
Terugvoer van die IKBV
25 Maart 2021
Beste kollegas en studente
Die Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) van die Universiteit Stellenbosch (US) het gister, 24 Maart 2021, vergader. Die komitee is op hoogte gebring van die werksaamhede van die sewe werkstrome van die IKBV (studentedienste; personeel; leer en onderrig; kommunikasie, sosiale impak en eksterne betrekkinge; kampusbedrywighede; finansies en regsake; en navorsing) en die mediese advieskomitee wat gesamentlik die US se reaksie op die koronaviruspandemie (COVID-19) bestuur. Lees asb verder vir meer inligting.
Akademiese jaar 2021
Soos daar ná ons vorige vergadering op 26 Februarie berig is, beweeg die US vanjaar weg van die nood-afstandsonderrig, leer en assessering (ERTLA) van 2020, deur aanlyn-elemente sover as moontlike aan te vul met in-persoon sessies (ARTLA).
Daarom, en in ooreenstemming met die vlak 1 staat van inperking wat tans landswyd geld, het die US alle studente op kampus verwelkom vir die aanvang van die akademiese jaar op 15 Maart.
Prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, het gister verslag gedoen dat die akademiese jaar suksesvol afgeskop het, hoewel daar 'n paar aanvangsprobleme was wat veral met die oorskakeling na ARTLA verbandhou, maar dit word aangespreek.
Daar word goeie vordering gemaak met die identifisering van bykomende, geskikte lokale met WiFi waar studente toegang tot die internet kan kry om aan sessies deel te neem wat per stroomuitsending aanlyn uitgesaai word. 'n Volledige skrywe hieroor volg binnekort. Intussen is eenmalige databondels aan alle studente verskaf om toegang tot aanlyn lesings te kry terwyl ons besig is om geskikte lokale te reël. (Klik hier vir meer.)
Die IKBV het dit ook duidelik gemaak dat in gevalle waar fakulteite besluit het om modules ten volle aanlyn aan te bied, dit studente vrystaan om van waar hulle ook al is, deel te neem. Waar daar egter 'n verwagting is dat studente op kampus moet wees vir in-persoon lesings, tutoriale, praktiese sessies, kliniese opleiding, assessering, ens, kan uitsonderings ongelukkig nie gemaak word nie. Die student sal moet besluit om óf die betrokke sessies by te woon, óf die spesifieke module vir eers te staak.
Inligting oor die aanbiedingsformaat van modules – hetsy in persoon, ten volle aanlyn of aangevul ('n kombinasie van die twee) – verskyn op die fakulteite se webwerwe, met skakels te vinde op 'n sentrale blad op die Universiteit se webwerf (klik hier).
Voorkoming van COVID-19
Die IKBV het die nuus verwelkom dat daar, strydig met aansprake in die media hieroor, geen aanduidings van COVID-19-brandpunte of kluster-uitbrekings op enige van die US se kampusse is nie. Die US het die nodige maatreëls ingestel, en ons doen weer eens 'n beroep op alle personeel en studente om alle protokols na te kom.
Enigeen wat bekommerd is dat hulle dalk COVID-19 opgedoen het, behoort die US se Kampusgesondheidsdiens te skakel (Stellenbosch 021 808 3496/3494; Tygerberg 021 938 9590; noodnommer ná ure 076 431 0305). COVID-19 is 'n aanmeldbare siekte; dit is dus verpligtend om 'n positiewe toetsuitslag aan te meld (gebruik asb bogenoemde nommers), ten einde die opsporing van kontakte moontlik te maak om die verdere verspreiding van die siekte te voorkom.
Die huidige syfers is redelik laag, maar die pandemie hou steeds 'n groot risiko in en daar word van personeel en studente verwag om 'n masker te dra, op 'n veilige afstand van ander te bly en om hul hande en oppervlaktes te ontsmet. Enigeen wat van voorneme is om na die kampus te kom, moet voor die tyd Higher Health se toepassing vir daaglikse risikobepaling, HealthCheck (https://healthcheck.higherhealth.ac.za/), gebruik vir selfsifting.
Die US het 60 studente as veiligheidsambassadeurs aangestel om nakoming van alle COVID-19-protokols te verseker. Hulle het 15 Maart begin en is by al die fakulteite se ingange gestasioneer, maar stap ook op kampus rond. Hulle kan maklik uitgeken word aan hul heldergroen veiligheidsbaadjies en -pette (lees hier meer).
Daar heers kommer dat Suid-Afrika 'n toename in COVID-19-infeksies kan ondervind indien voorkomende maatreëls nie streng genoeg nagekom word nie. Ek doen dus 'n beroep op almal om asb enige gedrag te vermy wat tot infeksie kan lei, of kan veroorsaak dat jy onopsetlik tot die verspreiding van COVID-19-infeksies bydra.
COVID-19-gedragskode vir terugkerende studente
Die IKBV het 'n COVID-19-gedragskode goedgekeur vir studente wat na die kampus terugkeer. Hierin word 'n beroep gedoen op elkeen om in maatskaplike solidariteit saam te werk om die verspreiding van die virus te beperk, om te voorkom dat die gesondheidsdiensstelsel oorlaai word en om lewens te red.
Die gedragskode is 'n verlenging van die reëls waartoe alle geregistreerde studente verbind is. ʼn Oortreding sal as dissiplinêre wangedrag beskou word, en sal in gevolge die Dissiplinêre Kode vir Studente van die Universiteit Stellenbosch hanteer word.
Die COVID-19-gedragskode sal binnekort aan alle studente gekommunikeer word en sal ook op die US se webwerf geplaas word.
Verlofreëlings
Die IKBV het wysigings aan die huidige verlofreëlings wat gedurende COVID-19 geld, aangebring. ʼn Gedetailleerde skrywe hieroor sal binnekort aan alle personeel gestuur word.
Ter afsluiting
Ons bevind ons in 'n onsekere tyd en dinge kan vinnig verander, byvoorbeeld indien strenger inperkingsregulasies aangekondig sou word. Ons moet as instelling buigsaam en responsief op 'n veranderende omgewing wees, en as individue waaksaam, bedagsaam en verantwoordelik optree vir die algemene welsyn. Raadpleeg asb die US se COVID-19-webblad vir toepaslike inligting en kontakbesonderhede indien jy tegniese, akademiese of emosionele ondersteuning benodig.
Ons het 2021 goed afgeskop. Kwessies word opgelos en uitdagings aangespreek. Indien ons almal aan die protokols gehoor gee en saamwerk in die gees van maatskaplike solidariteit, twyfel ek geensins dat ons die geleentheid wat ARTLA bied, die beste sal gebruik en hierdie akademiese jaar suksesvol sal voltooi nie, terwyl ons die gesondheid, veiligheid en welstand van ons studente en personeel vooropstel en die volhoubaarheid van ons Universiteit verseker.
Pas julleself asb op en wees veilig.
Prof Stan du Plessis Voorsitter: IKBV