Skip to main content
US sit talle gesprekke oor studentegelde voort

US sit talle gesprekke oor studentegelde voort

Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
15 September 2016

​Die Universiteit Stellenbosch (US) sal gesprekke oor studentegelde voortsit met verskillende groepe binne die studentegemeenskap. 'n Klein groepie studente het die JS Gericke-biblioteek Dinsdag oornag beset. Die groep het Woensdagoggend toegang tot die biblioteek versper en Me Tonia Overmeyer, Studentedekaan van die US het in die loop van die dag met hulle in gesprek getree. Daar was Woensdag beperkte toegang tot sommige dienste by die JS Gericke-biblioteek, maar personeel het ongestoord met hul werk voortgegaan. 'n Klein groep het ook Woensdagaand in die biblioteek oornag, en Donderdagoggend aanvanklik toegang tot die gebou versper. Teen 10:30 is die biblioteek oopgestel nadat die studente besluit het om die besetting te beeïndig en die biblioteek verlaat het.

Die US is reeds sedert Mei in gesprek met studente via verskillende komitees, die Studenteraad, fakulteite en in universiteitskoshuise, asook per epos met die hele kampusgemeenskap. 'n Webblad oor studentegelde en 'n epos-adres is spesifiek vir terugvoering en kommentaar geskep: [email protected]

Die US erken die reg van studente om protesaksies te loods, mits die akademiese projek nie ontwrig word nie, personeel en studente se veiligheid nie bedreig word nie en geen skade aan eiendom aangerig word nie.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het op 6 September 2016 in die US se voorlegging by die Kommissie van Ondersoek na die Hoër Onderwys, beklemtoon dat die US vanweë die huidige ekonomiese klimaat en die druk op die regering om groei te stimuleer en werk te skep, van mening is dat gratis universiteitsonderrig nie op die oomblik haalbaar is nie. Navorsing dui daarop dat gratis hoër onderwys in ontwikkelende lande van groter waarde is vir gegoede as arm studente. Suid-Afrikaanse universiteite is ook nie by magte om besluite te neem oor gratis universiteitsonderrig nie. Instellings is vir hulle voortbestaan afhanklik van die klasgelde as een van hul bronne van inkomste en 'n besluit hieroor kan nie geneem word sonder 'n plaasvervangende verhoging van die subsidiebedrag van die regering nie.

Die US ondersteun die sektorale standpunt dat universiteite vir 2017 'n minimum styging van 8% in inkomste nodig het om huidige vlakke van akademiese gehalte en finansiële volhoubaarheid te kan handhaaf. Hierdie inkomste kan van 'n verskeidenheid bronne afkomstig wees, onder meer staatsubsidies, onderriggelde en talle private befondsingsbronne.

Die US erken egter dat Suid-Afrika se ongelyke samelewing uit ryk en hoërmiddelklasgroepe bestaan wat universiteitstudie kan bekostig, maar 'n ook 'n groot komponent laermiddelklas- en arm burgers wat nie onderriggelde kan bekostig nie. Daarom ondersteun die US 'n gedifferensieerde benadering van 'n styging in onderrig- en akkommodasiegelde wat getemper word deur finansiële ondersteuning aan akademies-verdienstelike, arm studente. Die finansiële steun word bepaal volgens 'n glyskaal op grond van 'n gesamentlike jaarlikse huishoudelike inkomste. 

Die US se eie beurse verhoog ook in ooreenstemming met stygings in onderrig- en huisvestingsgelde. Die instelling ondersteun studente met beurse en lenings wat jaarliks meer as 50% van die inkomste uit studentegelde beloop. In 2015 het die US 'n bedrag van R402,8 miljoen uit navorsingskontrakte en eie fondse aan beurse toegeken. Daarvan was R115 miljoen uit die hoofbegroting. In dieselfde jaar het sowat 38% van alle voorgraadse studente, en 70% van voorgraadse swart, bruin en Indiërstudente beurse ontvang. Hierdie vlak van studentesteun is nie volhoubaar sonder 'n jaarlikse verhoging in universiteitsinkomste nie. Die Universiteit Stellenbosch het in 2015 'n totale bedrag van R658,7 miljoen – bostaande bedrae en NSFAS-fondse - in beursgeld geadministreer.