
Toasties for Tummies-inisiatief
Die Universiteit Stellenbosch (US) maak gereed om 10 000 toebroodjies te berei by die opkomende Toasties for Tummies-geleentheid wat op 27 Julie 2018 by die Neelsie – boonste verdieping – op die Stellenboschkampus plaasvind.
Die projekbestuurder by die US se Afdeling Sosiale Impak, Michelle Pietersen, sê die geleentheid begin om 10:00 en eindig om 13:40, en daar sal tussenposes van 20 minute wees sodat die vrywilligers vir hulle volgende sessies kan opruim.
Die geleentheid, wat deur die Golden Key-studentevereniging gereël word, is 'n jaarlikse US-gebeurtenis en het begin nie alleen om minderbevoorregte mense te voed nie, maar ook om gemeenskapsvoedselskemas te help en hulle van 'n dag se voedsel te voorsien.
“Hierdie dag is ook 'n geleentheid vir personeel en studente om buite die lesinglokale te netwerk en te sosialiseer. Mense sal dalk wonder wat 'n verskil 'n toebroodjie aan iemand se lewe kan maak, maar hulle sal verbaas wees oor hoeveel dit vir die begunstigdes beteken," sê Michelle.
Michelle het bygevoeg dat die Afdeling Sosiale Impak vanjaar probeer om die Toasties for Tummies 'n spesiale geleentheid te maak met die optrede van die bekende MC Wayne Mckay, wat in die vermaakbedryf as 'n skerpskertser-komediant, akteur en radio- en televisiestemkunstenaar bekend staan.
Die eienaar van die maatskappy wat die inisiatief al meer as drie jaar van Franse polonie voorsien, Zabby Samsoedien, sê: “Dit is beslis nie die laaste keer dat ons met die Universiteit Stellenbosch sal saamwerk nie. Ons het 'n goeie rekord en al ons produkte is goedgekeur en duidelik gemerk as veilig om te eet."
Golden Key hanteer al die tegniese aspekte waaronder parkering, en die vervoer vir die begunstigdes. Michelle sluit af deur te sê dat hulle ook 100 geriefspakkies op die dag sal uitdeel.
Organisasies wat voordeel uit die 2018 Toasties for Tummies trek, sluit in Love to Give, die Kinderwelsyn, Voeding in Aksie, die Kylemore-liefdadigheidstigting , die New Life-gemeenskapsprojek, die New Superman, die Ark, die Kuyasa-jeugprogram en die Night Shelter.
As jy deel wil wees van hierdie inisiatief, besoek die Afdeling Sosiale Impak se webbladsy by http://bit.ly/2uYAMrk en registreer daar om 'n vrywilliger te wees.