Akademiese Geletterdhede
Akademiese taal is niemand se huistaal nie, maar lees- en skryfvaardighede daarin is sleutels tot akademiese geletterdhede.
Die Taalsentrum leer en help jou om hierdie vaardighede geïntegreerd te ontwikkel en te slyp. Ons kredietdraende modules oor akademiese geletterdhede fokus op akademiesetaal-vaardighede en denkstrategieë wat onontbeerlik is om suksesvol aan die fakulteite Regsgeleerdheid, Natuurwetenskappe, Teologie, en Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe te studeer.
As jou program nie ’n module in akademiese geletterdhede bevat nie en jy het hulp nodig om ’n essay saam te stel, kritiese denkvaardighede aan te wend om teks te ontleed, klasnotas af te neem of navorsingswerk op skrif te stel, kom gesels met die Skryflab. Ons gee een-tot-een- en kleingroep-skryfkonsultasies vir studente uit alle vakgebiede, ongeag op watter vlak jy in jou studies is.
Goeie akademiese leesvaardighede is noodsaaklik vir akademiese sukses, want universiteitstudies behels groot hoeveelhede voorgeskrewe leesmateriaal. Wil jy met groter begrip en gemak lees en studeer? Kort jy hulp met algemene of akademiese leesvaardighede? Sukkel jy om toetse en eksamens binne die toegelate tyd klaar te kry? Studeer jy lang ure, maar die resultate weerspieël dit nie? Die Leeslab kan help.
- MobiLex is 'n meertalige woordelysprogram wat deur die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch ontwikkel is. Dit is 'n poging om die akademiese geletterdheid van voorgraadse studente te verbeter deur vakwoordeskat wat op universiteit teëgekom word, in 'n student se huistaal te verduidelik.
- Jy kan hierdie webwerf gebruik om terme en definisies in Engels, isiXhosa en Afrikaans op te soek. Jy sal die volgende vakterminologieë hier vind: Sosiologie, Maatskaplike Werk, Sielkunde, Regte, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Teologie en Ingenieurswese. Jy sal ook terminologie vir Sokker, Krieket en Rugby vind.
Taalsentrum-blad met hulpbronne
- Het jy al ooit gewonder oor die gebruik van 'n sekere term of hoe om 'n bepaalde taalkwessie die beste op te los? Die hulpbronne op hierdie bladsy kan jou dalk help.
As toonaangewende universiteit in Afrika is die Universiteit Stellenbosch oortuig dat meertaligheid saak maak. Ons glo dat veeltaligheid meer behels as die blote vermoë om verskeie tale te kan gebruik. Ten diepste gee dit aan mense ’n stem, ongeag die taal of tale wat hulle gebruik. Meertaligheid beteken dat ons waarde heg aan dit wat gesê word, ongeag in watter taal dit verwoord word – Afrikaans, Engels, Xhosa of Suid-Afrikaanse Gebaretaal.
Dit spreek tot die diversiteit van ons land en gee ons maniere om met mekaar om te gaan waarop ons andersins nie sou kon nie. Daarom is meertaligheid ook ’n ingesteldheid. Individuele meertaligheid is ’n bate wat ons graag wil ontwikkel, want dit hou duidelike akademiese voordele in – in ons land sowel as internasionaal. Daarom skep ons die geleenthede vir individuele meertaligheid sodat mense hulle vermoë kan ontwikkel om tale of taalvariëteite in verskillende vorme en op verskillende vaardigheidsvlakke te gebruik. Enigeen wat al ’n nuwe taal probeer aanleer het, sal weet dat so ’n leerervaring jou lewe kan verander. Hoe meer jy ’n taal binne daardie taal se kulturele konteks beleef, hoe meer ontdek jy dat jy nie die verskillende tale en kulture in streng afsonderlike kompartemente in jou kop hou nie. Wat eerder gebeur, is dat jy ’n kommunikatiewe, veeltalige vaardigheid of vermoë opbou waartoe al jou kennis en ervaring van taal bydra en waarin tale onderling verband hou en op met mekaar inwerk.
Transtaling in die klaskamer is een voorbeeld van sulke veeltalige praktyke of gedrag. Hoewel dit belangrik is om ruimte te skep waar studente meganismes soos transtaling kan gebruik om informeel in die klaskamer te kommunikeer, is dit ook nodig dat studente een of meer tale formeel bestudeer om die akademiese en tegniese registers daarvan te kan gebruik.