Skip to main content
EMS 100 Celeberations
Ekonomie, ondernemingsbestuur en openbare bestuur

EBW100: Nadenke oor ‘n Eeu van Groei en Vooruitgang

Aamirah Sonday
11 November 2025
  • EBW100: Nadenke oor ‘n Eeu van Groei en Vooruitgang

EBW100: Nadenke oor ‘n Eeu van Groei en Vooruitgang

Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) by die Universiteit Stellenbosch (US) het op Vrydag, 24 Oktober 2025, sy indrukwekkende 100ste bestaansjaar gevier – 100 jaar waarin die Fakulteit leiers help vorm het, verandering geïnspireer en die gemeenskap bevorder het. Die kleurryke geleentheid het huidige en afgetrede personeel, alumni, universiteitsleiers en eregaste ter ere van hierdie mylpaal byeengebring.

EBW se reis het in 1925 begin toe net 15 studente vir twee programme ingeskryf was: ’n Baccalaureusgraad in Handelswetenskappe (BCom) en ’n Diploma in Handelswetenskappe (DipCom). Vandag is EBW die grootste fakulteit by US met meer as 9 000 studente en bied ’n wye reeks voor- en nagraadse programme aan.

Die Fakulteit het baie uitdagings die hoof gebied, insluitend ’n stadiger begin met transformasie in vergelyking met sy tydgenote, maar het beduidende vordering op die gebiede van diversiteit en inklusiwiteit gemaak. In sy toespraak het die waarnemende dekaan, prof Pieter von Wielligh, opgemerk: “Ons sal saam vorentoe gaan met die transformasie van die ekonomie en die samelewing – nie net in teorie nie, maar in die praktyk.” In die afgelope twee dekades het EBW die volgende mylpale behaal: die aanstelling van die eerste swart vol professor, die eerste swart departementshoof, die eerste vroulike dekaan en (onlangs) die eerste swart dekaan. Voortgesette vordering word bevestig deur die feit dat vroue nou meer as die helfte van die fakulteitspersoneel uitmaak.

In die tema van ons eeufees, “die transformasie van die ekonomie en samelewing,” word ons visie en missie vir die ontwikkeling van etiese, betrokke leiers deur middel van inklusiwiteit, navorsing met impak en gemeenskapsvennootskappe saamgevat. Noemenswaardige inisiatiewe wat hierdie missie ondersteun, sluit die volgende in:

  • Die SMART (School of Accountancy Mathematics and Accounting Rural Tutoring) Program stel Rekeningkundestudente in verbinding met landelike naskoolsentrums rondom Stellenbosch en bied só noodsaaklike wiskundetutoriale aan minderbevoorregte leerders;
  • IGNITE, ‘n universiteitswye ervaringsleerprogram, is daarop gemik om die entrepreneursgees onder voor- en nagraadse studente aan te wakker en hulle met vaardighede toe te rus om hul eie ondernemings te begin, wat ekonomiese ontwikkeling en selfstandigheid aanhelp;
  • Die Kleinsake-akademie (SBA) bemagtig kleinsake-eienaars uit lae-inkomste gemeenskappe met vaardighede, opleiding, mentorskap en besigheidsontwikkelingsteun om hul ondernemings uit te brei; en
  • Die Loopbaanvoorligtingsprojek vir Hoërskole verskaf omvattende ondersteuning aan Graad 9-leerders deur middel van werkswinkels, gepaste beroepsvoorligtingsmateriaal, ’n toegewyde webtuiste en verpersoonlikte sessies om leerders voor te berei vir, onder meer, die kritieke Verdere Onderwys- en Opleidingsfase.

Die geleentheidsprogram het toesprake deur die waarnemende dekaan, prof Pieter von Wielligh, en voormalige dekaan, prof Johann de Villiers, ingesluit. Prof Ada Jansen, visedekaan, het ’n roerende voordrag van Lebogang Mashile se gedig, "You and I," gelewer. Stemmingsvolle reëls soos:

“You and I
 We are the keepers of dreams
 We mould them into light beams
 And weave them into life’s seams”

het diep getref en nadenke oor konneksie, gedeelde verantwoordelikheid en transformasie geïnspireer.

Die tafels is met spekboomplante versier, wat groei en veerkrag simboliseer; byna soos EBW se reis. Gaste het vrolik met mekaar gemeng, nuwe konneksies gemaak, oor generasies heen herkonnekteer en die aktiwiteite geniet, wat Moyo-gesigverf, hennakuns en talle fotogeleenthede ingesluit het. 

Afgetrede personeel het die reünies geniet waarna hulle gretig uitgesien het, terwyl huidige kollegas die tydige blaaskans vóór die besige assesseringstyd aangegryp het.

Die geleentheid is uiteindelik op ’n hoë (dans)noot afgesluit. Dit was ’n jubelende uitdrukking van EBW se lewendige, inklusiewe gemeenskap. EBW100 was ’n viering van vorige prestasies, besinning oor ons geskiedenis en ’n hoopvolle, verenigde tree die toekoms in.

-einde-

555 words

Merkers

Ekonomie

Verwante stories