nie, en weet ek nog steeds nie. Moet ons dan nie elke dag die menseregte waaroor ons beskik, vier nie? Ons moet in die wêreld uitgaan en bewus wees van die feit dat ons as mense so ver gevorder het, dat ons wel hierdie regte het, maar dat daar nog baie werk gedoen moet word. Ons behoort elke dag ons regte te herdenk, maar die hartseer waarheid is dat nie gebeur nie.
Dit is maar een van talle interessante nuwe sienings wat ek tydens ʼn toer van die Slawelosie geleer het. Ek het geleer dat die basiese goed waarvoor ons stry en veg, meer as net behoeftes en begeertes is – ons het ʼn reg daarop. ʼn Reg op verdere/tersiêre onderwys, ʼn reg op voldoende behuising, ʼn reg op voedsel en nog talle meer, waarop deurlopend inbreuk gemaak word. En hoewel ons dalk mag veg vir toegang tot hierdie goed, dink ons aktief daaraan dat een van ons menseregte geskend word? Nee, maar dit is hoe ons al die ongeregtighede in die wêreld moet begin beskou. Ons moet ons regte opeis en seker maak dat almal billik behandel word, volgens die Handves van Regte, en dit moet daagliks geskied, omdat menseregte in wese die grondbeginsels van menswees is.
Voor 21 Maart 2022 het ek ook nie geweet wat slawerny in die Suid-Afrikaanse konteks beteken het nie. Belangrike terme, soos Kaapse Maleiers, Vryburgers, 'roerende eiendom' slawerny en nog meer is uiteindelik omskryf en in perspektief geplaas. Die beste gedeelte van die toer was die brutale eerlikheid wat met ons gedeel is. Die gebruik van die regte bewoording in plaas van mooipraat en versagting van die gebeure wat plaasgevind het. Dit is vandag baie maklik om 'dons'-stukke te skryf om almal oppervlakkig in te lig, omdat ons almal te bang is om die waarheid te hoor.
Die wêreld het die waarheid nodig om te kan verbeter. Een van die waarhede wat ons geleer het, is dat akademici soms verkeerd kan wees. Ons is aangemoedig om navorsers en outeurs te bevraagteken (met respek vir hulle werk) op grond van die perspektiewe waaruit hulle gekom het en die feit dat woorde en die volgorde van woorde ʼn groot verskil kan maak. Jy mag ʼn mening huldig wat nie ooreenstem met wat die akademici sê nie, veral ten opsigte van jou eie geskiedenis.
Die toer het my ook gehelp om die gaping tussen prekoloniale, koloniale en apartheid-Suid-Afrika te oorbrug. Daardie drie eras kan baie ver uit mekaar lyk, maar dit het opeenvolgend plaasgevind, wat talle goed in perspektief plaas en help om jou persoonlike geskiedenis aan die geskiedenis van jou land te koppel.
Leer oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis behels ook leer oor die geskiedenis van Afrika oor die algemeen en ek dink dat dit so belangrik is. Lande op die Afrika-vasteland is dikwels geneig om hulleself te isoleer, maar as jy die geskiedenis hersien, sien jy al die skakels en hoe die vasteland nie as aparte eenhede kan funksioneer nie, maar as ʼn geheel moet funksioneer.
Ek was nog altyd ten gunste van Geskiedenis as ʼn verpligte vak, maar hierna is ek nog meer daarvan oortuig. Ek wil die Transformasiekantoor bedank dat hulle die volmaakte plek vir die vier van Menseregtedag gekies het. Ek hoop om baie van wat ek geleer het aan my gemeenskap oor te dra en onder soveel as moontlik mense te versprei. Iets wat ek by een van die uitstallings raakgesien het: "As jy nie weet nie, leer ... as jy wel weet, onderrig." Ek hoop ons almal begin dit doen.