Skip to main content
Speakers at the launch of the Library Research Week
Image by: Stefan Els
Gebeure Institusionele nuus

Navorsers aangemoedig om menslike oordeel in die kern van KI-gedrewe wetenskap te hou

Hannelie Booyens
Senior Writer, Corporate Communications and Marketing
20 Mei 2026
  • Die US het Biblioteeknavorsingsweek 2026 met die tema “Wen Groot! Versterk jou navorsing” bekend gestel.
  • Sprekers het die toenemende belangrikheid van KI-geletterdheid, navorsingsinfrastruktuur en etiese wetenskap in ʼn veranderende akademiese landskap benadruk.
  • Prof Francesco Petruccione het gemaan dat KI ontdekking kan versnel, maar ook middelmatigheid kan laat toeneem indien dit onkrities gebruik word.

Soos wat kunsmatige intelligensie (KI) universiteite en navorsingsinstellings wêreldwyd vinnig omvorm, is die Universiteit Stellenbosch (US) se jaarlikse Biblioteeknavorsingsweek met ʼn uitdaging aan navorsers geopen: omarm nuwe tegnologieë, maar moenie wetenskaplike oordeel aan masjiene oorlaat nie.

In sy hoofrede met die bekendstelling vandeesweek van Biblioteeknavorsingsweek in die Biblioteekouditorium van die US, het prof Francesco Petruccione aan akademici, nagraadse studente en navorsers gesê die wetenskaplike gemeenskap betree wat hy beskryf het as ʼn “nuwe wetenskaplike metode” waarin menslike intelligensie en masjienstelsels al hoe meer in die navorsingsproses saamwerk.

“Die gevaar is nie dat KI ons heeltemal oorbodig sal maak nie,” het Petruccione, professor in kwantumrekenaarskunde en Viserektor: kunsmatige intelligensie en kwantumtegnologieë aan die US, gesê. “Die gevaar is dat middelmatigheid in die wetenskap eksponensieel sal toeneem.”

Sy rede, “Die nuwe wetenskaplike metode: navigering van navorsing in die era van KI en kwantumtegnologieë”, het deel van die bekendstelling van die Universiteit se 14de jaarlikse Biblioteeknavorsingsweek uitgemaak.

Biblioteke in die middelpunt van verandering

Ellen Tise, Senior Direkteur van Biblioteek- en Inligtingsdienste, het die geleentheid geopen en die week as ʼn weerspieëling van die Universiteit se “blywende verbintenis tot die ondersteuning en bevordering van navorsingsuitnemendheid” beskryf.

“Vanjaar se tema, ‘Wen Groot! Versterk jou navorsing’, is geïnspireer deur die opwinding en gees vwat met die komende FIFA-Wêreldbekersokkertoernooi gepaard gaan,” het sy gesê. “Net soos wêreldklas-atlete voorberei, aanpas, innoveer en op die hoogste vlak presteer, word navorsers ook uitgedaag om hul vaardighede te verskerp, nuwe tegnologieë te omarm en uitnemendheid na te streef.”

Prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, het gesê biblioteke vorm die middelpunt van die Universiteit se navorsingsekosisteem.

“Biblioteke is meer as bloot bewaarplekke van boeke en tydskrifte. Hulle is dinamiese ruimtes van digitale wetenskap, innovasie, samewerking en kennisskepping.” Met verwysing na die Universiteit se onlangse groei in navorsingsuitsette het sy opgemerk dat die US meer as 5 300 joernaalartikels in 2025 aangeteken het, die hoogste getal in langer as ʼn dekade.

Moyo het ook die onlangse bekendstelling van die US se Immersiewe Tegnologie-laboratorium in die Biblioteek uitgelig as ʼn voorbeeld van hoe akademiese ruimtes ontwikkel om nuwe vorme van navorsing en onderrig te ondersteun. “Hierdie is nie tegnologie ter wille van tegnologie nie, maar gaan oor die verbetering van begrip, die aanmoediging van medewerking en die skep van nuwe geleenthede vir innovasie en impak,” het sy gesê.

Anderkant masjiene

In sy rede het Petruccione aangevoer dat KI nie meer bloot ʼn berekeningsinstrument is wat gebruik word om inligting te verwerk nie, maar eerder aan verskeie stadiums van wetenskaplike werk begin deelneem – van literatuuroorsigte en hipotese-ontwikkeling tot kodering, portuuroorsig en data-ontleding.

“Ons is getuies van ʼn fase-oorgang,” het hy gesê. “Die rekenaarsfeer is nie bloot ʼn masjien wat syfers verwerk nie. Dit neem werklik aktief deel aan wat ons doen.”

Deur gebruik te maak van voorbeelde uit chemie, wiskunde en molekulêre biologie, het hy getoon hoe KI-stelsels reeds gebruik word om proteïenstrukture te voorspel, nuwe materiale te identifiseer en algoritmes te ontwikkel wat in staat is om voorheen hardnekkige wiskundige probleme op te los.

Tóg het hy herhaaldelik beklemtoon dat die rol van navorsers onontbeerlik bly. “Ons moet steeds ons breine en kritiese denke gebruik,” het hy gesê. “Ons moenie KI gebruik om ons wetenskap uit te kontrakteer nie.”

Petruccione het toekomstige wetenskaplike werkvloeie as fundamenteel “hibried” beskryf, wat menslike redeneervermoë met KI-gereedskap, hoëprestasie-rekenaarwetenskap en uiteindelik kwantumtegnologieë kombineer. Hy het die toekomstige wetenskaplike vergelyk met ʼn argitek of orkesdirigent – iemand wat verskeie stelsels orkestreer eerder as om alleen in afsondering te werk. “Die prentjie van die wetenskaplike alleen in ʼn donker kamer is ʼn baie romantiese beeld wat waarskynlik nooit weer sal terugkom nie,” het hy opgemerk.

ʼn Wêreldwye ongelykheidsuitdaging

Een van die sterkste temas van Petruccione se rede was die groeiende ongelykheid in globale KI-infrastruktuur. Hy het gemaan dat Afrika-universiteite gevaar loop om agtergelaat te word terwyl groot tegnologiemaatskappye miljarde dollars in KI-stelsels en rekenaarinfrastruktuur belê.

Petruccione het aangevoer dat samewerking, oop wetenskap en gedeelde infrastruktuur al hoe belangriker gaan word as Afrika-instellings hoop om globaal mededingend te bly. “Ons enigste kans op oorlewing is om saam te werk en netwerke op te bou,” het hy gesê.

Hy het voorts ʼn beroep op universiteite gedoen om onderrig- en assesseringspraktyke opnuut in reaksie op generatiewe KI-instrumente te bedink. “Die dae van opdragte vir opstelle en sulke goed is verby,” het hy gesê en aangedui dat mondelinge eksamens en sterker KI-geletterdheidsopleiding al hoe nodiger kan word.

Aan die einde van die rede het Petruccione teruggekeer na wat hy as die hoofuitdaging vir die akademie in die KI-era beskou: die behoud van intellektuele noukeurigheid terwyl tegnologiese versnelling omarm word. “Ons moet steeds ʼn bietjie natuurlike intelligensie in die kern insluit,” het hy gesê.

Tydens die besprekingsessie het Tise opgemerk dat die vraag na KI-ondersteunde literatuuroorsigte die afgelope paar jaar skerp toegeneem het, wat die Biblioteek aangespoor het om gespesialiseerde KI-gereedskap aan te skaf om navorsers te ondersteun.

  • Die Biblioteeknavorsingsweek het deur die week voortgeduur met sessies oor etiese KI-gebruik, akademiese skryfwerk, navorsingsdatabestuur, digitale gereedskap en die welstand van navorsers.

Verwante stories