Jillian Marthinussen: ’n Standvastige hand en ’n warm hart by SBS
- Jillian Marthinussen: ’n Standvastige hand en ’n warm hart by SBS
Meer as drie dekades lank is Jillian Marthinussen al deel van die hartklop van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by die Universiteit Stellenbosch. As een van die personeellede met die langste diens, het sy gesien hoe die Stellenbosch Besigheidskool (SBS) ontwikkel tot die dinamiese, toekomsgerigte instelling wat dit vandag is.
Jillian se verhaal begin ver van bedrywige lesingsale en digitale klaskamers af. Sy was die jongste van ses kinders en het grootgeword op ’n plaas naby Stormsvlei in die Overberg. Haar pa — ’n skoolhoof, onderwyser en prediker oorspronklik uit die ou Transkei — het die waardes van onderwys, diens en volharding by haar ingeskerp. Dié waardes sou haar dwarsdeur haar lewe rig en lei.
Nadat die gesin na Kaapstad verhuis het, het Jillian gematrikuleer en ’n jaar lange sekretariële kursus voltooi voordat sy begin werk het. Sy is later getroud en het met ’n gesin begin voordat sy in Mei 1994 as ’n deeltydse ontvangsdame by SBS – toe onder leiding van prof David (Dave) Tromp – aangestel is.
“Dit het my destyds perfek gepas, want my drie kinders – ’n dogter en twee seuns – was nog klein,” vertel sy met ’n glimlag.
Twee jaar later het sy na akademiese administrasie oorgeskakel en nog later na akademiese ondersteuning; ’n rol waarin sy steeds ’n kalm, diepgaande verskil maak. Vandag werk Jillian as assistent van die hoof van die Meestersgraadprogram in Besigheidsadministrasie (MBA), terwyl sy ook ander akademici met toewyding en grasie ondersteun.
In haar 31 jaar by SBS het Jillian talle veranderinge beleef — in leierskap, struktuur en selfs in die fisiese ruimtes om haar. “Ons het ver gekom — van byna argaïese lesingsale en kantore tot digitale, slim geboue wat soveel aan studente en personeel bied,” sê sy. “Deur die jare het die diversiteitsprofiel van die personeel ook baie verbeter.”
Wat egter nie verander het nie, is Jillian se toewyding aan die mense saam met wie — en vir wie — sy werk. Sy koester die interaksie met studente, wie se uiteenlopende lewenservarings haar lewe met vars perspektiewe verryk.
“Die bevredigendste deel van my werk is om te weet dat diegene vir wie ek sorg, my as bekwaam beskou en my vertrou om lojaal en oordeelkundig te wees,” sê sy.
Haar warmte en integriteit het haar die agting van kollegas dwarsdeur die Skool besorg. Jarelange medewerker Cynthia Lategan-Kriel beskryf haar as “altyd bereid om te help, maak nie saak hoe besig sy is nie. Sy doen alles met warmte, professionaliteit en opregte vriendelikheid en dis net ’n vreugde dat sy deel is van ons span.”
Prof Marlize Terblanche-Smit, een van die akademici wat deur Jillian ondersteun word, vertel ook van haar warmte, kalmte en medemenslikheid. “Jill het ’n ongelooflike vermoë om jou te laat voel asof jy die enigste persoon is vir wie sy werk, omdat sy kennis dra van jou werks- én persoonlike lewe en werklik daaroor omgee.
“Sy is soveel meer as ’n persoonlike assistent. Sy is vindingryk, buigsaam, strategies, professioneel, proaktief en aanvaar voortdurend nuwe verantwoordelikhede bo en behalwe haar gewone verpligtinge. Haar kennis en begrip van die stelsels, beleide en vereistes van sowel die Universiteit as die Besigheidskool is uitsonderlik,” voeg prof Terblanche-Smit by.
Jillian se lang loopbaan word gekenmerk deur mylpale en kosbare herinneringe — van ’n onvergeetlike buitelandse besoek saam met ander administratiewe personeel aan Europese universiteite (in 2006), tot erkenning vir volgehoue uitnemendheid en haar langdienstoekenning vir 25 jaar se toewyding.
Wanneer sy nie by die werk is nie, lei Jillian ’n gebalanseerde en vervulde lewe. Sy geniet joga, lang wandelings en legkaarte — en erken dat sy van ’n goeie TV-reeks hou. Sy en haar man was vroeër ywerige teatergangers en het kosbare herinneringe aan optredes deur David Kramer en Taliep Petersen by die Baxter-teater, sowel as opgewekte ghoema- en jazzvertonings.
Deesdae put sy haar grootste vreugde uit familiegeleenthede. Hierdie Kersfees sien sy uit na ’n gesinsfees saam met haar drie volwasse kinders en hul gades — en haar geliefde vrugtekoek. Die skoenlapper- en visvormige verjaarsdagkoeke van lank gelede is dalk nou net herinneringe, maar die warmte en sorg wat daarin gegaan het, is sprekend van wie Jillian is: toegewyd, kreatief en vol deernis.
Na 31 jaar is Jillian se bydrae tot die Stellenbosch Besigheidskool veel meer as wat enige rolbenaming kan beskryf. Sy is deel van die Skool se lewende geskiedenis — ’n standvastige teenwoordigheid wat geslagte studente en kollegas met lojaliteit, opregtheid en stille krag ondersteun het.