Varsity Cup keer terug na Danie Craven-stadion
FNB UJ het dalk Maandagaand gesorg vir FNB Maties se eerste nederlaag van die Varsity Cup-seisoen, maar die maroenmasjien het steeds vir 'n tuis-halfeindstryd gekwalifiseer.
Maties het heelwat veranderinge aan sy span gemaak om van die eerstespanspelers 'n blaaskans te gee voor die halfeindstryd komende Maandag teen FNB Tuks. UJ het die wedstryd 42-16 gewen.
Ná vier rondes by neutrale stadions keer die Varsity Cup terug na die kampusse.
"Ons is baie bly dat ons die halfeindstryde en die finaal van die Varsity Cup by die kwalifiserende spanne se tuisvelde kan speel," het Duitser Bosman, hoof- uitvoerende bestuurder van Varsity Cup, gesê.
"Die ondersteuners en die gees wat hulle bring is die hartklop van die Varsity Cup en ons sien uit daarna om vanjaar se toernooi af te sluit met duisende ondersteuners wat hul spanne op hul tuisvelde ondersteun. Die kompetisie hoort op die kampusse," het hy gesê.
Die halfeindstryde sal Maandag, 4 April, plaasvind. FNB Maties speel 19:00 teen FNB Tuks in die Danie Craven-stadion. Die wedstryd begin om 19:00 en sal op Supersport 1 uitgesaai word. FNB UJ en FNB NWU-Pukke sal mekaar in die ander halfeindstryd in Johannesburg pak.