Breadcrumb
Studente-leierskapstrukture
Studenteregeringstrukture: Hier om JOU te dien!
By die Universiteit Stellenbosch speel studentebestuurstrukture 'n belangrike rol om te verseker dat studente 'n sterk, wettige stem het in hoe die Universiteit bestuur word en hoe die studente-ervaring gevorm word.
In eenvoudige terme is hul rol om:
- studente se stemme verteenwoordig.
- deel te neem aan universiteitsbesluitneming.
- aanspreeklikheid en deursigtigheid van beide hulself en die Universiteit te bevorder.
- transformasie, inklusiwiteit en sosiale geregtigheid te bevorder.
- studente se ontwikkeling en leierskap te ondersteun.
- verskillende studentegemeenskappe te verbind deur die gaping tussen koshuis- en pendelaarstudente, voor- en nagraadse studente, en verskillende kampusse en fakulteite te oorbrug.
Studenteraad (SR)
Ingevolge die US Statuut is die Studenteraad (SR) die hoogste liggaam vir studenteverteenwoordiging en -besluitneming aan die US. Die SR se kernfunksies behels om in die beste belang van studente op te tree en om studente se regte aktief te bevorder.
Die SR fokus daarop om ’n progressiewe en florerende gemeenskap te skep waarvan studentesukses die kern uitmaak. Dit verseker dat alle studente deur die Verwelkomingsprogram en hulle studiejare heen goed ingelig en ondersteun word.
Jy is welkom om die SR-kantoor vir enige ondersteuning te besoek – in die verwelkomingstyd én daarna. E‑pos die SR met enige navrae by [email protected] of bel hulle by +27 21 808 2757.
Jy kan hulle ook besoek:
3de verdieping
Neelsie Studentesentrum
Stellenbosch-kampus
Studenteparlement (SP)
Die Studenteparlement bestaan uit twee huise: die Studente-imbizo en die Studentevergadering. Die Studenteparlement is ’n toesighoudende studenteliggaam wat ten doel het om grondwetlike demokrasie binne studenteleierskap te versterk deur verantwoordbaarheid, deursigtigheid en raadplegende regeringspraktyk in die US se studenteleierskapsgemeenskap aktief te bevorder.
Die Studentevergadering hou een maal per kwartaal gewone sittings. Studente kan punte vir ’n sitting se sakelys indien oor kwessies wat hulle onder studenteleiers se aandag wil bring. Daarby ondersoek die Studentevergadering en -imbizo oortredings van die Studentegrondwet en redelike etiese regeringspraktyk.
Akademiesebelangeraad (ABR)
Die Akademiesebelangeraad (ABR) se hoofverantwoordelikheid is om studente se regte aktief te bevorder soos in Hoofstuk 2 van die Studentegrondwet vervat – die reg op opvoeding van gehalte, akademiese ondersteuning, en deursigtige en regverdigbare assesseringsprosedures.
Die studentekomitee in jou fakulteit en ABR-leiers beskerm die akademiese belange van alle studente – ook joune – deur ’n transformerende onderrig- en leerervaring te bevorder wat studente in staat stel om akademiese sukses te behaal en help om die eienskappe van US-gegradueerdes te ontwikkel
Jy kan die ABR direk kontak deur 'n e-pos te stuur aan die Voorsitter, mnr Tyrese Human, by [email protected].
Studentehof
Die Studentehof is die regsprekende liggaam vir studente wat daarvoor verantwoordelik is om geskille te besleg tussen studente en die onderskeie studenteregeringsliggame asook tussen verenigings onderling, en om die SR se grondwetlike sake te hanteer. Dit het die mag om enige beslissing deur ’n studenteliggaam of lid van sodanige liggaam te hersien indien die regte of regmatige verwagtings van ’n student wesenlik benadeel is.
Studenteverkiesingskommissie (SVK)
Die Verkiesingskommissie is ’n onafhanklike studenteliggaam wat in die Studentegrondwet verskans is. Dit fasiliteer en bied vry en regverdige verkiesings aan vir die SR, TSR en die ex officio-strukture daarvan. Kontak [email protected] vir meer inligting oor die Kommissie.
Verenigingsraad (VR)
Die Verenigingsraad is 'n student-geleide struktuur wat alle geregistreerde en nuwe verenigings op die Stellenbosch-kampus verteenwoordig. Die Verenigingsraad bied talle geleenthede aan studente om te fokus op aspekte van hul persoonlike ontwikkeling soos leierskap en spanwerk, of om hul belangstellings te bevorder, soos navorsing en gemeenskapsontwikkeling.
Primkomitee (PK)
Die Primkomitee (PK) is ’n ex officio-liggaam wat onder die SR ressorteer. Dit bring die prim (hoofstudenteleier in elke huiskomitee oftewel HK) van elk van die 42 koshuis- en PSG’s op die Stellenbosch- en Tygerberg-kampus bymekaar. Die PK dien ook as platform waar prims saamkom om uitdagings aan te pak, mee te werk en te besin oor sake wat vir die koshuis- en die pendelaarstudentelewe van belang is.
Seniorprimkomitee (SPK)
Die Seniorprimkomitee (SPK) bestaan uit die prims van die koshuisgemeenskappe vir senior studente en die uitvoerende leiers van die nagraadse gemeenskappe. Laasgenoemde verteenwoordig die behoeftes van studente in koshuise en PSG’s vir seniors. Die SPK-voorsitter verteenwoordig die SPK as ex officio-lid in die SR.
Die Matie
Wil jy op hoogte bly van alles wat op ons kampusse gebeur? Loer dan wat staan in Die Matie, die US se koerant wat deur studente bedryf word en sedert 1941 uitgegee word. Die redaksie is tot eerlike, billike en onafhanklike joernalistiek verbind – en dit is presies wat jy daar gaan lees.
Die Matie word elke tweede Woensdag van die akademiese kwartaal gedruk en versprei. Dit is ook aanlyn beskikbaar, by diematie.com. Dis vol inligting oor alles en nog wat, van aktuele sake en US-verwante nuus, die studentelewe, kuns en vermaak tot sport. Daarby is die inhoud deels in Engels, deels in Xhosa en deels in Afrikaans.
Studenteregering Saldanha-kampus
Militêre Akademie Studenteraad (MASR)
Die Militêre Akademie Studenteraad (MASR), wat op ons Saldanha-kampus gesetel is, is ’n ex officio-liggaam wat onder die SR ressorteer en bestaan uit studente wat uit verskillende jaargroepe deur die studentekorps verkies is. Die MASR is daarvoor verantwoordelik om ’n omgewing te skep wat bevorderlik is vir leer en wat die studente aan die Militêre Akademie die beste ondersteun om akademies te slaag. Dit is ook vir die ontwikkeling van professionele militêre standaarde verantwoordelik.
Studenteregering Tygerberg-kampus
Tygerberg Studenteraad (TSR)
Die Tygerberg Studenteraad (SR) verteenwoordig die studentekorps aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) as hoogste studenteregeringstruktuur op die Tygerberg-kampus.
Die spanlede takel elke aspek van die studentelewe wat eie aan hierdie omgewing is en stel dit as hulle missie om studente se welstand te verseker deur middel van die onderskeie portefeuljes wat deur elke lid behartig word.
E-pos die leierskap by [email protected] om meer oor die TSR uit te vind.
Tygerberg Akademiesebelangeraad (TABR)
Die Tygerberg Akademiesebelangeraad (TABR) bestaan uit verkose klasverteenwoordigers uit al ses graadprogramme in die gesondheidswetenskappe.
Die TABR verteenwoordig die akademiese belange van die Tygerberg Studente-unie in die tersaaklike fakulteitstrukture en -komitees. Die liggaam bestaan uit 'n dagbestuur - waarin die voorsitter, ondervoorsitter en studenteprogramkoördineerders dien - asook ’n komitee klasverteenwoordigers en vyf ex officio-lede. Die voorsitter en ondervoorsitter dien ex officio in die ABR op die Stellenbosch-kampus, en die voorsitter dien ook in die TSR.
Jy word in alle akademiese sake deur jou verkose klasverteenwoordiger verteenwoordig. Hierdie verteenwoordiger dien ook in die TABR.
Tygerberg Nagraadsestudenteraad (TNSR)
Die Tygerberg Nagraadsestudenteraad (TNSR) verteenwoordig die nagraadse studente en hanteer hulle behoeftes. Kontak die TNSR by [email protected].
Tygerberg Verenigingsraad (TVR)
Die Tygerberg Verenigingsraad (TVR) is ’n studentgedrewe organisasie wat alle geregistreerde studenteverenigings verteenwoordig. Kontak die TRV by [email protected].
Tygerberg Primkomitee (TPK)
Die Tygerberg Primkomitee (TPK) funksioneer in parallel met die Stellenbosse Primkomitee. Dit bestaan uit al die prims van die studentegemeenskappe op die Tygerberg-kampus, asook die TPK-voorsitter en ’n sekretaris. Die TPK se rol is om medewerking tussen die verskillende studenteliggame aan te moedig, gemeenskaplike uitdagings uit te wys en gesamentlik oplossings te vind.