Skip to main content
​PhD-student ontvang gesogte genootskap

​PhD-student ontvang gesogte genootskap

Ronél Beukes
24 Maart 2019

ˈn Prestigeryke genootskap van die Oorsese Ontwikkelingsinstituut (ODI) het Martina Mchenga, PhD-student in ekonomie by die Nagraadse Skool in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, te beurt geval.

ODI se genootskapskema stel nagraadse ekonome en statistici in staat om in die openbare sektore van ontwikkelende lande te werk. Genote teken 'n tweejaar-kontrak om as plaaslike staatsamptenare te werk.

“Hierdie genootskappe is internasionaal baie gesog en dit is 'n groot eer vir Martina, die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en die Skool," het dr Jaco Franken, bestuurder van die Nagraadse Skool gesê.

“ODI het reeds meer as 'n duisend ekonome en statistici na lande regoor Afrika, Asië, die Karibiese Eilande en die Pasifiese streek gestuur," het hy bygevoeg. “Vir baie was dit die begin van suksesvolle loopbane in die staatsdiens, multilaterale instellings, die akademie en die privaat sektor."

Martina, 'n Malawiese burger, se navorsingsveld is gesondheidsekonomie, veral kwessies waarby moeders en kinders betrokke is. Sy sê haar belangstelling is gedurende haar meestersgraadstudie aan die Universiteit van Malawi (Chancellor Kollege) geprikkel.

“In die meeste lande suid van die Sahara is daar geweldige ongelykhede in die toekenning van skaars hulpbronne in die gesondheidsektor," verduidelik sy.

Martina werk hard om haar tesis teen die einde van Julie te finaliseer sodat sy in Desember graad kan kry. “Teen middel-Junie sal ek weet in watter land ek vir die volgende twee jaar gaan werk, en in Julie gaan alle nuwe genote vir 'n week lange voorbereidingsessie in Londen. Tussen Augustus en Oktober kan ek my werkskontrak opneem."

Sy sê haar studieleiers, professors Ronelle Burger en Dieter von Fintel van die US Departement Ekonomie, verdien hoë lof. “Ek sal altyd dankbaar wees vir hul leiding en ondersteuning."

Volgens prof Burger is die doelwitte van die ODI-genootskapskema om hoëgehalte junior ekonome en statistici aan die regerings van ontwikkelende lande te voorsien, veral in gevalle waar daar tekortkominge in plaaslike kapasiteit is. Terselfdertyd kry nagraadse graduandi praktiese werkservaring in 'n ontwikkelende land.

Martina sê sy sien uit na die werkservaring. “Ek wil ook graag ondersoek instel oor hoe navorsing by die beleidmakingsproses geïntegreer kan word."

Sy sal egter nie alleen verhuis nie. Haar vierjarige dogter, Ndamo (wat “goeie sedes" in Chichewa beteken), gaan saam. Ndama was aan haar ma se sy sedert sy in Januarie 2016 in Stellenbosch aangekom het om by die voltydse, residensiële doktorsgraadprogram van die Nagraadse Skool vir Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan te sluit.

Toe 7 maande oud, is Ndamo onverwyld by Babin Crèche in Stellenbosch ingeskryf.

"Sy is mal daaroor," sê Martina, "wat my herinner aan my enigste vereiste vir die land waarin ek geplaas word, naamlik dat daar 'n Engelse skool vir haar moet wees."

Het sy enige langtermynplanne? “Ja," sê sy dadelik, “Ek wil by die Wêreldbank werk, ongeag by die hoofkantoor of in Malawi."

“En dis waarheen sy op pad is," sê dr Franken, wat haar prestasies dophou sedert sy vir haar PhD-studie ingeskryf het.

Maar eers lê daar 'n Desember-gradeplegtigheid voor. Twee rooi togas word benodig, en een moet 'n baie klein persoon pas.

  • Foto's deur R Beukes: Hooffoto: Martina Mchenga en (foto regs) Ndamo.