Skip to main content

Voorgraadse Program in Tuinbou

BScAgric (met Tuinbou as hoofvak)

Om 'n graad in tuinbou te verwerf, sal jy die Gewasproduksie-stroom van die BScAgric (Plant- & Grondwetenskappe)-program volg. Dit bestaan uit twee hoofvakke, naamlik Tuinbou gekombineer met een van die volgende: Entomologie, Plantpatologie, Genetika of Landbou-ekonomie. Om Tuinbou met Grondkunde as 'n tweede hoofvak te kombineer, sal jy die rigting Grond- en Waterbestuur volg.

Toelatingsvereistes:

  • Basiese toelatingsvereistes for universiteitstudie:
  • 'n Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) of Onafhanklike Eksamenraad (OER) skoolverlatingsertifikaat soos gesertifiseer deur Umalusi met toelating tot baccalaureusgraadstudies.
  • 'n Universiteitsvrystellingsertifikaat uitgereik deur die Suid-Afrikaanse Matrikulasieraad aan studente met ander skoolkwalifikasies.
  • Die minimum akademiese vereiste vir 'n baccalaureusgraad is:
  • 30% vir 'n Suid-Afrikaanse Taal van Onderrig en Leer (Engels of Afrikaans) en
  • 'n Prestasie-beoordeling van 4 (50% - 59%) in vier 20-kredietvakke
  • Slegs "School of Tomorrow"-aansoekers moet die Nasionale Normtoetse (NNT's) skryf as hulle aansoek doen vir 'n program in AgriWetenskappe.​
  • Fakulteitsvereistes vir BScAgric Plant- en Grondwetenskappe met Plantpatologie as 'n hoofvak
  • 'n Gemiddeld van ten minste 60% in die NSS, OER of relevante finale skooleksamen. Die gemiddeld word bereken deur jou hoogste punt in die Taal van Onderrig en Leer-vak (Engels of Afrikaans) + (5 x beste uitslae in 20-kredietvakke uitgesluit Lewensoriëntering en Wiskunde 3) te neem. Die totaal gedeel deur 6 is gelyk aan jou NSS-gemiddeld.
  • ​Afrikaans of Engels (Huistaal of Eerste Addisionele Taal) 4 (50%)
  • Wiskunde 5 (60%)
  • ​Fisiese Wetenskappe (Fisika en Chemie) 4 (50%)

 

​​​Neem kennis:
Alle programme is keuringsprogramme en aansoeke sal oorweeg word volgens die reëls and prosedures soos uiteengesit in die Keuringsriglyne en toelatingsbeleid vir voorgraadse programme vir die Fakulteit AgriWetenskappe. Klik hier vir volledige besonderhede 

 

Voorgraadse Tuinbou-gebaseerde modules:

Vir 'n meer gedetailleerde uiteensetting van alle modules en kombinasies afhangende van jou tweede hoofvak, raadpleeg asseblief die Fakulteit AgriWetenskappe-jaarboek Deel 7, wat gevind kan word op die Voornemende Studente-webblad van die AgriWetenskappe-webwerf Voornemende studente

Gewasproduksie 152 - Inleiding tot toegepaste plantwetenskap
Klassifikasiestelsels en klassifikasie van landbougewasse; struktuur van plante van landboukundige belang; plantgroeireguleerders; ekologiese beginsels en inleidende landbou-ekologie. ​

Gewasproduksie 214 - Plantvermeerdering
Beginsels en praktyke van plantvermeerdering: kort oorsig van verskillende gewastipes en die doel van plantvermeerdering. Plantlewensiklusse en -fases en hul relatiewe belangrikheid in plantvermeerdering. Beginsels van seksuele teenoor aseksuele vermeerdering. Saadvermeerdering en saadproduksie. Aseksuele vermeerdering deur middel van steggies, enting, marcottering (gelaagres) en weefselkultuur. Vermeerdering van plante vanaf gespesialiseerde wortels en stamme. Patogene tydens die vermeerderingsproses en die beheer daarvan. Vermeerdering van spesifieke kommersiële gewasse.​

Tuinbou 314 - Sagtevrugteproduksie
Biologie en tegnologie van sagtevrugteproduksie (kernvrugte, steenvrugte en tafeldruiwe). Draegenskappe, onderstokke, kwekeryboomgehalte, vegetatiewe ontwikkeling, loot- en wortelgroei, groei-reaksies op buig en snoei van lote. Eko-, para- en endo-dormansie (rusperiode). Koolhidraat- en stikstofreserwes. Reproduktiewe ontwikkeling, blomvorming, vrugset, regulering van opbrengs, vruggroei, vrugkleurontwikkeling, vrugrypwording.

Tuinbou 342 - Sitrusproduksie
Biologie en tegnologie van sitrusproduksie. Onderstokke, kwekeryboomgehalte, vegetatiewe ontwikkeling, loot- en wortelgroei. Reproduktiewe ontwikkeling, vruggroei, eksterne en interne vruggehalte.

Tuinbou 352 - Produksiestelsels vir sier-, lower- en aromatiese plante
Biologie en tegnologie van die produksie van snyblomme, lower en kruie/aromatiese plante, insluitend boordgebaseerde fynbosproduksie. Produksievoorwaardes vir geselekteerde blomtipes, fynbos, kookkruie en laventel as 'n essensiële-olieproduserende plant. Beheer van blom-inisiasie, skedulering van blomtyd en oes, kleur- en geurontwikkeling en ander gehalte-eienskappe.

Toegepaste Plantfisiologie 414 - Ekofisiologie van tuinbou- en agronomiese gewasse
Gevorderde beginsels van stomatêre geleidingsvermoë, transpirasie, fotosintese en respirasie. Mikro-klimatologiese invloede op gaswisseling. Effekte van oortollige energie – temperatuur en lig. Die gebruik van chlorofil-fluoressensie as 'n stres-indikator. Opskalering van gaswisseling en koolstofbalans van gewasse. Waterverhoudings van selle, weefsels en die hele plant. Stresfisiologie en voordelige aspekte van stres. Klimaatsverandering en landbou. Teorie en toepassing van ekofisiologiese meettegnieke. ​

Tuinbou 434 - Toegepaste plantfisiologie en boomargitektuur
Lesings: Onderliggende fisiologie van groei, ontwikkeling en produksiepraktyke van tuinbougewasse. Korrelatiewe verskynsels en die rol van planthormone ondersteun deur 'n oorsig van relevante sel-, weefsel- en orgaan-anatomie asook basiese genetiese beginsels. Oorsig van omgewingspersepsie en akklimatisering/aanpassing. Dormansie as morfogenetiese- en oorlewingsmeganisme. Fisiologie van groeistaking, verharding, induksie en progressie van dormansie, rusbreking en vertakking. Boomargitektuur en opleistelsels, beginsels en tegnieke van boommanipulasie en die rol van onderstokke. Integrasie van die bogenoemde met kennis oor produksiepraktyke wat in voorafgaande modules opgedoen is. Prakties: Onder andere lesings deur industriespesialiste oor relevante voor-oes onderwerpe asook besoeke aan vrugteproduksiegebiede om die module-inhoud te illustreer en te ondersteun. ​

Tuinbou 444 - Na-oesfisiologie en -tegnologie
Na-oesfisiologie van vars plantprodukte: struktuur en samestelling van die produk, rol van respirasie en etileenmetabolisme, vrugrypwording en veroudering, fisiologiese defekte of afwykings, voedselveiligheid. Na-oestegnologie: waterverhoudings en psigrometrie, gehalte- en rypheidsparameters, oes en verpakking, verkoeling- en opbergingstegnologie soos beheerde atmosfeer, vervoer van vars plantprodukte. Plantprodukte wat bespreek word om beginsels te illustreer sluit in sagtevrugte (kern, steen and tafeldruiwe) asook sommige tropiese en subtropiese gewasse, snyblomme en groente. Prakties: 'n Navorsingsprojek asook 'n reeks lesings deur industriespesialiste oor onderwerpe soos na-oesprobleme, winsgewendheid van sekere sagtevrugtetipes, markneigings, en alternatiewe gewasse soos fynbos. Besoeke aan die Kaapstad-mark in Epping, pakhuise en koelkamers, snyfasiliteite en die Kaapstad-hawe vir die hantering van uitvoerprodukte.

Toegepaste Plantfisiologie 464 - Voeding van tuinbou- en agronomiese gewasse
Floëemtransport en koolhidraatpartisie. Wortelanatomie, mineraaltoediening, opname en partisie. Gewasgebaseerde voedingsvereistes en toedieningstrategieë; bestuur van vegetatiewe en reproduktiewe balanse en die rol van onderstokke. Faktore wat mineraalopname beïnvloed. Prakties: Onder andere 'n boordverslag. Verbouing van alternatiewe gewasse.​