Skip to main content
Banner for tabletop storytelling story
Image by: Dr Willie Knoetze
Persverklaring

Dalk moet ons almal net speel

Petro Mostert
Communications Specialist
24 Junie 2026
  • 'n Unieke gesamentlike PhD ondersoek hoe Dungeons & Dragons as 'n kragtige instrument vir leer en persoonlike ontwikkeling gebruik kan word.

’n Unieke doktorsgraad aan die Universiteite van Stellenbosch en Coventry ondersoek hoe storievertelling, verbeelding en tafelblad-rolspeletjies leer kan ontsluit en die tesis self in ’n avontuur kan omskep.

’n Nie-verbale tiener vind sy stem. ’n Tuisonderrigte leerder ontwikkel ’n liefde vir joernaal inskrywings. Die uiteinde: ‘n langdurige spanning tussen ’n groep tieners begin vervaag en hulle leer om saam te werk.

Dit klink soos die uitkoms van ’n intensiewe opvoedkundige of selfs sielkundige intervensie. Maar dit alles het rondom ’n tafel in Gordonsbaai gebeur, waar ’n diverse groep tieners tien weke lank die gewilde bordspel Dungeons & Dragons gespeel het.

Hierdie projek het die fokus geword van Willie Knoetze,’n navorser aan die Universiteit Stellenbosch (US) se unieke doktorale studie. Dit is een van die mees onkonvensionele PhD's wat uit die unieke vennootskap tussen die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit Coventry in die Verenigde Koninkryk ontstaan het.

In sy navorsing vra Knoetze 'n eenvoudige maar belangrike vraag: Wat gebeur wanneer mense tafelblad-rolspeletjies speel?

Die antwoord, blyk dit, is veel meer as wat die meeste mense sou dink.

Dit was die begin van 'n doktorsgraad gebore uit ‘n tafelspeletjie.

Knoetze se reis het in 2017 begin terwyl hy sy meestersgraad voltooi het. 'n Vriend het hom genooi om by 'n Dungeons & Dragons-speletjiegroep aan te sluit, en hy was vinnig aangetrokke tot die samewerkende storievertelling aan die tafel. Dit is byna 'n dekade sedert hy sy eerste speletjie gespeel het, en tot vandag toe, kom hierdie groep gereeld bymekaar om te speel.

As onderwyser, onderwysopvoeder en spelontwerpdosent het Knoetze iets interessants begin opmerk. "Elke keer as ons gespeel het, het ek by myself gedink: hieruit kan ek ‘n les ontwikkel."

Hoe meer hy gespeel het, hoe meer het hy leergeleenthede in die speletjie gesien. Spelers het onderhandel, probleme opgelos, stories geskryf, gekommunikeer, saamgewerk en kreatiewe oplossings vir verrassings uitgedink.

Uiteindelik het 'n kaart ontvou—een wat 'n geïntegreerde navigasie-instrument geword het en uiteindelik die hoofkenmerk van sy finale proefskrif.

In plaas daarvan om te vra hoe om speletjies vir leer te ontwerp, wou Knoetze sien watter leer reeds plaasvind wanneer mense net speel.

Hulle het my gevind

Aanvanklik het Knoetze beplan om sy navorsing in skole te doen, maar uiteindelik het die die speelgroep jongmense hom gevind.

'n Onderwyser wat met 'n selfgeorganiseerde tuisskoolgroep in Gordonsbaai gewerk het, het van Knoetze se projek gehoor en dit aan die leerders genoem. Hulle was dadelik nuuskierig en wou meer weet.

Die groep weerspieël Suid-Afrika se diversiteit. Die leerders was tussen 14 en 17 jaar oud, afkomste van verskillende rasse- en kulturele agtergronde en het verskillende huistale gepraat. Elkeen het sy unieke lewenservaring na die speeltafel gebring.  

Vir tien weke het hulle een keer per week bymekaargekom om 'n fantasie-avontuur te speel. Knoetze was die Spelmeester. Die sessies is opgeneem, en leerders het joernale vanuit hul karakters se perspektiewe bygehou en Knoetze het onderhoude regdeur die duur van die projek gevoer.

Die resultaat was veel meer as net 'n speletjie.

’n Leerder wat homself aanvanklik as nie-verbaal gesien het, het stadig een van die mees aktiewe lede in die groep geword. 'n Ander het reflektiewe joernaalhouwerk begin doen, 'n gewoonte wat lank na die projek voortgeduur het. Leerders wat aanvanklik gesukkel het om in te skakel, het begin saamwerk, probleme begin oplos en hulself as 'n span begin sien.

"Die speletjie het 'n veilige ruimte geskep waar almal kon bydra," sê Knoetze. "Die spelers het vermoëns ontdek wat hulle nie geweet het hulle het nie."

Die bevindinge het ondersteun wat baie opvoeders lank reeds geglo het: storievertelling, spel en verbeelding kan kragtige instrumente vir leer wees.

Die vennootskap wat dit moontlik gemaak het

Maar miskien die verrassendste deel is dat die projek amper nie gebeur het soos dit gebeur het nie.

Nadat die US sy doktorale voorstel goedgekeur het, het Knoetze besef dat hy kundige leiding in spelgebaseerde leer en opvoedkundige spelontwerp nodig het. Aangesien hy nie die regte toesig plaaslik kon vind nie, het hy geleenthede deur die US se internasionale vennootskappe begin ondersoek.

Daardie soektog het hom na Professor Sylvester Arnab en die Ludic Design Lab aan die Universiteit van Coventry gelei - 'n samewerking wat die hele "spel" verander het.

Deur die dubbele doktorale program het Knoetze toegang verkry tot internasionale kundiges, nuwe perspektiewe en 'n akademiese omgewing wat aangemoedig het om nuwe dinge te probeer. "Soms het dit nie gegaan oor om voorgeskryf te word wat om te doen nie," sê hy. "Dit het gegaan oor mense wat my kon help om deur die moontlikhede te dink." Die vennootskap het ook die deur oopgemaak vir 'n unieke finale tesis – een wat soos ‘n groot avontuur ontwerp is.

Laat die avontuur begin

Die meeste doktorale tesisse volg 'n vaste patrron. Jy begin by die begin en lees reguit deur tot aan die einde.

Knoetze se tesis laat lesers hul eie pad of avontuur kies.

Die werk begin met 'n geïllustreerde fantasiekaart getiteld 'n Speler se Kaart van 'n Avonturier se Tesis, geïnspireer deur 'n aanhaling van die 13de-eeuse digter Rumi:

"Jou grasieuse manier gee kleur en geur, soos stroomwater 'n landskap waardeur dit beweeg, animeer." ("Your graceful manner gives colour and fragrance, as creekwater animates a landscape it moves through.")

Die kaart dien as 'n soort "ludiese kartografie", of 'n visuele gids om lesers te help om die navorsing te navigeer.

Lesers kan verskillende paaie deur die tesis kies gebaseer op wat hulle interesseer. Eksaminatore kan dit van voor tot agter lees. Praktisyns kan direk na die praktiese gereedskap gaan. Storievertellers kan in deelnemerverhale duik, en navorsers kan die nuwe metodes agter die werk volg.

Regdeur die tesis lei ikone lesers na navorsingsvrae, deelnemerverhale, sleutelidees, nuwe metodes en praktiese hulpbronne.

Die tesis word 'n spelervaring wat jou in 'n nuwe wêreld van verbeelding dompel - 'n oop uitnodiging om te speel, een wat moeilik is om te weerstaan.

Van fantasiewêrelde tot werklike leer

Die kern van die tesis is die Fable Framework, 'n praktiese hulpmiddel wat Knoetze ontwikkel het wat met byna enige tafelbladrolspel werk.

Een van sy uitstaande kenmerke is 'n opvoubare 20-kantige dobbelsteen wat opvoeders, fasiliteerders en spelers kan uitdruk, aanmekaar sit en gooi.

Elke kant het 'n leerprompt wat refleksie, kreatiwiteit en dieper betrokkenheid aanwakker. 'n Speler kan gevra word om 'n joernaalinskrywing vanuit hul karakter se oogpunt te skryf, 'n nuwe wese te skep, te dink aan 'n besluit wat hulle in die spel geneem het, of hom te verbeel hoe dinge anders kon verloop het.

Hierdie aktiwiteite verander gereelde spel in kanse vir taalontwikkeling, kreatiewe skryfwerk, kritiese denke en selfrefleksie.

Die raamwerk is so ontwikkel dat dit nie veel verg om die spel te begin nie. Jy benodig nie duur tegnologie of toerusting nie, nie eers data nie! Al wat jy nodig het, is 'n storie, 'n paar vriende, 'n dobbelsteen en 'n bereidwilligheid om te speel. eO ja, en jy moet jou verbeeldingsdeur baie wyd oopmaak.

Ek wil saam met die wêreld speel

Knoetze se navorsing maak reeds 'n impak. Voortbouend op die projek, het die Universiteite van Stellenbosch Coventry onlangs befondsing van die Britse Raad ontvang om loodsprogramme te skep wat spelgebaseerde leer in skole en ander opvoedkundige omgewings bring.

Knoetze sê: "Die doel is om opvoeders, skole en gemeenskappe te help om hul eie leerervarings te ontwerp deur die idees uit die navorsing te gebruik."

Vir hom bly die droom steeds ’n diep menslike een, aangesien hy 'n fisiese ruimte wil skep waar mense kan bymekaarkom om te leer, te speel, stories te vertel en met mekaar te skakel.

"Ek wil saam met die wêreld speel, en ek wil hê die wêreld moet daaruit leer," sê hy.

Na jare se navorsing, honderde ure se spel, baie onderhoude en een buitengewone doktorale reis, het hy tot 'n verrassend eenvoudige gevolgtrekking gekom.

Leer begin nie altyd met 'n handboek nie.

Dit begin met 'n storie, 'n paar vriende om 'n tafel en die moed om die dobbelsteen te rol.

Van daar af neem jou verbeelding oor.

Verwante stories