Nagraads
Toelating word gebaseer op seleksie kriteria wat die student se akademiese prestasie in ag neem, sowel as hoe goed die student se agtergrond met die agtergrond wat vir die program vereis word, ooreenstem. Toelating is besperk en baie kompeterend, so die lys van minimum vereistes wat hieronder gelys word is dus nie ‘n waarborg vir toelating nie.
Om toegelaat te word tot Honneurs in Rekenaarwetenskap
- moet u óf alreeds ‘n graad in Rekenaarwetenskap verwerf het; óf een hê teen die tyd wat u wil registreer
- moes u ‘n gemiddeld van 65% of meer vir u derdejaar Rekenaarwetenskap vakke verwerf het. Hierdie persentasie kan enige tyd verhoog word soos die gewildheid van die Honneurs kursus toeneem.
- moet u ‘n goeie Wiskundige agtergrond hê wat beide Calculus en Algebra insluit
- moet u ten minste 32 krediete op tweedejaars- of derdejaarsvlak hê wat kwantitatiewe modules insluit; kwantitatiewe modules sluit in: enige van die volgende vakke se modules: Wiskunde, Toegepaste Wiskunde, Fisika, Wiskundige Statistiek, Bioinformatika, en Operasionele Navorsing en die twee modules: GIT242 Digitale Fotogrammetrie en GIT341 341 Ruimtelike Modellering (let op hul voorvereistes)
- moet u goed kan programmeer; ons Honneursgraad vereis goeie programmeringsvaardighede; dit is dus noodsaaklik dat u kan programmeer, anders sal u nie die Honneursgraad suksesvol kan voltooi nie.
Let wel, dat voldoening aan die minimum vereistes beteken dat jy vir keuring oorweeg sal word, maar dit waarborg nie toelating nie.
- Om vir enige individuele nagraadse modules te registreer, moet u óf alreeds ‘n graad in Rekenaarwetenskap verwerf het; óf reeds aan al die vereistes voldoen het om die graad te verwerf en by die volgende gradueringsseremonie te ontvang. Verder word dieselfde wiskunde, programmerings, en rekenaarwetenskap agtergrond as vir Honneurs vereis.
- Die toelatingsvereistes vir ‘n Meesters in Rekenaarwetenskap is ‘n graad in Rekenaarwetenskap en ‘n Honneursgraad.
- Die toelatingsvereistes vir ‘n Doktoraat in Rekenaarwetenskap is ‘n tesis-gebaseerde Meestersgraad en ‘n graad wat die vereits Rekenaarwetenskap agtergrond dek.
Die belangrike stappe is:
Stap 1
Hierdie stap is slegs vir voornemende Meesters en Doktorale studente. U het die instemming van ‘n personeellid nodig wat as studieleier vir jou Meesters/Doktors tesis sal optree. Kyk gerus na ons Navorsingsbladsye en lees meer oor die tipe werk wat ons doen. Jy kan ook na die personeel se publikasies kyk om ‘n idee te kry van die tipe onderwerpe waarin hulle belangstel. Sodra jy ‘n navorsingsarea gevind het waarin jy belangstel, kontak die betrokke personeellid om moontlike onderwerpe te bespreek. Dit is nie noodsaaklik om op hierdie stadium ‘n spesifieke onderwerp te kies nie, maar dit is belangrik om die personeellid se instemming te kry om as jou studieleier op te tree. Indien moontlik, maak ‘n afspraak om die studieleier persoonlik te sien.
Stap 2
Hierdie stap is vir alle voornemende Honneurs, Meesters, en Doktorale studente. Doen aansoek deur die aansoekvorms te voltooi en al die vereiste dokumente op te laai. Dieskakels is beskikbaar via verskeie bladsye
- die Universiteit van Stellenbosch se webblad: onder die Studente spyskaart, kies Voornemende Nagraadse Studente. Die nodige skakels is via die Application to SU spyskaart beskikbaar.
- die Natuurwetenskappe fakulteit se webblad: onder die Wat kan ek studeer? spyskaart, kies Nagraadse Programme. Die nodige skakels is op die webblad asook via die Application to SU spyskaart beskikbaar.
- die Voornemende Nagraadse Studies webblad. Die nodige skakels is op die webblad asook via die Application to SU spyskaart beskikbaar.
Stap 3
Hierdie stap is slegs vir studente wat die data wetenskap stroom wil volg. Stuur ‘n epos aan die nagraadse koördineerder ([email protected]) om te vra of u aan die nodige voorvereistes vir die data wetenskap modules voldoen.
Die sperdatum vir aansoeke is rofweg:
- vir Honneurs aansoeke: die einde van Oktober, maar maak assblief seker deur na die Fakulteit Natuurwetenskappe se webwerf te kyk.
- vir Meesters en Doktorale aansoeke: die einde van September, maar maak assblief seker deur na die Fakulteit Natuurwetenskappe se webwerf te kyk.
Die universiteit laat studente toe om deeltyds in te skryf. Die graad strek dan oor meer jare; die honneursgraad kan verleng word na ‘n maksimum van twee jaar, wat agtereenvolgend moet wees. ‘n Deeltydse Meestersgraad strek oor drie tot vier jaar. Oor die algemeen is dit ‘n moeiliker opsie en verg self-disipline en toewyding.
Honneursstudente moet egter kennis neem van die volgende:
- die jaarprojek moet óf binne die eerste jaar ôf binne die tweede jaar voltooi word
- altesaam 6 semester-modules moet voltooi word, maar u kan self kies watter modules u in watter jaar wil voltooi
- Al ons modules word gedurende werksure aangebied en dit is nie huidiglik moontlik om enige lesings na-ure by te woon nie. As jy ‘n voltydse werk het, sal jy met jou werkgewer moet reël om die lesings by te woon.
Ons verwelkom ook aansoeke van buitelandse studente. Bo-en-behalwe die stappe hierbo, moet internasionale studente ook die Internasionale Kantoor kontak vir administratiewe besonderhede rakende studies in Stellenbosch. Die Universiteit Stellenbosch het baie vennootskapsooreenkomste met buitelandse universiteite, wat dit maklik maak om studente-uitruilings te reël. Ons 16-kredietmodules is gelykstaande aan 8 ECTS-krediete, en al die modules word in Engels aangebied.
Rekenaarwetenskap bied nie op die oomblik enige direkte ondersteuning vir studente aan nie, maar die universiteit as geheel doen dit wel, en daar is ook natuurlik verskeie eksterne beurse beskikbaar. Die universiteit se portaal vir voornemende studente is ‘n goeie bron van inligting oor beurse en ook besonderhede oor studiegeld wat gereeld bygewerk word. (Internasionale studente moet ook kyk na die “Voornemende studente” afdeling van die Internasionale Kantoor se webwerf.)
Die meeste van ons voorgraadse kursusse gebruik studente-assistente en alhoewel dit beslis nie genoeg inkomste verskaf om jou studies mee te finansier nie, verskaf dit wel ‘n bietjie aanvulling. Maar wat eintlik nog belangriker is, is dat ‘n studente-assistentskap nie net ‘n uitstekende manier is om die volgende geslag Rekenaarwetenskap studente te help met hul studies nie, maar ook ‘n wonderlike geleentheid is om jou eie kennis vas te lê.
Enkele studieleiers het navorsingsfondse waarmee hul Meesters en Doktorale studente kan ondersteun, maar dit is dikwels nie genoeg om al jou uitgawes te dek nie. Let wel, dat jy nie hierop kan staatmaak nie en direk met die studieleier moet praat oor hierdie opsie.
Die honneursmodules wat deur Rekenaarwetenskap aangebied word vereis:
- die vier kern derdejaar Rekenaarwetenskap modules,
- Wiskunde en Waarskynlikheidsleer en statistiek (Toegepaste Wiskunde) in die eerstejaar, en
- verkieslik of Wiskunde of Toegepaste Wiskunde tot op tweedejaarsvlak.
Digitale Beelverwerking vereis:
- ‘n werkende kennis van Fourier Analise benodig; dit word gedek in Toegepaste Wiskunde 364.
Rekenaarvisie vereis:
- lineêre Algebra; dit word onder andere gedek in Toegepaste Wiskunde 214 en Wiskunde 214.
Vir inligting oor en die aansoekprosedure vir die gestruktureerde MSc in Masjienleer en Kunsmatige Intelligensie, sien mlai.sun.ac.za.
As jy spesifieke vrae het, kontak gerus on nagraadse koördineerder deur ‘n epos te stuur aan [email protected].