Skip to main content
Maties onder 200 jong inspirerende Suid-Afrikaners

Maties onder 200 jong inspirerende Suid-Afrikaners

Corporate Marketing / Korporatiewe Bemarking
27 Junie 2016

Twee oud-Maties en een huidige Matie is pas ingesluit in die Mail & Guardian se 2016 lys van die 200 mees inspirerende Suid-Afrikaners onder die ouderdom van 35. Die 2016-lys is in die Mail & Guardian van Vrydag (24 Junie 2016) gepubliseer.

Die Maties is Ethan Newman, 'n doktorale student in die Departement Plant- en Dierkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US), Koot Kotze, 'n intern by die Oos-Londen-hospitaal kompleks, en Nadia Carstens van die Afdeling Menslike Genetika aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits).

Wat hierdie lys so indrukwekkend maak is die feit dat meer as 1000 nominasies vir die 2016 uitgawe ontvang is. Die 200 jongmans en -vroue is gekies in 11 kategorieë wat wissel van kuns en kultuur, opvoeding, sport, gesondheid, wetenskap en tegnologie tot besigheid en die reg.

Volgens Verashni Pillay, redakteur van die Mail & Guardian, is hierdie jongmense  vol nuwe idees, talent en energie om Suid-Afrika vorentoe te neem.

Newman, een van die top volgende-generasie navorsers in die land, het sy oog op 'n loopbaan in die biologiese wetenskappe en wil ook graag sy eie laboratorium oprig. Die hooffokus sal wees op navorsing oor evolusionêre biologie –​ hoekom dinge is soos wat dit is. Hy het al verskeie toekennings, merietebeurse en navorsingstoelaes ontv

2D1A5691.jpg
ang, en sê hy hoop sy werk sal help om volhoubare ontwikkeling te bevorder en mense se band met die natuur te herstel.

Kotze, ʼn oud-student in die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, en ontvanger van die Universiteit se Kanseliersmedalje vir 2015, het die lys gehaal vir sy uitstaande akademiese prestasies en vir sy aktiewe rol in die bekendstelling van die TB-bewusmakingsorganisasie, TB Proof. Dié organisasie fokus op groter bewustheid van en beskerming teen beroeps- en gemeenskapsgebaseerde TB-oordrag, op tekortkominge in die voorkoming en behandeling en op die destigmatisering van TB. Kotze is ook 'n lid van die Safe Working Hours-veldtog wat gemik is op beter beheer oor die aantal opeenvolgende ure wat dokters moet werk.

Hoewel Carstens as mediese wetenskaplike en genetikus by Wits werk, het haar akademiese reis by die US begin waar sy haar meesters- en doktorsgraad in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe verwerf het.

Carstens gebruik haar vaardighede in bio-informatika om nuwe siektegene op te spoor en nuwe diagnostiese toetse te ontwikkel. Sy sê navorsers in Afrika behoort bio-informatika te gebruik om genetika op die kontinent te bevorder.

Foto 1: Ethan Newman

Foto 2: Koot Kotze (regs) by sy gradeplegtheidseremonie.