Skip to main content
Reserwebank-baas inspireer met hoop vir ekonomiese groei

Reserwebank-baas inspireer met hoop vir ekonomiese groei

Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
07 Maart 2019

Die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB), dr Lesetja Kganyago, het Woensdagaand (06 Maart 2019) 'n boodskap van hoop vir ekonomiese groei gebring by 'n openbare lesing wat deur die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied is. Hy het ook die belangrikheid van 'n onafhanklike SARB beklemtoon.

Sy lesing was getiteld Onafhanklikheid en beleidbuigsaamheid: 'Hoekom moet sentrale banke onafhanklik wees?' en het gefokus op die grondwetlike mandaat en onafhanklikheid van die SARB, die implementering van monetêre en fiskale beleidskoördinering en inflasiedoelwitte as 'n uitdrukking van die SARB se mandaat.

Hy het dit beklemtoon dat dit belangrik is om inflasie laag te hou ter bevordering van ekonomiese groei en werkverskaffing op die lange duur.

“Ons moet teen hierdie tyd al weet wat gaan gebeur indien ons toelaat dat inflasie op maniere styg wat net tot voordeel van sekere groepe is: Die voordeel is tydelik en dit is ten koste van ander groepe. Die toegee aan die begeerte om tydelike winste op te tower was die oorsaak van talle – indien nie die meeste nie – geskiedkundige makro-ekonomiese mislukkings."

Dr Kganyago, wat verlede jaar 'n eredoktorsgraad in die Handelswetenskappe (DCom), by die US se Desember-gradeplegtigheid ontvang het, sê die mense wat die meeste lei weens 'n hoër inflasiekoers, is gewoonlik jonger mense, werkers en die armes.

[In die foto bo van links; Dr Lesetja Kganyago, (President van die Suid-Afrikaanse Reserwebank), Prof Wim de Villiers, (Rektor en Vise-Kansellier by US), Prof Johann Kirsten, (Direkteur van die Buro vir Ekonomiese Navorsing by US)]

Hy glo dat laer inflasie nie net hierdie drie groepe wat die meeste geraak word, sal help nie, maar dat die ekonomie oor die algemeen sterker groei wanneer inflasie laag is. “Omdat hulle nie die mag het om hoër vergoeding vir inflasie te eis nie, is die armes en diegene wat op 'n lae vaste inkomste moet oorleef – veral pensioentrekkers – baie kwesbaar. Dit is vir hierdie mense – bo alle ander – dat lae inflasie moreel en ekonomies korrek is.

Hy het ook beklemtoon dat dit op die lange duur tot voordeel van die land sal wees om die SARB onafhanklik te hou. “Op die ou einde laat die onafhanklikheid van die sentrale bank die SARB toe om te luister na wat die verskillende belangegroepe te sê het, maar dit bied die nodige beleidsruimte aan die SARB om, nadat hulle alles oorweeg het, besluite oor inflasie te kan neem wat almal bevoordeel."

Kganyago is die tiende president van die Suid-Afrikaanse Reserwerbank en hy is in Januarie 2018 as voorsitter van die Internasionale Monetêre en Finansiële Komitee aangestel. Hy is die eerste president van 'n sentrale bank in Afrika suid van die Sahara om dié pos te beklee.

Volg die volledige stroomuitsending van die lesing hier.

Fotos deur Anton Jordaan.​