Skip to main content
Tekstielwetenskapstudente ontwikkel innoverende produkte

Tekstielwetenskapstudente ontwikkel innoverende produkte

Wiida Fourie-Basson
02 November 2016

Verbeel jou 'n wêreld waar daar bekostigbare, wasbare, herbruikbare babadoeke op die mark is wat boonop net so effektief is as die 20 biljoen weggooidoeke wat jaarliks op ashope beland.  Of dink net hoe gerieflik dit sal wees om 'n "sokkie" van mikrovesel in jou winternat stewels te druk wat sal sorg dat dit oornag uitdroog, reg vir aantrek die volgende dag.

Dít is maar 'n paar van die innoverende produkte waarmee derdejaarstudente in tekstielwetenskap in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) vorendag gekom het. Dít was in reaksie op 'n uitdaging wat gerig is deur Gelvenor Textiles, 'n toonaangewende tekstielvervaardiger in Durban, Suid-Afrika.

Die studente is uitgedaag  om hulle teoretiese kennis, kreatiwiteit en inisiatief in te span om wetenskapsgebaseerde oplossings te vind vir werklike probleme deur gebruik te maak van voorpunttegnologie en -navorsing op die gebied van tekstiele.

Volgens hulle dosent, me. Adine Gericke, is die studente getrakteer op 'n interaktiewe lesing oor tekstielinnovasie, aangebied deur Tony Wardle en Sefton Fripp, tegniese tekstieleksperts van Gelvenor se OPiN360-projek. Dit is opgevolg met 'n lesing oor die nuutste ontwikkelings in chemiese tekstielstofafwerkings wat aangebied is deur verteenwoordigers van Rudolf Chemicals.

Gelvenor Textiles en Rudolf Chemicals het ook die studente voorsien van tegniese produkinligting, raad, en chemikalieë van duisende rande om hulle produkte te voltooi.

Die student het sewe weke gehad om hulle produkte te ontwerp, te ontwikkel en te toets. Daarna moes hulle hulle produkte en bevindings voordra aan 'n uitgesoekte gehoor. Sommige van die produkte wat vertoon is, sluit in:

  • 'n Wasbare, herbruikbare sanitêre doekie wat bestaan uit 'n boonste laag met uitstekende vloeistofgeleidingsvermoë, 'n ontwerp wat die vloeistofverspreiding rig, en 'n absorberende laag met antimikrobiese eienskappe. 'n Hidrofobiese afwerking op die buitenste laag voorkom dat die doekie vloeistof deurlaat (ontwikkel deur Selebale Motau en Kerrilyn Wood).
  • 'n Reuklose, nie-irriterende  tubulêr- gebreide  struktuur (wat onder ortopediese gips gedra word) om ongewenste vog weg te keer van die vel, sonder om uitermatige droogheid te veroorsaak. Die gebreide struktuur verbeter die algehele vermoë van die materiaal om vog te bestuur en die silwer afwerking voorkom die opbou van reuke en die groei van mikrobes (ontwikkel deur Jani van Wyk en Duan Mostert).
  • 'n Volkome wasbare en omgewingsvriendelike babadoek wat van 100% gebreide katoen met 'n super absorberende poliëster mikrovesel invoeging en 'n waterafwerende buitenste laag (ontwikkel deur Annerike Cronje en Hildegard du Plessis).

Ander projekte het ingesluit: 'n superabsorberende sokkie wat gebruik word om nat skoene oornag uit te droog (Marie-Christin Kempf en Chuma Gqola); 'n modieuse en liggewig reënjas om studente droog en warm te hou gedurende die reënseisoen (Chandré Matlala); 'n nanokapsule (wat kunsmis stadig vrystel) binne-in 'n afbreekbare linnehouer wat die swart plastieksakkies kan vervang waarin saailinge tans verkoop word (Lourens Kleynhans en Marikie Bruwer); 'n paslaken met 'n antimikrobiese afwerking wat ook liggaamstemperatuur kan reguleer om middernagsweet te voorkom (Simoné Groenewald en Arina Wessels); linne wat liggaamstemperatuur kan reguleer na gelang van die omliggende temperatuur (Siyabulela Mtyela en Rabia Rawoot); 'n liggewig, opvoubare poliësterstortmat met antimikrobiese en antifungus eienskappe wat jy in jou gimnasiumsak kan pak (Elmarize Oosthuizen en Simoné van Zyl); 'n waterfiltrasiestelsel gebaseer op 'n veselvliesstof  met uitstekende voggeleidingseienskappe, wat water filtreer wat uit mis of oornagkondensasie vorm (Jan du Plessis en Brenda van Wyngaardt).