‘n Dag in die lewe: Mantombi Makhubele
Ons het Mei met die viering van Werkersdag ingelui en ons dra hierdie reeks artikels op aan ons personeel en hul belangrike bydrae tot die Universiteit Stellenbosch (US). As senior inhoudvervaardiger is dit Mantombi Makhubele se taak om die storie agter die Stellenbosch Bestuurskool se handelsmerk uit te dra ten einde die instelling se reputasie uit te bou en aansluiting te vind by studente, alumni en belanghebbendes. In hierdie onderhoud vertel sy meer oor haar werk as ʼn senior inhoudvervaardiger en verklap sy meer oor hoe sy ontspan en gefokus bly. Wat behels jou rol by die US?Ek is ’n senior inhoudvervaardiger by die Stellenbosch Bestuurskool. As ’n inhoudvervaardiger werk ek met ’n kombinasie van verskillende soorte kommunikasie. Ons gebruik kort en lang artikels, foto’s, video’s en ander tipes media om stories op ’n kreatiewe manier te vertel deur inhoud vir ons verskillende kommunikasiekanale soos sosiale media, webwerfgeleenthede en nuusbriewe te skep. Ek werk saam met ons skakelmaatskappy om inhoud te fasiliteer wat ons na die hoofstroommedia uitstuur. Ek werk ook nou saam met ons digitale bemarker om inhoud te skep waarvoor ons betaal om ons programme te bemark en dan saam met ons werwingspan om met voornemende studente in verskillende fases van die inskrywingsproses te kommunikeer. Tydens groot geleenthede soos gradeplegtigheid gebruik ons hoofsaaklik sosiale media om alle belanghebbendes op hoogte te hou van gebeure. Hoe lyk ʼn tipiese werkdag? Ek werk saam met ’n baie talentvolle span wat uit ’n kopieskrywer, grafiese ontwerper, fotograaf/videograaf en geleentheidskoördineerder bestaan. Ons hou gewoonlik dinkskrums saam met ons skakelmaatskappy oor idees vir stories, of soms kry ons stories van ons studentekoördineerders en ons volg ook die Stellenbosch Bestuurskool-strategie om inhoud te skep wat met ons strategiese pilare ooreenstem. Ons skep ook inhoud saam met ons fakulteitslede, veral wanneer ons meer inligting oor ons verskillende programme aan ons studente wil oordra. ’n Tipiese dag behels dus dat ek die storie kies wat ons daardie dag wil vertel en hoe dit met ons oorkoepelende handelsmerkboodskap ooreenstem. Ons reël óf ’n fotosessie, ’n artikel of ’n video, afhangende van watter instrumente ons dink die beste gaan werk om die storie te vertel. Hoe het jou opleiding of jou vorige ervarings jou vir hierdie rol voorberei?Ek het eers bemarking gestudeer en later ’n meestersgraad in die joernalistiek voltooi. My navorsing het ondersoek of leefstyljoernalistiek ’n versteekte vorm van gratis publisiteit is. Omdat ek as ’n bemarker en ’n joernalis gewerk het, kan ek stories saamstel wat ons handelsmerk se storie bevorder sonder om dit te laat klink asof ons iets aan belanghebbendes verkoop. Ek het vir die Sunday Times en Sunday Independent as ’n joernalis en by die SAUK as ’n nuusvervaardiger gewerk. Ek was ’n konsultant in bemarking, skakelwese en kommunikasie vir Brand South Africa en was ’n konsulterende inhoudskepper vir SA Toerisme.Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US? Daar is soveel mooi stories wat by die US ontgin kan word oor die mense agter die handelsmerk. Ek kom elke dag met mense op alle gebiede van die lewe in aanraking wat tot die uitbouing van hierdie wonderlike handelsmerk bygedra het. Ek glo daaraan om met ons studente te meng – om hulle stories te hoor en om te hoor watter invloed die Bestuurskool op hulle gehad het. Ek geniet dit om te luister wanneer hulle oor hulle gunstelingdosente praat, want vir my is hulle my kollegas met wie ek in die kantoor in aanraking kom, so ek sien nooit hoe hulle optree wanneer hulle klasgee nie. Dit is altyd interessant om na die verskillende perspektiewe oor jou kollegas te luister. Ek het dit ook geniet om aan ons #VerantwoordelikeLeierskap-veldtog te werk waarvoor ons studente, fakulteits- en ’n paar van ons personeellede byeengebring het om hulle definisie van verantwoordelike leierskap te gee. Dit was so interessant om die verskillende sienings te hoor waaruit ons belangrikste waarde bestaan. Vertel ons iets opwindends of interessant oor jouself wat min mense sou verwag?Ek is ’n jogi. Ek is passievol daaroor dat jou verstand, liggaam en siel met mekaar belyn is. Ek het in 2021 begin joga beoefen om my senuweestelsel te normaliseer om van die vinnige pas in die nuuskantoor te herstel. Ek het verlief geraak op die konsep om beweging te gebruik om jou verstand tot ruste te laat kom. Ek is ook nie ’n groot liefhebber van harde, hoë-impak oefening nie, so joga was dus die beste manier om my liggaam, verstand en siel fiks te hou. Ek doen vier keer per week joga.