Skip to main content

Meganiese Ingenieurswese

Meganiese ingenieurswese word gekenmerk deur die veld se betrokkenheid by strukture, beweging en energie-oordrag. Meganiese ingenieurs is verantwoordelik vir die ontwerp, ontwikkeling, produksie en bemarking van byvoorbeeld masjiene en masjienelemente, voertuie, vliegtuie, vaartuie, missiele, verkoelingstelsels, koeltorings en enjins. Hulle organiseer en bestuur ook industriële installasies en prosesaanlegte en speel dus 'n deurslaggewende rol in byna alle ingenieursprojekte om te verseker dat hulpbronne doeltreffend gebruik word.

Termodinamika, vloeistofmeganika, strukturele meganika en meganiese ontwerp is die belangrikste dissiplines in hierdie velde. Opleiding is dus veelsydig en lei tot belangrike en professionele loopbane in bv. lugversorging en verkoeling, kragopwekkingstelsels, energiebehoud, vervoeringenieurswese, lugvaartkunde, geraas en vibrasie en biomediese ingenieurswese. Op nagraadse vlak kan meganiese ingenieurs spesialiseer in 'n wye verskeidenheid velde. Besoek asseblief ons webblaaie oor Nagraadse Studies en Navorsing vir meer inligting oor die beskikbare opsies.

Wat jy sal studeer

In die eerste jaar van die BEng-graadprogram word 'n fondament gelê in wiskunde, die natuurwetenskappe en ingenieurstekeninge. In die tweede jaar val die klem op wiskunde en die ingenieurswetenskappe. Afgesien van verdere werk in die ingenieurswetenskappe en komplementêre studies, soos projekbestuur, fokus die kollig skerp op ingenieursprobleme en ontwerp in die derde en vierde studiejare.

Besoek asseblief die webwerf van die Fakulteit Ingenieurswese vir 'n aflaaibare weergawe van ons Jaarboek.

Hierdie dokument bevat meer inligting oor voorgraadse studie, soos die kurrikulum van elke studiejaar.

Loopbane in Meganiese Ingenieurswese

Daar is baie loopbaanopsies – van ontwerp, produksie, ontwikkeling, verkope, navorsingsbestuur of instandhouding in nywerhede soos:

  • ​Lugvaartbedryf
  • Motorbedryf
  • Biomediese ingenieurswese
  • Besigheid en bestuur
  • Konstruksie
  • Produkontwikkeling
  • Onderwys
  • Energievoorsiening en alternatiewe vorme
  • Vervaardiging en outomatisering
  • Mariene ingenieurswese
  • Mynbou
  • Navorsing en ontwikkeling
  • ​Vervoer