Opdatering oor US se ‘Lees-en-Publiseer’-ooreenkomste (2026)
- Hiermee word navorsers op hoogte gebring van die 2026 Ooptoegang (OT) ‘lees-en-publiseer’ (L&P)-ooreenkomste met uitgewers.
Oor die afgelope jare het hierdie ooreenkomste publikasiegeleenthede vir navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) aansienlik uitgebrei deur beduidende afslag op artikelverwerkingskoste (APC’s) te bied en, in baie gevalle, outeurs in staat te stel om hul werk as OT te publiseer sonder enige direkte koste. Vanaf 2026 kan US-geaffilieerde navorsers OT publiseer in meer as tienduisend joernaaltitels, waarvan baie deel vorm van die US-Biblioteek se bestaande intekeningportefeulje. Hierdie ontwikkelings word grootliks moontlik gemaak deur ooreenkomste wat deur die South African National Library and Information Consortium (SANLiC) beding is, met die doel om finansiële hindernisse tot akademiese publisering te verminder en terselfdertyd die wêreldwye sigbaarheid en toeganklikheid van Suid-Afrikaanse navorsingsuitsette te verbeter.
Sommige van hierdie L&P-ooreenkomste sluit ’n beperkte aantal artikels in wat OT deur US-geaffilieerde outeurs gepubliseer mag word, terwyl ander onbeperkte publisering toelaat. Gedurende die laaste maande van 2025 en vroeg in Januarie 2026 is ’n aantal outeurs in kennis gestel dat die nasionale toekenning vir OT-publisering by sekere uitgewers uitgeput is. In reaksie hierop het die US Biblioteek- en Inligtingsdiens ’n moniteringsmeganisme ingestel om artikeltoekennings noukeuriger op te volg en outeurs betyds in te lig wanneer publikasielimiete vir spesifieke ooreenkomste byna bereik is. Die biblioteek vertrou dat US-geaffilieerde outeurs wie se OT-voorleggings aan die einde van 2025 weens hierdie beperkings nie kon voortgaan nie, intussen in kennis gestel is dat die uitgewersooreenkomste vir die huidige jaar hernu is.
In 2026 is die American Institute of Physics by die portefeulje van uitgewers gevoeg wat aan die US Biblioteek- en Inligtingsdiens se L&P-ooreenkomste deelneem. Daarbenewens is ses ooreenkomste wat in 2025 sou verval, suksesvol hernu, naamlik dié met die American Chemical Society, Elsevier, IOP Publishing (IOPscience Extra), Oxford University Press, Springer Nature en Wiley. Hierdie hernuwings vul bestaande ooreenkomste aan wat steeds in plek is met die Association for Computing Machinery, Cambridge University Press, Emerald Publishing, Royal Society of Chemistry, SAGE Publishing, Taylor & Francis en The Company of Biologists. Gesamentlik versterk hierdie ooreenkomste die US se verbintenis tot die bevordering van oop wetenskap en die ondersteuning van navorsers om hul werk wyer te versprei.
Die US Biblioteek sal voortgaan om geleenthede na te streef om OT-publisering die standaard opsie vir US-navorsers te maak, ten einde wêreldwye sigbaarheid, navorsingsimpak en uiteindelik die Universiteit se rangorde te verbeter. ’n Omvattende lys van kwalifiserende joernaaltitels wat by hierdie ooreenkomste ingesluit is, is hier beskikbaar.
Vir navrae oor ooptoegangsooreenkomste of enige verwante kwessies, kontak mnr. Sizwe Ngcobo (Bestuurder: Ooptoegang-Navorsing), tel.: 021 808 9907.