Skip to main content
US se Sentrum vir Sosiale Geregtigheid vier brugbouers en baanbrekers

US se Sentrum vir Sosiale Geregtigheid vier brugbouers en baanbrekers

Corporate Communications and Marketing
07 September 2023

​Weet jy van iemand wat baie hard werk om 'n positiewe verskil in Suid-Afrika te maak? Is daar 'n brugbouer in jou gemeenskap wat aktief poog om die verdeeldheid van die verlede te genees? Benoemings word nou ingewag vir twee spesiale toekenning wat erkenning gee aan veranderingsagente. 

Prof Thuli Madonsela, Direkteur: Sentrum vir Sosiale Geregtigheid by die Universiteit Stellenbosch (US), en die Raad vir Kampvegters vir Sosiale Geregtigheid vra vir openbare nominasies vir die Sosiale Geregtigheid-kampvegter van die jaar-toekenning, asook die Brugbouertoekenning. Hierdie prestigeryke toekennings gee erkenning en eer aan individue wat 'n merkwaardige bydrae tot maatskaplike geregtigheid en eenheid in Suid-Afrikaanse gemeenskappe gelewer het. Dié inisiatief vorm deel van die vierde Jaarlikse Internasionale Konferensie oor Sosiale Geregtigheid en die vyfde Jaarlikse Beraad oor Sosiale Geregtigheid wat op 11 en 12 Oktober by die Kunstekaap-teatersentrum in Kaapstad gehou word. Die tema vanjaar is die rol van die sakesektor en die burgerlike samelewing in die bevordering van sosiale geregtigheid.

Sosiale Geregtigheid-kampvegter van die jaar-toekenning

Die doel van die jaarlikse Sosiale Geregtigheid Kampvegter-veldtog is om 'n individu te identifiseer wat 'n positiewe verandering in ander se lewe teweegbring. 'n Waardige Sosiale Geregtigheid-kampvegter is iemand wat getoon het dat hulle verbind is tot geregtigheid vir almal terwyl hulle ook ander inspireer om saam te staan om positiewe verandering mee te bring. Verlede jaar is Lorenzo Davids, 'n leier en veteraan op die gebied van maatskaplike ontwikkeling, as die Sosiale Geregtigheid-kampvegter van die jaar vereer vir sy onvermoeide werk en aktivisme. In 2021 het hierdie eer dr Imtiaz Sooliman van die Gift of the Givers te beurt geval.

Brugbouertoekenning

Hierdie toekenning is daarop gemik om individue te vereer wat buitengewone toewyding aan die dag gelê het om historiese verdeeldheid in die Suid-Afrikaanse samelewing te genees. Die Brugbouertoekenning gee erkenning aan diegene wat hulle invloed en sosiale kapitaal aangewend het om mure af te breek tussen groepe wat histories verdeeld was en om sosiale samehang te bevorder. Hierdie toekenning is verlede ingestel ter nagedagtenis aan wyle dr Beatrice Wiid, 'n lid van die Raad vir Kampvegters vir Sosiale Geregtigheid wat bekend was vir haar pogings om begrip en eenheid tussen uiteenlopende gemeenskappe te kweek. Vennote vir Moontlikhede (“Partners for Possibility"), die pronkprogram van die niewinsgewende organisasie Citizen Leader Lab, was in 2022 die eerste ontvanger van die Brugbouertoekenning ter erkenning van die organisasie se pogings om sosiale kohesie in Suid-Afrika aan te moedig. Citizen Leader Lab fokus tans op die versterking en bevordering van leierskapsontwikkeling en -ondersteuning binne die onderwys-ekostelsel. 

Weet jy van iemand wat verdien om benoem te word?

Indien jy iemand ken wat die beginsels van maatskaplike geregtigheid en eenheid vergestalt, word jy aangemoedig om hulle vir hierdie toekennings te benoem. 'n Kampvegter vir sosiale geregtigheid is iemand wat onvermoeid werk om toegang en geleenthede aan gemarginaliseerde gemeenskappe te bied, terwyl 'n brugbouer 'n leier is wat daartoe verbind is om brûe van begrip en gedeelde voorspoed en welvaart oor histories verdeelde groepe heen te bou.

Hoe om iemand te benoem

Om iemand vir óf die Sosiale Geregtigheid-kampvegter van die jaar-toekenning óf die Brugbouertoekenning te benoem, moet jy net die nominasievorm wat by die volgende skakel beskikbaar is, voltooi: Nominasievorm of besoek die webwerf,  https://socialjustice.sun.ac.za/conference-summit-2023/.

Beweeg af op die vorm en kies vir watter toekenning jy iemand wil benoem. Jy kan meer as een nominasie vir albei toekennings indien.

Nominasies sluit Woensdag, 20 September 2023 om 23:59.

Die wenners van die jaarlikse Sosiale Geregtigheid-kampvegter van die jaar- en die Brugbouertoekenning sal by die vierde Jaarlikse Internasionale Konferensie oor Sosiale Geregtigheid op 11 Oktober aangekondig en vereer word.

Die US se Sentrum vir Sosiale Geregtigheid en die Raad vir Kampvegters vir Sosiale Geregtigheid sien uit na hierdie geleentheid om erkenning te gee en hulde te bring aan diegene wat aktief werk om 'n regverdiger en verenigde Suid-Afrika te skep.

MEER OOR DIE JAARLIKSE INTERNASIONALE KONFERENSIE OOR SOSIALE GEREGTIGHEID EN DIE BERAAD OOR SOSIALE GEREGTIGHEID

Nasionale leiers uit die akademie, regering, sakesektor, burgerlike samelewing, die diplomatieke gemeenskap en kundiges van regoor die wêreld kom in Oktober vir twee dae in Kaapstad byeen om nuwe lig op die rol van die sakesektor en die burgerlike samelewing in die bevordering van sosiale geregtigheid te werp. Die vierde Jaarlikse Internasionale Konferensie oor Sosiale Geregtigheid en die vyfde Jaarlikse Beraad oor Sosiale Geregtigheid word deur die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid (CSJ) by die Universiteit Stellenbosch (US) en die Raad vir Kampvegters vir Sosiale Geregtigheid aangebied.  Songezo Mabece, 'n regsgeleerde wat in regsasvies en -navorsing, openbare beleid en regulatiewe werk spesialiseer, sal as programdirekteur by die internasionale konferensie optree. Die bekende mediapersoonlikheid en entrepreneur, Basetsana Kumalo, sal die internasionale beraad fasiliteer. Die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, sal die hoofspreker by dié geleentheid wees. Die verwelkomingstoespraak by die beraad sal deur Busisiwe Mavuso, die hoof- uitvoerende beampte van Business Leadership South Africa, gelewer word. Vooraanstaande akademici van die US soos prof Stan du Plessis, bedryfshoof, prof Nicola Smit, dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, asook Madonsela is van die uitgelese sprekers wat sal optree. 

  • Wanneer? Die interdissiplinêre vierde Jaarlikse Internasionale Konferensie oor Sosiale Geregtigheid word 11 Oktober gehou, gevolg deur die vyfde Jaarlikse Beraad oor Sosiale Geregtigheid op 12 Oktober 2023. 
  • Waar? Albei geleenthede word by die Kunstekaap-teatersentrum in Kaapstad gehou en kan persoonlik of aanlyn bygewoon word. 
  • Skakel om te registreer: http://forms.office.com/r/ykWAebEkve
  • Vir meer inligting, insluitende oor registrasies en ander sake, kontak asseblief vir Fanelesibonge Ndebele by [email protected] of +27(0)21 808 9734.

Uitgereik deur die kantoor van die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid aan die Universiteit Stellenbosch.