Skip to main content
Career guidance team
Image by: Venue photographer
Ekonomie, ondernemingsbestuur en openbare bestuur

Loopbaanvoorligtingsprojek open nuwe wêrelde

Ronél Beukes
18 Desember 2025
  • Die Loopbaanvoorligtingsprojek vir hoërskole bemagtig leerders om ingeligte, doelgerigte vak- en loopbaankeuses te maak – besluite wat moontlik nie net hul eie toekoms kan transformeer nie, maar ook dié van hul gemeenskappe.

Die Loopbaanvoorligtingsprojek vir hoërskole bemagtig leerders om ingeligte, doelgerigte vak- en loopbaankeuses te maak – besluite wat moontlik nie net hul eie toekoms kan transformeer nie, maar ook dié van hul gemeenskappe.

Wat byna sewe jaar gelede as ’n klein intervensie deur ’n toegewyde span akademici en studente van die Universiteit Stellenbosch (US) begin het, het beduidend uitgebrei tot nege skole in areas soos Franschhoek, Kayamandi, Cloetesville, Kylemore, Jamestown en Delft.

Die projek, wat nou ’n gesamentlike inisiatief van die Departemente Bedryfsielkunde en Sielkunde is, is deur dr. Michelle Visser van die Departement Bedryfsielkunde en prof. Tony Naidoo van die Departement Sielkunde van stapel gestuur. Die projekspan sluit ook professors Stephan Rabie en Izanette van Schalkwyk in, sowel as projekkoördineerder Francois van den Berg, ’n meestersgraadstudent in sielkunde.

Studente en personeel werk nou saam om materiaal te ontwerp en interaktiewe werksessies aan te bied. Dié sessies help leerders om hul belangstellings en sterkpunte te verken en te identifiseer, en dit by geskikte loopbaanrigtings te pas. Dit stel hulle in staat om uiteindelik ingeligte vakkeuses in Graad 9 en loopbaanbesluite vanaf Graad 10 te neem.

Finansiering van die Rupert-stigting het die projek ’n groot hupstoot gegee en die verdere ontwikkeling daarvan moontlik gemaak. Vandag sluit die program kleurvolle loopbaanvoorligtingsboekies in Engels, Afrikaans en isiXhosa in; plakkate; ’n toegewyde webtuiste propvol hulpmiddels en praktiese advies; en gestruktureerde ondersteuning vir lewensoriënteringsonderwysers by die betrokke skole.

Aanvanklik is die projek in werksessieformaat geïmplementeer, maar later omgeskakel na gefasiliteerde sessies deur ’n selfgerigte weergawe van die werkswinkelinhoud in ’n gebruikersvriendelike boekie saam te stel. Hierdie verandering is deur die COVID-19-pandemie genoodsaak.

"Loopbaanvoorligting en -berading behoort ideaal gesproke een-tot-een plaas te vind," sê dr. Visser. "Maar weens die oorweldigende aanvraag, bereik ons nou soveel leerders as moontlik deur groepsgebaseerde werkswinkels."

Onbeperkte moontlikhede

Elke sessie word deur twee of drie opgeleide studente gefasiliteer. Die oefeninge in die boekies help leerders om oor hul persoonlikheidseienskappe, belangstellings, akademiese prestasies, droomberoepe, sterkpunte, ens. na te dink. Leerders mag die boekies hou sodat hulle weer daarna kan kyk en hul idees met ouers of onderwysers kan bespreek.

Werksessies verskaf ook praktiese inligting oor internskappe, vakleerlingskappe en vrywillige werk, asook wenke oor hoe om aansoek te doen vir beurse, studiebeurse en studielenings. Leerders word aangemoedig om loopbaanuitstallings en opedae by te woon, en om digitale hulpmiddels te gebruik om hul kennnis van geleenthede ná matriek uit te brei.

Die ontwikkeling van ’n boekie is geen geringe taak nie. “Dit neem sowat twee jaar se navorsing, toetsing en loodsprojekte om ’n enkele uitgawe te finaliseer,” verduidelik dr. Visser. “Ons stel eers die raamwerk saam deur konsultasie met onderwysers en terugvoer van leerders.”

Die Graad 9-boekie is reeds in sy vierde uitgawe, terwyl die Graad 10-boekie tans sy tweede hersiening ondergaan. ’n Graad 11-boekie is in die ontwikkelingsfase, asook digitale weergawes om toeganklikheid te verbeter.

“Ons uiteindelike visie is om ’n gestandaardiseerde nasionale raamwerk vir loopbaanvoorligting daar te stel,” voeg dr. Visser by. “Om dit te bereik, sal ons egter meer ondersteuning en hulpbronne benodig. Met voortgesette hulp van ons vennote en die gemeenskap, sal ons aanhou werk om daardie doel te bereik.”

Gemeenskapsverhoudinge

As projekkoördineerder speel Van den Berg ’n sleutelrol om die program glad te laat verloop. Sy verantwoordelikhede sluit die volgende in: logistieke bestuur, reël van skoolbesoeke, koördinering van die vrywillige studentefasiliteerders en om seker te maak dat die leerdersmateriaal en peuselkos op die dag van die skoolbesoek gereed is. “Ons bied peuselpakkies as aansporing aan om die leerders te motiveer om ten volle aan die werksessies deel te neem,” sê hy.

Bo en behalwe sy rol as logistieke bestuurder, is Van den Berg ook ’n belangrike skakel tussen die projek en die skole. “Ons het sterk verhoudings met lewensoriënteringsonderwysers en skoolhoofde gebou. Hulle terugvoer is noodsaaklik; dit help ons om te verbeter en steeds aan leerders se behoeftes te voldoen.”

Baie leerders staar die dubbele uitdaging van beperkte loopbaanbewustheid en vakkeuses in die gesig. “Hulle weet dikwels van net ’n klein aantal loopbaanopsies, en hulle aanvaar dat hulle skole se vakke die enigstes is waaruit hulle kan kies,” verduidelik hy.

Leer, impak en navorsing in aksie

Volgens dr. Visser is die projek ’n uitstekende voorbeeld van hoe US se drie kernfokusareas – leer en onderrig, navorsing en sosiale impak – op kragtige wyse kan saamwerk.

Nagraadse studente word as fasiliteerders opgelei, wat hulle die geleentheid gee om hul akademiese kennis toe te pas. Die omliggende gemeenskap baat by geteikende, navorsingsgebaseerde intervensies, terwyl die projek self as vrugbare grond dien vir voortgesette studente-navorsing.

Oor die jare het studente waardevolle navorsing gedoen wat die materiaal en metodes wat in die program gebruik word, beïnvloed en verfyn het.

Dr. Visser beklemtoon ook die impak op studente wat by die projek betrokke is. “Dit is ongelooflik bevredigend om te sien hoe hulle groei – professioneel én persoonlik – deur hul betrokkenheid by leerders. Hulle begin die uiteenlopende werklikhede van Suid-Afrikaanse gemeenskappe verstaan, asook die rol wat hulle kan speel om betekenisvolle verandering teweeg te bring.”

Die Loopbaanvoorligtingsprojek vir hoërskole bemagtig individue om ingeligte besluite oor hul toekoms te neem en maak ’n bydrae tot ’n meer inklusiewe, vaardige en veerkragtige samelewing. Dit weerspieël die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se blywende verbintenis tot ’n toekoms waar onderwys die dryfkrag agter ekonomiese geleenthede en sosiale verandering is.

Merkers

Ekonomie Ekonomie

Verwante stories