
US se eerste Tuiskoms-naweek eindig op hoë noot
Die Universiteit Stellenbosch (US) se eerste Tuiskoms-geleentheid het tot 'n einde gekom ná 'n naweek propvol geleenthede en aktiwiteite spesiaal saamgestel vir Maties-alumni. Die Tuiskoms-naweek het iets vir almal gebied - onder meer 'n Tuiskoms-skemerpartytjie saam met die Rektor en Visekansellier, prof Wim de Villiers; 'n verskeidenheid van fakulteitsaktiwiteite; die gewilde Dagbreek/Maties Straatmyl; honderde Woordfees-opvoerings; koshuisspesifieke geleenthede, insluitende Heemstede se 50ste reünie, ’n Koeksisterfees by Nemesia, Erica en Serruria, ’n spitbraai by Huis Visser en 'n Legacy Feest saam met Metanoia by De Vette Mossel. 'n Intergenerasie praatjie oor plaaslike en globale kwessies, aangebied deur die Frederick van Zyl Slabbert Instituut en gefasiliteer deur Maties-alumnus, prof Pierre de Vos, was een van die naweek se hoogtepunte. In ander dele van die wêreld val Tuiskoms-geleenthede dikwels saam met 'n groot sportgebeurtenisse op die universiteitskalender, maar die US het besluit om kragte te snoer met die US Woordfees, die literêre en kunsfees van die Universiteit Stellenbosch, wat al 'n instelling geword het sedert sy ontstaan in 2000. Die Woordfees vier die Suid-Afrikaanse geskrewe, visuele en uitvoerende kunste - 'n viering van die woord in al sy vorme - en Stellenbosch. Met 'n fokus op Afrikaans, bied die fees ook werke in Engels, ander Afrika-tale, Nederlandse en Vlaams aan. "Dit was wonderlik om alumni van heinde en verre terug te verwelkom. Ons het alumni van agt uit die nege provinsies ontmoet, en van so ver as Sao Paulo, München en Brussels. Almal van hulle het opgemerk hoe Matieland oor die jare ontwikkel het, maar tog steeds sy vriendelikheid en inklusiwiteit behou het," sê Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge. "Ons heel eerste Tuiskoms-naweek was 'n goeie begin en ons is baie tevrede met die warm en positiewe terugvoer wat ons van alumni ontvang het. Ons begin reeds vandag om planne vir Tuiskoms 2017 te maak, met die oog op ons Universiteit se eeufeesvieringe in 2018! "Ek hoop ons het daarin geslaag om ons alumni te wys dat dit altyd lekker is om terug huis toe te kom na Matieland; dat hulle alma mater goed doen en nog 'n wêreldklas-instelling is wat hoë agting geniet vir sy kundigheid in navorsing en nog steeds die Universiteit ranglyste uitklim. Ek hoop voorts dat alumni na afloop van hierdie naweek 'n hernude passie vir hierdie wonderlike plek ontdek het," sê Shaun Stuart, Bestuurder: Alumni-betrekkinge.
- Het jy idees vir #MatiesTuiskoms 2017? Stuur gerus jou idees na [email protected].