
Studentegelde en registrasie 2017
Inligting oor studentegelde, registrasie 2017 en die implementering van die staatsgesubsidieerde 8% DHOO-oorbruggingsbefondsing is deur die Registrateur, dr Ronel Retief, op Donderdag 15 Desember 2016 aan studente gestuur. Dit is opgevolg deur 'n epos op 5 Januarie 2017 rakende die DHOO-oorbruggingsbefondsing.
15 Desember 2016
Beste Stellenbosch-student
Ek vertrou dat julle ʼn welverdiende ruskans oor die vakansietyd geniet.
Oor die afgelope aantal maande was die Universiteit in gesprek met die Departement Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) en ander belanghebbers in die hoëronderwyssektor oor kwessies wat verband hou met registrasie 2017 en studentegelde.
Wat nou aandag geniet, is die implementering van die staatsgesubsidieerde 8% DHOO-oorbruggingsbefondsing vir studente van gesinne met ʼn gesamentlike huishoudelike inkomste van tot R600 000 per jaar. Op grond van die DHOO-oorbruggingsbefondsing en US-akkommodasiebeurse, is daar nie ʼn toename in onderrig- en akkommodasiegelde vir hierdie studente in 2017 nie. As jy in hierdie kategorie val, betaal jy presies dieselfde onderrig- en akkommodasiegelde vir 2017 as in 2015 en 2016.
Van die Universiteit se kant gaan ons probeer om soveel moontlik inligting te kommunikeer. Wat reeds bevestig is deur die DHOO, is dat studente uit kwintiel 1-, 2- en 3-skole (soos bepaal deur die Departement van Basiese Onderwys) en diegene wat in 2017 deur NSFAS befonds word, outomaties vir die 8% DHOO-oorbruggingsbefondsing kwalifiseer, maar dat studente uit gesinne met ʼn bruto jaarlikse inkomste van tot R600 000 – die sogenaamde “missing middle” – en wat buite hierdie twee groeperinge val, vroeg in die nuwe jaar vir die DHOO-oorbruggingsbefondsing sal moet aansoek doen. Daar sal steeds van hierdie studente verwag word om, soos in die verlede, die eerste paaiement met registrasie te betaal, maar hulle sal dan ʼn krediet van 8% op hul studenterekeninge ontvang as hulle deur die DHOO vir die oorbruggingsbefondsing geïdentifiseer word, en die Universiteit die staatsfondse daarvoor ontvang het.
Wat betref die eerste paaiement betaalbaar by registrasie, wil ek jou graag daaraan herinner dat jy vir ʼn uitgestelde betaling kan aansoek doen. Dit beteken dat jy die eerste paaiement oor drie maande (Januarie, Februarie en Maart) kan afbetaal. Wat betref uitstaande skuld, sal studente wat ʼn beurs vir 2017 ontvang wat ten minste die uitstaande skuld én die eerste paaiement vir 2017 dek, toegelaat word om te registreer.
Meer inligting oor die aansoekproses vir die DHOO-oorbruggingsbefondsing sal vroeg in Januarie 2017 beskikbaar gestel word. Vir jou gerief is ‘n doelgemaakte e-posadres vir navrae geskep: [email protected]. Hierdie e-posadres sal vroeg in Januarie 2017 geaktiveer word.
Ons is steeds deeglik bewus van die finansiële druk waaronder baie Suid-Afrikaanse gesinne voorsiening moet maak vir studentegelde. Daarom gaan die Universiteit voort om sy uiterste bes te doen om, so ver as moontlik, finansieel behoeftige studente wat akademies verdienstelik is, by te staan. Vergewis jouself asseblief van die verskillende kategorieë en vorme van finansiële hulp wat beskikbaar is.
Die volgende skakels bied toegang tot algemene inligting oor registrasie en studentegelde:
- Algemene inligting oor registrasie en studentegelde
- Styging in studiegelde (Mediavrystelling, 28 November 2016)
Vriendelike groeteRonel RetiefAangewese Registrateur
5 Januarie 2017Beste Stellenbosch-studentMet verwysing na my e-pos van 15 Desember 2016, vind asseblief inligting oor die Departement Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) se oorbruggingsbefondsing, sowel as die aansoekvorm met instruksies, soos deur die DHOO voorsien. Voltooide aansoekvorms met stawende dokumente kan na [email protected] gestuur word of, alternatiewelik, by die Sentrum vir Beurse en Lenings, Admin A in “harde kopie”-formaat ingelewer word vir verdere verwerking.Vriendelike groeteRonel RetiefRegistrateurKliek hier vir bykomende inligting soos registrasiemoontlikhede en -skedules