
Dekaan van Krygskunde ontvang Afrika-toekenning
Prof Sam Tshehla, Dekaan van die Fakulteit Krygskunde aan die Universiteit Stellenbosch (US), is Dinsdag (7 Desember 2016) in Mauritius met die Africa Education Leadership-toekenning vir die Beste Professor in Krygskunde vereer.
Tshehla het erkenning ontvang vir sy uitstaande leierskap en die verskil wat hy in ander te lewe maak en vir sy bydrae tot sosiale verandering.
Volgens die organiseerders word die Africa Education Leadership-toekennings verleen aan individue en instellings wat verskeie vlakke van uitnemendheid oortref het en ʼn voorbeeld van ʼn rolmodel was en ook uitstaande leierskap getoon het. Hierdie toekennings vereer ook individue wat hul instellings deur leierskap, innovasie, en die koppelvlak tussen die akademie en industrie uitbou en wie se doelwit dit is om toekomstige leiers op te lei.
"Dit is regtig vir my ʼn eer en ek dra die toekenning op aan die Departement van Verdediging, die US-bestuur, die Suid-Afrikaanse Militêre Akademie se bestuur, en die akademiese personeel van die Fakulteit Krygskunde vir hul volgehoue ondersteuning," het Tshehla gesê.
Die jaarlikse Africa Education Leadership-toekennings is deur World CSR Day in samewerking met CMO Asia en Stars of the Industry-groep aangebied.
- Foto: Dr Biao Koudenoukpo, Direkteur en Streeeksverteenwoordiger van die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram, oorhandig die Africa Education Leadership-toekenning aan prof Sam Tshehla.
- Fotograaf: Louis Siebert