Skip to main content

Sosiale Impak

Om ʼn tasbare sosiale impak te maak, is deel van die visie van die Skool vir Rekeningkunde (SvR) en as sulks, is dit deel van die opvoeding, leer en navorsing wat ons personeel doen. Die personeel van die SvR maak ʼn sosiale impak deur hulle betrokkenheid by groot projekte in hulle persoonlik kapasiteit, asook betrokkenheid binne die Universiteit landskap en die rekeningkundige professie, hetsy deur middel daarvan om op komitee te dien en/of deur verteenwoordiging van professionele organisasies. Verskeie personeellede deel ook hulle tyd en kennis vrywilliglik deur op die raad van maatskappye sonder winsoogmerk te dien, onder andere Stellenbosch Hospice, Maties Gemeenskapsdiens, ChangeAbility. Ons studente en akademiese klerke het ook 'n sosiale voetspoor deur verskeie jaarlikse projekte, insluitende insamelings. 

Verdere inligting 

Diegene wat belangstel, kan verdere inligting kry rakend die projek: 

Me Natalie Jansen 
Tel: +27 21 808-9720 
E-pos: [email protected] 

Vir vrae rakende die projek inhoud, kontak: 

Prof Riaan Rudman 
Tel: +27 21 808-2701 
E-pos: [email protected]


Die wêreld betree ʼn tydperk van beduidende verandering. Of dit nou gaan oor die eksponensiële veranderinge in die gebruik, toepassing en krag van tegnologie, klimaatsverandering, of die verwagte verskuiwing in die politieke en sosiale sfeer, die invloed van hierdie verandering het ʼn fundamentele impak op alle aspekte van die moderne lewe, beide persoonlik en professioneel. Die meeste van hierdie veranderinge is teweeggebring deur die Vierde Nywerheidsrevolusie – ʼn revolusie waarin nuwe tegnologieë of nuwe wyses van wêreldbeskouing veranderinge in ekonomiese en sosiale strukture veroorsaak. Dit het dus ook ʼn impak op ons waardes en geloofstelsels en sal vereis dat sekere bestaande idees, teorieë en oortuigings hersien word.

Wêreldwyd, en ook in Suid-Afrika, het die samelewing ʼn verskuiwing in prioriteite geëis na Transformasie. Transformasie kan sistemies beskou word, wat impliseer dat transformasie van en deur die organisasie bydra tot die transformasie van die samelewing. Transformasie van die organisasie en transformasie deur die organisasie is onderling verbind en wederkerig versterkend, veral te midde van die wêreldwye verskuiwing in openbare pedagogieë na dekolonialisering, indigenisering en desegregasie.

In onlangse jare was daar ʼn verskuiwing weg van die maksimering van korttermynwins teen alle koste, na die skep van aandeelhouerswaarde, met die fokus van vooruitdenkende ondernemings wat nou val op die oorweging van belanghebbendes en die ekosisteem waarin organisasies hulself bevind. Dit beïnvloed hoe organisasies sake doen en hoe hulle aan belanghebbendes verslag doen.

Daar was ook ʼn verandering in hoe die interaksie met belanghebbendes en die samelewing beskou kan word. Organisasies – en universiteite – het wegbeweeg van “gemeenskapsdiens” na ʼn strewe om ʼn samelewingsimpak te maak deur alles wat hulle doen. In ʼn universiteitskonteks strek dit tot die navorsing wat gedoen word, en die eienskappe wat in studente ontwikkel word voordat hulle die arbeidsmark betree. Hierdie eienskappe sluit in ʼn ondersoekende ingesteldheid, ʼn betrokke burger, ʼn dinamiese professionele persoon – terwyl hulle ʼn afgeronde individu bly. In reaksie hierop streef die Skool vir Rekeningkunde daarna om ʼn gegradueerde aan die mark te lewer wat ʼn eties-verantwoordelike leier is, wat sy of haar sosiale mandaat kan vervul deur geïntegreerde denke te gebruik om volhoubare waarde te skep. Ons beskou beide tegniese kennis en nie-tegniese (sagte) vaardighede as van kritieke belang in ons onderrigbenadering.

Om ʼn tasbare sosiale impak te maak, is ingebed in die visie van die Skool vir Rekeningkunde en word dus ook in onderrig-, leer- en assesseringsontwerp geïntegreer. Die begrip van sosiale impak word in die Skool se kurrikulum ingebou deur die onderrigfilosofie van die Skool, wat studentesentries is eerder as kennisgesentreerd, om te verseker dat gegradueerdes in staat is om die vraagstukke van hul tyd aan te spreek.

  • Sommige voorbeelde van hoe die kurrikulum hervorm en vernuwe word om studente met die toepaslike gegradueerde eienskappe vir sosiale impak te lewer, sluit in:

  • ʼn Deurlopende proses waardeur die Skool dosente toerus om die nodige nie-tegniese vaardighede (d.w.s. gegradueerde eienskappe) in hul modules te integreer. Sodanige vaardigheidsontwikkeling vind plaas deur kolloquia en ad hoc werksessies waar kundiges opleiding aan dosente bied.

  • In ooreenstemming met ʼn akademiese benadering tot onderrig, word kollegas aangemoedig om innoverend te wees in hul onderrigmateriaal en -metodes, en daarna te reflekteer oor die doeltreffendheid van hul innovasies. Aan die einde van elke jaar word ʼn interne mini-konferensie georganiseer waar kollegas hul nuwe idees en praktyke kan deel. Die doel is om soortgelyke idees by ander kollegas wat verskillende modules aanbied, aan te wakker en personeel aan te moedig om aan akademiese aktiwiteite, soos navorsing, deel te neem terwyl hulle innoveer.

  • Personeel neem deel aan die Communities of Best Practice oor onderrig en leer, assessering, sakevernuf, digitale vernuf, kritiese denke, etiek en die openbare sektor, soos geïnisieer deur die South African Institute of Chartered Accountants (SAICA). Hulle werk saam met personeel van ander universiteite om kennis te skep oor hoe om hierdie aspekte in die akademiese program te integreer en gegradueerdes met die nodige eienskappe te ontwikkel.

  • Met inagneming van die toenemende belang van digitale vernuf, is twee modules oor digitale vernuf, wat fokus op outomatisering en programmering sowel as data-analise, ontwikkel.

In lyn met die waarde van lewenslange leer, word dit belangrik geag om ook die verantwoordelikheid vir selfontwikkeling by die studente self te plaas. Daarom word studente in die SAICA-geakkrediteerde programme vereis om ʼn portfolio van bewyse saam te stel met betrekking tot elk van die waardes en vernuf in SAICA se nuwe CA2021-competency framework.

Verdere inligting

Belangstellendes kan verdere inligting oor die onderrig- en leerfilosofie bekom by:

Prof. Stiaan Lamprecht
Tel: +27 21 808-3844
E-pos: [email protected]
 

 

Studentesukses staan sentraal tot die aktiwiteite van die Skool vir Rekeningkunde (SvR). Met dié doel het die SvR verskeie inisiatiewe om studente met onderrig en leer te ondersteun. Twee van hierdie projekte is die Thuthuka-beursprogram en die Ikusasa-studentehulpfondsprogram, wat gekoördineer word deur ʼn projekspan wat verantwoordelik is vir die verskaffing van omvattende (“wrap-around”) ondersteuning aan studente.
Thuthuka-beursprogram

Thuthuka is ʼn transformasie-inisiatief van die South African Institute of Chartered Accountants (SAICA), wat daarop gemik is om voorheen benadeelde leerders aan te moedig om die beroep van geoktrooieerde rekenmeester te betree. Die Stellenbosch Thuthuka-beursprogram bestaan uit vier hoofkomponente. Die belangrikste komponent is die student self, wat verantwoordelikheid vir sy of haar toekoms moet aanvaar en die bestaande geleenthede optimaal moet benut. Akademiese sukses is die tweede belangrike komponent, waartydens studente aan verskeie transformasie- en akademiese kwaliteitsinisiatiewe van die Skool deelneem, onder andere deur akademiese hulp- en ondersteuningsprogramme.

Studente neem ook deel aan doelgerigte modules in lewens- en werkplekvaardighede. Die laaste, maar baie belangrike, komponent is sosiale impak. Verskeie dosente is betrokke by die bestuur van hierdie projek. Die meeste dosente in die Skool dien as mentors vir Thuthuka-studente gedurende die volle duur van hul studies.

Studente is ook in hul persoonlike hoedanigheid aktief betrokke in die gemeenskap. Hulle neem jaarliks aan verskeie gemeenskapsdiensprojekte deel, wat wissel van die toepassing en oordrag van hul pasverworwe rekeningkundige kennis aan skoolleerders, tot sportafrigting in hul tuisgemeenskappe en die verspreiding van voedsel aan minderbevoorregtes. As groep gee Thuthuka-studente ook terug aan die gemeenskap deur middel van jaarlikse projekte waarin hulle hul kennis en vaardighede deel.

Vir meer inligting en kontakbesonderhede oor die beursprogram, besoek gerus:
http://www.sun.ac.za/english/faculty/economy/accounting/programmes/thuthuka-bursary-programme

fact-sheet.pdf (217.7 KB)

Ikusasa-studentehulpfondsprogram (ISFAP)

Die ISFAP-projek is ʼn nasionale beursinisiatief wat deur SAICA bestuur word. Dit is gerig op studente wat deel vorm van die sogenaamde “missing middle” – dit wil sê studente uit gesinne met ʼn gesamentlike inkomste van minder as R600 000 per jaar. Die teikengroep is studente wat studeer vir professionele kwalifikasies soos geoktrooieerde rekenmeesters, ingenieurs en mediese dokters.

Die akademiese ondersteuning wat aan studente gebied word, is soortgelyk aan die ondersteuning wat aan studente in die Thuthuka-beursprogram verleen word.

Vir meer inligting oor die projek en kontakbesonderhede, besoek:
Bursaries-loans/funding-opportunities
 

Die jaarlikse Teacher Enrichment Program (TEP) is ʼn samewerkingsinisiatief tussen die Skool vir Rekeningkunde aan die Universiteit Stellenbosch en die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD). Die fokus van die program is aanlyn opleiding vir onderwysers in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe regoor die Wes-Kaap.

Die Skool vir Rekeningkunde bied ʼn reeks aanlyn opknappingswerksessies aan. Die doel van hierdie werksessies is om onderrigvermoë te versterk deur kennis en vaardighede te verskaf aan onderwysers wat tans hierdie vakke aanbied, en om hulle te help om hierdie konsepte meer doeltreffend aan leerders te verduidelik.

fact-sheet.pdf (376.29 KB)

Verdere inligting

Belangstellendes kan verdere inligting oor die projek in hierdie verband bekom by:

Me. Waldette Engelbrecht
Tel: +27 21 808-9941
E-pos: [email protected]

Die Ex-Cell-projek, wat deur die Sosiale Impak-toekenning befonds word, is in Mei 2021 van stapel gestuur. Die Ex-Cell-projek is ʼn samewerkingsinisiatief tussen die Universiteit Stellenbosch, die Skool vir Rekeningkunde en die Departement van Korrektiewe Dienste.

Die projek het ten doel om leer te “vermenslik” deur te fokus op die sosiale, ubuntu-gefokusde dimensies van leer – samewerking, gemeenskapsbou en verbondenheid. Hierdie werksessie se tema is om deelnemers te bemagtig om beter voorberei te wees vir die sakewêreld deur gevangenes en paroolgangers op te lei om indiensneming te vind en sakeplanne te ontwikkel wat hulle in staat stel om ná hul vrylating ʼn bestaan in die besigheidswêreld te maak. Die program is ʼn vry-toegang-inisiatief, oop vir die breër publiek, en dus ook beskikbaar vir mense wat nie aan die Universiteit studeer nie.Die opvoedkundige loodskomponent van die projek behels dat dosente van die Universiteit Stellenbosch en gevangenisdeelnemers saam leer en van mekaar leer deur middel van dialoog en die deel van ondervindinge.

Deur opvoedkundige en ekonomiese geleenthede vir jong paroolgangers te bevorder, word die projek verder gerig deur die waardes en strategiese temas soos vervat in US se Visie 2040 sowel as die Nasionale Ontwikkelingsplan. Net so baat al die belanghebbendes daarby om van mekaar te leer en idees, ervarings en kennis te deel.

fact-sheet.pdf (559.35 KB)

Verdere inligting

Belangstellendes kan verdere inligting oor die projek in hierdie verband bekom by:

Me. Sher-Lee Arendse
Tel: +27 21 808-9941
E-pos: [email protected]

Mnr. Juan Ontong
Tel: +27 21 808-9230
E-pos: [email protected]